Geskryf deur: Stephen Rees
Ons bid vir bekerings. Ons wil hê dat ons bure, ons klasmaats, ons kollegas, die mense wat ons op die bus sien, gered moet word. In elke gebedsbyeenkoms vertel ons vir die Here graag ons wil hê dat allerhande soorte mense tot bekering en geloof in Christus moet kom. Ek wonder of ons regtig verwag dat God daardie gebede moet verhoor. Het jy al ooit daaraan gedink wat sou gebeur as Hy dit doen? Gestel daar kom oor die volgende paar jaar talle van die plaaslike mense tot bekering en word by die kerk gevoeg is? Het jy al ooit die soort probleme oorweeg wat ons nuwe broers en susters met hulle kan meebring?
Goddelose mense sal na Christus toe kom
Onthou, baie van hierdie mense sal lewens gelei het wat volgens Bybelse standaarde heel goddeloos is. Paulus noem van die mense op wat in Korinte tot geloof gekom het en by die gemeente gevoeg is: “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook” (1 Kor 6:1-11). As die Here ons gebede verhoor, moet ons van Hom verwag om sulke mense by ons getal te voeg.
Moenie Paulus se laaste sin verkeerd verstaan nie
Het Paulus gesê dat hierdie bekeerlinge heeltemal van hulle vorige sondes afgesien het? Klaarblyklik nie. As hulle het, sou dit nie nodige gewees het vir hom om hulle te waarsku nie. Wanneer hy vir hulle sê om hulleself nie te mislei nie, is dit omdat party geglo het dat hulle na hul ou sondes kan terugkeer en steeds die Koninkryk van God kan beërwe. Paulus gaan voort om te verduidelik dat om met prostitute om te gaan, ondenkbaar is vir dié wat met Christus verenig is (v.13-20). Hoekom moes hy dit uitspel? Omdat sommige nog nooit daardie eenvoudige feit begryp het nie.
Soos jy deur die twee briewe aan die kerk in Korinte lees, vind jy dat daar onder die gelowiges in daardie kerk, van wie die meerderheid uit ’n heidense samelewing bekeer is, sommige was wat teruggeval het in die ou gedragspatrone. Sommige het herhaaldelik dronk geword – selfs toe hulle vir die nagmaal byeengekom het (1 Kor 11:20-21)! Paulus was ook bang dat “wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al ’n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie” (2 Kor 12:21).
Dit het nie veel verskil van ander kerke nie. Paulus moes sulke woorde aan die gemeente in Efese rig: “As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien…” (Ef 4:28) en “moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard…” (5:18). En aan die gemeente in Tessalonika: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid” (1 Thess 4:3).
Dronkenskap, diefstal, onsedelikheid: Dit sou heerlik gewees het as al hierdie dinge bloot verdwyn die oomblik wanneer enige van God se uitverkorenes tot geloof kom. Dit is egter duidelik nie wat gebeur nie. Wanneer mense uit ’n korrupte en dekadente samelewing tot bekering kom, erken hulle dalk eers geleidelik die boosheid van sulke sondes. Transformasie kan ’n lang en pynlike stryd wees en daar kan vele terugslae en struikelings op die heiligmakingspad wees.
Kelly: ’n moderne vrou
Kyk byvoorbeeld na Kelly. Soos al die mense wat ek in hierdie artikel noem, is sy fiktief, maar tipies. Kelly het nooit haar pa geken nie. Sy het ’n string “ooms” gehad – die korttermynkêrels wat haar ma se bed gedeel het, dikwels vir net een nag. Kelly het haar ma se voorbeeld begin volg sedert sy 14 jaar oud was. Vir haar is dit amper ondenkbaar dat jy ’n vriendskap met ’n lid van die teenoorgestelde geslag kan hê wat nie seks behels nie. Seks is nie ’n groot kwessie nie. In die wêreld waarin sy grootgeword het, is dit net die manier hoe ’n aand gewoonlik eindig.
Sy het geen idee hoe ’n getroude paartjie eintlik met mekaar kommunikeer nie. Sy het nog nooit ’n man en ’n vrou sien in ’n getroue, liefdevolle verhouding sien saamlewe nie. Ten minste nie van naderby nie. Al wat sy van verhoudings weet, is wat sy uit die dekadente samelewing om haar geleer het.
Sy het egter nou tot bekering gekom. En dit is eg. Sy het onder diep oortuiging gekom oor haar sonde teen God, die feit dat sy haar hele lewe lank sonder Hom gelewe het en Hom nie verheerlik en liefgehad het nie. Sy is verstom dat Hy sy Seun gestuur het om sondaars soos sy te red. Sy sou sê die dag wat sy gedoop is, was die gelukkigste dag van haar lewe. In baie opsigte het haar lewe ongelooflik baie verander.
Tog lyk dit nie of die Heilige Gees haar oortuig het van sonde rakende buite-egtelike seks nie. Sy voel nie daar is iets fout met ’n one-night stand nie. Volgens haar benadeel dit niemand nie. Haar hele lewe lank is daar vir haar gesê dat dit niks met ander uit te waai het saam met wie jy slaap nie – solank jy niemand skade berokken nie.
Natuurlik het die ouderlinge voordat Kelly ’n lidmaat geword het, sorgvuldig verduidelik dat die Christelike standaard óf ’n getroue huwelik óf algehele onthouding is. Miskien het sy gesê ja, sy verstaan.
As ons egter drie maande later ontdek dat sy teruggeval het op ou gewoontes, sal ons geskok wees? Sy het ’n ou mansvriend raakgeloop met wie sy in die verlede ’n kortstondige verhouding gehad het. Hulle het ’n drankie saam gaan drink. Een drankie het twee drankies en toe drie geword. Hulle is saam na sy woonstel toe en die gedragspatroon wat van kleins af by haar ingeburger is, het weer ingeskop.
Sy noem die voorval terloops aan Jackie, een van haar nuwe vriende in die kerk, amper asof sy verwag dat Jackie geamuseerd sou wees. Dit is hoe al haar ou vriende op haar kortstondige flirtasies sou reageer. Sy kan nie regtig verstaan hoekom Jackie geskok is of hoekom sy sê dat sy dit vir die ouderlinge sal moet vertel nie. Kelly luister geduldig terwyl ons weer vir haar verduidelik wat die Bybel oor die huwelik en seks te sê het. Ons is nie seker of sy dit regtig inneem nie, maar sy belowe dat sy sal verander.
Dit is egter nie lank nie of ons hoor weer ’n soortgelyke gerug. Wat nou? Is dit tyd vir formele kerklike tug? Openbare teregwysing? Kerkelike sensuur? Een gemeentelid is oortuig dat Kelly lidmaatskap verbied moet word. “Ons moet dit ter wille van die kinders doen. Watter soort voorbeeld is dit vir hulle ons haar toelaat om hiermee weg te kom?” “Maar wat van Kelly?” vra ’n ander lid. “As ons haar uitgooi, gaan sy nie waarskynlik weer net terugkeer na die wêreld nie? Sal die sensuur haar werklik help om tot bekering te kom?”
Wat is ’n kerk veronderstel om te doen in so ’n geval? Is ons gereed daarvoor wanneer dit gebeur? Ons verdra ander sigbare sondes in meer ervare gelowiges. ’n Lidmaat in een kerk verloor gereeld sy humeur met sy gesin. ’n Ander bestee selfsugtig geld aan allerhande onnodige luukses. ’n Derde ooreet hom en lag dit af. Niemand het al ooit voorgestel dat hierdie broers en susters nie gelowiges kan wees en uit die kerk gegooi moet word nie. Hoeveel keer kan Kelly “struikel” voordat ons radikale stappe doen?
Koester die pasgeborenes
Dit behoort geen verrassing te wees as ons ou, gevestigde patrone van sondige gedrag aantref in pasbekeerde gelowiges nie – veral dié wat in ons goddelose en dekadente samelewing grootgeword het. Die vraag is: Hoe gaan ons hulle help om uit daardie ingewortelde patrone te breek? Hoe laat ons Kelly verstaan hoe verkeerd en skadelik sulke seksuele gedrag is? En waar gaan sy Christelike voorbeelde van goeie verhoudings kan waarneem en volg?
Hoe gaan ons Kelly ook by die kerk integreer? Verwag ons dat sy onbepaald enkellopend sal bly? Sal jy bly verheug wees dat sy met jou seun trou wat in die kerk grootgeword het? Kelly het geen idee hoe hofmakery of die huwelik daarna uitsien wat God verheerlik nie. Wie gaan haar rolmodel en mentor wees?
Wie gaan vir Shane help om van sy verslawing aan internetpornografie ontslae te raak of Julie om haar tong in bedwang te hou? Ons sidder as ons die taal hoor wat by haar mond uitkom, maar sy is nie bewus daarvan hoe lelik dit is nie – dit is die taal wat sy gehoor het vandat sy ’n baba was.
Wie gaan vir Wayne bystaan terwyl hy deur die aakligheid van onttrekking aan heroïenverslawing gaan? Wie gaan by hom sit terwyl hy deur die lang ure van die nag sit en bewe en sweet? Wie gaan aan die ander kant van die telefoonlyn wees wanneer hy oorweldig is van angs en op die punt staan om weer met sy gewoonte aan te gaan?
Op een of ander manier moet ons nuwe gelowiges kan ondersteun terwyl hulle die groot oorgang maak van die lewe wat hulle voorheen geleef het en die wêreld wat vir hulle bekend was, na die nuwe wêreld wat hulle deur Christus betree het. Ja, hulle is nuwe skepsels in Hom en die Heilige Gees woon nou in hulle. Ons vertrou op Hom om hulle treetjie vir treetjie te hervorm. Maar ons is die verpleegsters wat Hy aangestel het om vir hierdie babagelowiges te sorg. Hulle moet gevoed word, hulle moet versorg word en soms moet hulle vuil doeke skoongemaak word.
Verwikkelde lewens
Tot dusver het ons net oor sondige gedragspatrone gepraat, maar daar is ander kwessies. Talle nuwe gelowiges bring allerhande ingewikkelde omstandighede saam met hulle wat uit hul ou lewe voortspruit. Ons moet hulle help om hulle verwikkelde lewens te ontknoop.
Wayne skuld die dwelmhandelaars ’n klein fortuintjie en hulle dreig om sy bene te breek. Help ons hom om dit af te betaal of moedig ons hom aan om na die polisie te gaan, die handelaars te verkla en aan te bied om teen hulle te getuig? As hy dit doen, kan hulle baie erger dinge doen as waarmee hulle hom gedreig het. Is ons bereid om verantwoordelikheid daarvoor te neem?
Toe Julie tot bekering gekom het, was sy reeds diep in die skuld weens haar verslawing aan internet-inkopies. Haar huis kon enige tyd teruggeneem word. Ons het vir haar in die Bybel gewys dat Christene nie moet leen wat hulle geen vooruitsig het om terug te betaal nie. Wat is ons verantwoordelikheid egter nou teenoor haar? Gaan die kerk haar uit die verknorsing help? Wie van ons gaan ons huis vir haar oopmaak as sy haar huis verloor? As ons haar wel deur hierdie krisis kry, wie gaan haar help om haar geld te bestuur totdat sy geleer het om dit self te doen?
Charlie het nog nooit gereeld werk gehad sedert hy die skool verlaat het nie. Hy verkies om van die staat se welsyngeld te lewe, voordele op te eis en dit aan te vul met loswerkies. Hy weet nou dat Christene met “harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien”, maar watter kans het hy om ’n werkgewer te oorreed om hom in diens te neem sonder enige opleiding, geen ondervinding en geen verwysings nie? Wat is ons verantwoordelikheid? Ons sal vir hom sê ons bid vir hom, maar is dit waar dit eindig?
Hassan is onwettig in die land. Moet hy homself aan die owerhede oorgee en die gevolge dra? Sally was ’n gewoonte winkeldief. Moet sy teruggaan na die winkels waar sy goed gesteel het en aanbied om te betaal vir alles wat sy gevat het? As die antwoord “ja” is, hoe gaan ons haar ondersteun?
Verdraaide gesinne
Dit sal geduld, moed en opoffering verg om enige van hierdie verdraaide situasies te ontknoop. Daar is egter ander situasies wat nog groter eise sal stel. Die verbrokkeling van die huwelik in ons samelewing en die toename in “alternatiewe” leefstyle het dilemmas geskep waarvoor daar skynbaar geen antwoorde is nie.
Neem ’n tipiese scenario. Jane het haar geloof in Jesus bely. Nou wil sy ’n lidmaat van die kerk word en vra om gedoop te word. Daar is net een probleem. Sy woon al die afgelope tien jaar saam met Nigel. Hulle het drie kinders, maar hulle is nie getroud nie.
Wat moet gebeur? Vir sommige lidmate is die saak duidelik. Sy moet Nigel verlaat, die kinders neem en so ver moontlik kontak met hom verbreek. Dit is ondenkbaar dat die kerk iemand sal toelaat om ’n lidmaat te word as hulle saam met iemand woon sonder om getroud te wees. Dit is ewe ondenkbaar dat Jane as ’n gelowige met ’n ongelowige moet trou.
Ander is nie so seker nie. Miskien moet die kerk Nigel en Jane se verhouding as ’n “burgerlike verbintenis” beskou en die beginsels van 1 Korintiërs 7:13 toepas.
Ongelukkig sien Nigel dit nie so nie. Hy beskou nie sy verhouding met Jane as ’n huwelik of burgerlike verbintenis nie. Hy sê die huwelik is ’n betekenislose en verouderde instelling. Hy gaan verder. Hy sê dat as enige van die twee partye moeg word vir die verhouding, staan dit hulle vry om dit te verlaat.
Vir party kerklede is dit genoegsame bewyse. Jane moet vir Nigel verlaat. Ander verskil van hulle. Volgens hulle moet Jane ter wille van die kinders ten minste vir eers by Nigel bly, maar sy moet in die spaarkamer intrek en vir Nigel sê dat sy nie meer by hom gaan slaap nie. Ander sê dit is duidelik dat Jane en Nigel aan mekaar verbind is: Ons moet hulle eenvoudig aanspoor om getrou aan mekaar te wees en te bid dat Nigel tot bekering sal kom.
Wie is reg? Is jy seker? Daar is baie op die spel: die eer van die Here; die behoeftes van ’n siel vir wie Christus gesterf het; die versorging van ’n gesin – hoewel inderdaad een wat nie ooreenstem met Bybelse norme nie. En terwyl die lidmate daaroor debatteer, wil Jane net graag gedoop word en saam met medegelowiges nagmaal gebruik.
Ingewikkelde verhoudings
Daar kan verdere komplikasies wees. Kyk byvoorbeeld na Lewis. Hy het met Amelia getrou, haar ná drie jaar verlaat en woon sedertdien saam met Rhoda. Lewis en Rhoda het nou twee kinders met ’n derde op pad. Hulle het beplan om te trou sodra Lewis se egskeiding gefinaliseer is, maar nou het hy tot bekering gekom. Amelia voel steeds iets vir Lewis en sal bereid wees om hom te vergewe en oor te begin. Dit sou egter beteken dat Lewis vir Rhoda en hulle twee – binnekort drie – kinders moet verlaat.
Weereens is gemeentelede verdeeld. Sommige sê dat Lewis en Amelia steeds in God se oë getroud is en dat Lewis na haar moet terugkeer. Elke dag by Rhoda is ’n dag in owerspel. Ander sê dat Lewis se huweliksband deur sy owerspel verbreek is. Sy eerste verantwoordelikheid is nou om die beloftes wat hy aan Rhoda gemaak het na te kom en na sy kinders om te sien. Hy moet so gou moontlik met Rhoda trou. Ander sê weer dat hy al twee verhoudings as iets van die verlede moet beskou en as ’n enkellopende man oor moet begin.
Lede stry ook of Lewis se doop uitgestel moet word totdat sy huweliksituasie op die een of ander manier opgelos is. In Handelinge is dit duidelik dat nuwe gelowiges gewoonlik gedoop is op die dag toe hulle tot bekering gekom het. Onder hulle moes daar sekerlik dié gewees het wat hulle in soortgelyke situasies soos Lewis of Jane bevind het. Kan ons vandag daardie presedent nog volg?
Hoe deurmekaar kan situasies raak? In ons huidige samelewing blyk daar amper geen grense te wees nie. Die Here kan iemand red wat gelyktydig in twee of meer ernstige verhoudings betrokke is. In sommige gevalle kan daar selfs twee gelyktydige huwelike wees. Ahmed is amptelik onder staatsreg met Samina getroud, maar het ’n tweede vrou met wie hy ook volgens Islamitiese wet getroud is. Hy het kinders by al twee vroue. As hy gered is (en wie weet, miskien sal al twee vroue ook nou hulle geloof in Jesus bely), wat dink ons moet hy doen?
Wat van dié wat tot bekering gekom het en ’n homoseksuele leefstyl het? Sandra en Jessica is al 15 jaar lank saam en is “getroud”. Hulle het ’n dogter van agt jaar wat in vitro verwek is uit een van Sandra se eierselle wat met ’n skenker se sperm geïnsemineer is. Die bevrugte eiersel is in Jessica se baarmoeder ingeplant en sy is die een wat geboorte geskenk het.
As Jessica tot geloof kom, wat moet sy doen? Wat is haar verantwoordelikheid teenoor Sandra en teenoor die kind wat hulle (saam met ’n naamlose man) in die wêreld gebring het? Ons sê vir haar sy moet die pseudo-huwelik beëindig, maar kan sy voortgaan om in dieselfde huis as Sandra te bly sodat hulle hul dogter saam kan grootmaak? Of moet sy alle kontak met Sandra verbreek en veg vir alleentoesig oor die kind?
Nuwe dilemmas
Dan is daar al die bisarre situasies wat uit die “transbeweging” voortspruit. As iemand tot bekering kom nadat hulle van geslag verander het (transitioned), sê ons dat hulle dit moet laat omkeer? As hulle chirurgie ontvang het om by hulle nuwe “identiteit” te pas, dring ons dan daarop aan dat hulle Chirurgies moet omkeer? Wat as hulle nou wettig getroud is? Wat is die status van daardie huwelik volgens ons?
Simon het agt jaar gelede van ’n man “oorgeskakel” na ’n vrou en staan sedertdien as Simone bekend. Simone het vyf jaar gelede met Thomas getrou. Thomas het ’n seuntjie uit ’n vorige huwelik. Daardie seuntjie wat nou agt jaar oud is, beskou “Simone” as sy ma – die enigste ma wat hy kan onthou. Wat is Simon se verantwoordelikheid teenoor Thomas en daardie seuntjie?
Een gemeentelid haal uit 1 Korintiërs 7 aan. Paulus dring daarop aan dat “elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het … As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand ’n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. As jy ’n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik … Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.” (vers 17-24).
“Ja, maar…” sê ’n ander. “Besnydenis tel in elk geval nie. Dit is nie sondig om besny of onbesnede te wees nie. Dit is nie sondig om ’n slaaf te wees of om vry te wees nie, maar elke dag wat Simon as ’n vrou lewe, hou hy ’n leuen voor. Dit is sondig.”
“Ja, maar…” sê ’n derde. “Beloftes is tog heilig – selfs beloftes wat in onkunde en dwaasheid gemaak is. Thomas het Simon vertrou op grond van die geloftes wat Simon afgelê het. Het Simon nie nou die een of ander verantwoordelikheid nie?
Hoe die situasie ook al opgelos word, dit gaan morsig wees en mense gaan seerkry. Is ons gereed vir daardie soort gemors?
Gevalle wat kerke verdeel
As die Here mense uit die wêreld red, gaan ons gekonfronteer word met talle uiters ingewikkelde situasies, sommige wat jou sal verstom; gevalle wat die kerk baie maklik kan laat skeur. In plaas daarvan om ons te verheug dat die Here beskadigde, verwarde mense red, kan dit in ’n bakleiery ontaard oor hoe ons die verskillende sake moet hanteer. Ek het slegs ’n paar van die uitdagings en vrae uiteengesit. Het ek enige antwoorde? Nie baie nie. Maar hier is vier prioriteite:
- Ons moet voorbereid wees
Terwyl ons bid dat mense tot bekering kom, moet ons ook bid vir die wysheid en genade wat ons nodig het om al die dilemmas en komplikasies te hanteer. Ons moet nou reeds oor die betrokke Bybelse beginsels dink. As ons dit los totdat ons te doen kry met die soort situasies wat ek beskryf het, gaan dit te laat wees.
- Ons moet realisties wees
Die feit is dat daar in baie van hierdie situasies nie net een regte antwoord is nie. Ons moet aanvaar dat watter koers ons (of ons nuwe broer of suster in die Here) ook al inslaan, daar pynlike gevolge sal wees. Dikwels sal dit ’n geval wees om die opsie te kies wat die minste skade gaan berokken. As ’n man byvoorbeeld beloftes van getrouheid aan twee vroue gemaak het, moet hy óf sy beloftes aan een breek, óf albei, óf hy moet voortgaan met ’n poligame leefstyl. Daar is geen regte optrede nie. Nie een van die opsies pas by God se wil vir die mans en vroue wat hy geskape het nie.
- Ons moet nederig wees
Ek is dalk baie seker dat ek weet wat die beste plan van aksie in ’n komplekse situasie is, maar ’n ander ervare Christen mag dalk nie met my saamstem nie en ewe seker wees dat hy/sy reg is. Waar daar nie een regte optrede is nie, kom dinge neer op persoonlike oordeel. Ek het geen reg om te aanvaar dat my oordeel beter is as iemand ander s’n is nie.
- Ons moet dié respekteer wat die spesiale verantwoordelikheid het om herders te wees vir nuwe gelowiges en die kerk te lei
Baie evangeliese kerke werk volgens gemeentelike beginsels. In sulke kerke word al die lidmate geraadpleeg oor belangrike sake soos die goedkeuring van kandidate vir doop of kerklidmaatskap. Sulke sake word deur ’n meerderheidstem in ledevergaderings besleg.
Christene stem dalk nie saam of dit die Bybelse benadering tot kerkregering is al dan nie, maar wat ook al jou siening oor daardie kwessie is, dit is duidelik dat die Nuwe Testamentiese kerke leiers gehad het en dat daar van ander lidmate verwag is om hul wysheid en oordeel te respekteer. Voorgangers (ouderlinge en pastore) word geroep om die kerk te bestuur en te versorg soos ’n vader sy huishouding bestuur (1 Tim 3:4-5). Kerklidmate word beveel om “aan julle leiers gehoorsaam te wees” (Heb 13:17). As die lede van ’n kerk ooit stem om die oorwoë raad van hulle leiers te verwerp, is dit ’n verklaring dat hulle nie die leiers se oordeel of geskiktheid om te lei meer vertrou nie. Dit sou die kerk in ’n krisis dompel.
Dit is veral waar as dit die soort kwessies betref wat hier aangeraak is. Kerklede moet hul leiers vertrou terwyl hulle die komplekse situasies hanteer wat die lewens van nuwe gelowiges kenmerk.
Die feit is dat die meeste gemeentelede nie alles oor die fynere besonderhede van daardie situasies sal weet nie. Sou dit reg wees om al die hartseer besonderhede van elke moeilike verhouding voor ’n kerkvergadering bloot te lê? Moet elke kerklidmaat weet onder watter omstandighede Len en Carrie bymekaar uitgekom het en hoekom hulle dogter nie soos een van hulle twee lyk nie? Moet hulle elke vernederende detail weet van hoe Phil en Sandie hulleself so diep in die skuld gekry het? Moet hulle weet van elke kriminele oortreding op Calum se rekord of dat Livia as kind mishandel is en dat dit haar sielkundig beïnvloed het?
Daar sal gevalle wees waar die ouderlinge tot ’n besluit sal kom oor wat die beste is, maar nie al die redes aan die kerk sal kan verduidelik nie. Die kerk moet eenvoudig sy leiers vertrou en luister terwyl hulle verduidelik hoe die gemeentelede nuwe gelowiges die beste kan liefhê, ondersteun en verwelkom ondanks al die ingewikkelde kwessies wat hulle met hulle saambring.
Jou broer was verlore en is gevind!
Die Here Jesus het sondaars verwelkom; ons moet ook. Om die jonger broer van die verre land en die varkhok terug te verwelkom, is dalk die moeilikste ding wat ons al ooit gevra is om te doen. Ons moet dit egter doen. Kom gaan voort om vir wonderlike bekerings te bid, maar laat ons gereed wees om almal wat die Here vir ons stuur, met ope arms te ontvang.
STEPHEN REES – pastoor van Grace Baptist Church, Stockport. Hy is ’n reisende prediker en konferensiespreker.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 01/12/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.