Geskryf deur: TWR
Artikelbron: twr.org
“Hulle het gesê hulle gaan die stasie afbrand,” onthou Enos Changulo.
God het ’n konfrontasie wat tot hierdie dreigement gelei het, ten goede laat meewerk. Dit het selfs gelei tot samewerking tussen die strydendes in ’n plek vol uitdagings. Vir Changulo was dit egter ’n moeilike oomblik.
Ten tye van die konfrontasie was Changulo die senior programvervaardiger by TWR Kenia se stasie in Garissa. Hy is tans die Vennootskap en Hulpbron Bestuurder vir TWR Kenia in Nairobi.
Alhoewel Nairobi en Garissa slegs 400 km van mekaar geleë is, verskil hul hemelsbreed wat godsdiens betref. Waar die oorgrote meerderheid inwoners van Nairobi hulself met Christenskap vereenselwig is die Somaliërs van Garissa oorwegend Moslem.
Om dus ’n Christen-radiostasie in Garissa onder dergelike omstandighede te bedryf verg moed en durf!
Die Pew Research Centrum beraam dat ongeveer twee miljoen Somaliërs buite die land woon waarvan die meerderheid in naburige Kenia gevestig is. Meer as 99% van alle Somaliërs, hetsy in Somalië of buite die landsgrense, is Moslems.
Die Somaliërs is een van die groepe wat TWR in 2024 in ons jaarlange fokus op “Bereik die Laastes”, uitlig.
Enos Changulo vertel dat ’n plaaslike Islamitiese leier in Garissa en sy volgelinge wat aan die fundamentalistiese Wahhabi-sekte behoort, verantwoordelik was vir die voorgenoemde konfrontasie met die TWR-span.
“Hulle het gesê dat hul wel van ons programme hou, maar dat daar ‘gif’ in die programme is wat tot hul haat aanleiding gee.”
Bereik die Wêreld Jesus sê in Matteus 24:14 dat die Evangelie aan alle nasies verkondig sal word. Die polsslag van TWR is om inderdaad die Evangelie na alle nasies deur middel van media te neem. Met ons strategiese, reuseradiosenders en ons vermoë om die Goeie Nuus oor sosiale media deur video’s en die Internet te verkondig, is ons toegerus om selfs moeilik bereikbare groepe soos die Somaliërs te bedien.
“Ons algehele strategie,” sê TWR se Jon Fugler wat aan die hoof van TWR se programinhoud staan, “is om die hele wêreld met die Evangelie te bereik. Ons is toegerus”, sê Jon. “Met die nodige fasiliteite buite hierdie lande om die verkondiging van die Evangelie binne daardie lande moontlik te maak.” TWR het sedert sy stigting in 1952 met ander organisasies saamgewerk om die Evangelie van Christus Jesus na die wêreld te neem. Daar is egter menigte mense op aarde wat steeds wag om te hoor. Die Josua Projek beraam dat 7 385 van 17 442 groepe ter wêreld – meer as 42% – as “onbereik” beskou moet word aangesien daar nie genoeg Christene onder hulle is om die geloof uit te brei sonder hulp van buite nie. So veel as 961 van hierdie groepe bevind hul in Afrika.
’n Nabye blik In 2024 sal ons 11 van hierdie groepe van nader beskou, beginnende met die Somaliërs. Nóg ’n groep in Afrika waarop ons sal fokus is die Hausa van Nigerië. In ons verkenning van die Somaliërs sal ons meer van Enos Changulo te hore kom. Ons kyk hoe Africa Women of Hope die Bybelse waarheid liefdevol met Somaliërs deel, en ons bekom insigte van ’n Noord-Amerikaner wat by die Somaliese diaspora betrokke is. Maar wat het toe nou verder met die stasie by Garissa gebeur? U sal verheug wees om te hoor dat dit genadiglik nie afgebrand is nie!
“Daar kom ’n tyd om standpunt in te neem en te sê: ‘Laat gebeur wat moet gebeur,’” sê Changulo. “So, gaan brand dit af, maar dít gaan ons nie verhoed om steeds die boodskap na julle mense uit te saai nie, ongeag waar julle, julle ook al bevind.”
Changulo sê die afgevaardigdes het sy antwoord aanvaar en ’n opvolggesprek vir die volgende dag versoek. Daardie drie-uurlange gesprek het tot wedersydse respek gelei. Changulo en die Wahhabi-leier het selfs vriende geword! Die stasie het ook ’n weeklikse program geloods oor kwessies van die dag wat deur Islamitiese geestelikes en ’n Christen sendeling aangebied word. Enos Changulo, wat die Garissa-stasie in 2010 bestuur het, het vrede in die vooruitsig gestel.
In 2015 is die gemeenskap erg getraumatiseerd deur ’n terroriste aanval op die plaaslike universiteit waarin 148 mense gedood is. TWR Kenia het vervolgens ’n nuwe uitsaaistrategie aangeneem, naamlik om Garissa per satelliet vanuit Nairobi te bereik. TWR Kenia maak vandag steeds gebruik van die internet om programme aan die senderterrein in Garissa te lewer waar ’n kantoor onderhou word. Hetsy oor die luggolwe of op grondvlak, bly dit TWR se strewe om al méér mense wat nog nie die Naam van Jesus gehoor het nie, met die Blye Boodskap te bereik.
Sluit in 2024 by ons aan! Ons sien uit na die dag waarop ons “’n groot menigte wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale…voor die troon en voor die Lam” sal aanskou. (Openbaring 7:9b)
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 01/12/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.