Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: incontextinternational.org 

Gister (30 November) het Israel en Hamas ter elfder ure ’n ooreenkoms gesluit om die ses dae lange skietstilstand met ’n verdere dag te verleng, in ’n poging dat bemiddelaars kan voortgaan om aan ooreenkomste te bewerk, ten einde gyselaars wat in Gasa aangehou word vir Palestynse gevangenes uit te ruil.

Teen Woensdag (29 November) is 70 Israeli’s, asook 27 gyselaars van ander nasionaliteite vrygelaat. Dit het ook daartoe gelei dat 180 Palestyne uit Israelse tronke vrygelaat is en honderde humanitêre vragmotors Gasa binnegegaan het. Die uitruil van Israeliese gyselaars vir Palestynse gevangenes is lankal reeds ’n praktyk in die Arabiese-Israelse konflik.

Die 70 Israelse gyselaars wat tot dusver vrygelaat is, het slegs vroue en kinders ingesluit, terwyl die vrygelatenes van ander nasionaliteite ook ’n paar mans ingesluit het. Die 180 Palestyne wat vrygelaat is, het vroue en kinders ingesluit (meestal tienerseuns tussen 16 en 18 jaar oud), waarvan sowat 80% nog nie aangekla of verhoor is nie (vir oortredings wat wissel van klipgooi tot poging tot moord). Die oorgrote meerderheid is gevange gehou ingevolge Israel se “administratiewe aanhoudingsbeleid” – ’n praktyk wat Israel in staat stel om Palestyne onbepaald sonder aanklag of verhoor, tronk toe te stuur. Die vrylating van hierdie gyselaars en gevangenes het wydverspreide, vreugdevolle wederontmoetings aan beide kante tot gevolg gehad. Emosies word getemper deur die feit dat daar steeds gyselaars in Gasa aangehou word en, volgens ’n lys wat deur Israel opgestel is, nog Palestyne, wat vir vrylating in aanmerking kom, steeds in die tronk is.

Dit het meer as ses weke se onderhandelinge geneem om die tydelike skietstilstandsooreenkoms te bereik – waartoe op Woensdag, 22 November ooreengekom is en op Vrydag, 24 November geïmplementeer is. Kort ná Hamas se aanval op 7 Oktober het die regering van Katar – ’n jarelange tussenganger tussen Hamas en Israel – na die Amerikaanse regering uitgereik om te bespreek hoe om die vrylating van diegene wat deur die militante groep gevange geneem is, te verseker. Tydens hierdie gyselaarsonderhandelinge het bemiddelaars van Katar, tesame met diegene van Egipte en Amerika voor die moeilike taak te staan gekom om die strydende partye van diplomasie te oortuig terwyl daar geen vertroue tussen die twee kante bestaan het nie.

Daar is ’n fyn lyn vir die klein, gasryke nasie, Katar om betrekkinge met militante groepe (waarvan sommige as terroriste-organisasies geklassifiseer is) te handhaaf en sy noue veiligheidsbande met Amerika behoue te laat bly. Katar het sedert 2012 ’n oorsese politieke kantoor vir Hamas gebied, wat Katar in staat stel om ’n mate van invloed oor die militante groep se besluitnemers uit te oefen. Toe dit blyk dat die skietstilstand-ooreenkoms Saterdag besig was om te ontrafel, het bemiddelaars van Katar in Israel geland – die eerste openbare besoek deur Katarese amptenare aan Israel, wat ’n buitengewone oomblik was vir die twee lande, wat geen amptelike diplomatieke betrekkinge het nie. Dit het ook die groot rol beklemtoon wat die klein emiraat speel om verskille tussen vyande te oorbrug weens sy noue betrekkinge met militante- en terroriste-organisasies.

Volgens ontleders het beide Israel en Hamas ’n belang daarby om die tydperk van kalmte te verleng, ondanks geweldige verskille. Terwyl groter vrae ontstaan oor wat ná die oorlog gaan gebeur, sê ’n Katarese amptenaar wat met The Associated Press (AP) gepraat het (op voorwaarde van anonimiteit weens die sensitiwiteit van voortgesette onderhandelinge), sy land bly gefokus op dit wat onmiddellik moontlik is, naamlik die handhawing van die wapenstilstand en die voorkoming van ’n streeksoorlog wat Iran of Libanon se Hezbollah-militante kan betrek.

“Daar is geen konflik wat op die slagveld begin en geëindig het nie,” het Majed al-Ansari, woordvoerder van Katar se ministerie van buitelandse sake, Maandag (27 November) aan AP gesê. “Aangesien gyselaars vrygelaat word en daar ’n verposing in die gevegte is, kan ons dalk nóú ’n oplossing vind.”

Die kritieke rol van diplomasie – die kundigheid en vernuf ten opsigte van die handhawing van vreedsame verhoudings tussen nasies, groepe, of individue (National Geographic) – in ’n poging om ’n oplossing vir die dekadeslange konflik tussen Israel en die Palestyne te probeer vind, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die aanvanklike, brutale aanval deur Hamas het tot die dood van 1 200 Israeli’s gelei, terwyl die verdedigingsaanvalle deur Israel sowat 14 000 mense van Gasa se lewens geëis het.

Die ontsettende verlies aan lewens het wêreldwyd ’n luiderwordende oproep vir ’n permanente wapenstilstand tot gevolg gehad. Al weet ons uit die Skrif dat die oorlog rondom Israel sal voortduur tot en met Christus se wederkoms, beteken dit nie dat ons nie ambassadeurs van vrede in die streek moet wees nie. Geregtigheid en vrede is twee fundamentele aspekte van Christus se karakter en behoort onmisbare elemente te wees wanneer daar gepoog word om so ’n diepgewortelde konflik op te los.

As nasies soos Katar, Egipte en Amerika met ’n ander oplossing as oorlog mee vorendag kan kom, behoort Christene sekerlik aan die voorpunt van sulke pogings te wees. Aangesien ons egter weet dat ewige, fisiese vrede nie moontlik is in hierdie gevalle wêreld nie, en meer spesifiek die oorlog rondom Israel, behoort ons te fokus daarop om geestelike vrede in soveel mense se harte as moontlik te bring. Dit begin daarmee om ander deur Christus se oë te sien, as mense wat na Sy beeld geskape is, ongeag hoe ver ons almal in sonde verval het.

Hierdie jongste oorlog het die mees verreikende verdeeldheid in die samelewing, gesinne en gemeenskappe tot gevolg gehad. Die Kerk is nie gespaar nie, aangesien gelowiges hulle skaar by wat hul Bybelse interpretasie van die Skrif is. In die proses kan ons egter nie diegene wat in hierdie oorlog vasgevang is hulle menslikheid ontneem nie, ongeag aan watter kant hulle is nie. Ons behoort ook nie in die strik om lyding te probeer vergelyk te trap nie – aangesien daar wydverspreide lyding aan beide kante is. Wat sou Christus wou hê dat ons moet doen? Jesus is dié Vredevors, daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie. Ware en blywende vrede kan slegs in hierdie streek heers wanneer Hamas, die Palestyne en Jode na Christus toe draai met hul hele hart. Nog ’n manier waarop mens in hierdie wêreld ’n voorsmakie van vrede kan kry, is deur God se kinders, wat ’n soort vrede bied wat die wêreld nie kan gee nie (Johannes 14:27). Omdat ons as gelowiges die verantwoordelikheid het om “vredemakers” te wees in ’n wêreld vol konflik en haat, moet ons verander word, deur ons denke te vernuwe (Romeine 12:2), sodat ons Sy hart in die saak kan onderskei en dit wat Hy van ons verwag. Wanneer Paulus van die vernuwing van ons denke praat, dui dit daarop dat ons vooropgestelde idees, vooroordele, partydigheid en wêreldse sienings uitgedaag word, maar dit is presies wat ons moet doen as ons ooit die soort hemelse ingryping wil bied wat Christus bied.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid vir ’n permanente wapenstilstand wat tot konstruktiewe diplomasie sal lei wat eer aan die Here sal bring;
  • dat die Here Sy “balsem van Gilead” sal uitstort – ’n geestelike en fisiese genesing – oor diegene wat deur hierdie oorlog geraak is; en
  • dat Sy kinders draers van Sy vrede, genesing en versoening sal wees.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 01/12/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here