Tuesday, February 18, 2025
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat gelowiges inlig en op hoogte van nuus en aktuele sake hou vanuit ’n Christelike perspektief wat ’n Bybelse wêreldbeskouing voorstaan. 


“Dit is die nasie wat nie na die stem van die Here hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde.” – Jeremia 7:28

Ons lewe in ’n gevaarlike era waar selfs die media nie vertrou kan word nie. Daar was al gevalle waar invloedryke magte soos politici die media beïnvloed het om bevooroordeelde nuus te rapporteer ten gunste van sulke invloedryke magte. Dit is nie net waar vir plaaslike nuusstasies nie, maar ook waar op ’n globale en internasionale skaal. Allerhande taktiek soos fopnuus en klikstrikopskrifte word gebruik, maar daar is ook ’n werklike gebrek aan kontrolering van feite.

In hierdie era waar ons kultuur al hoe verder wegdwaal van God se orde en Sy waarhede, is dit so belangrik om bewus te wees van wat jy inneem en waarmee jy jouself vul. Spreuke 4:23 waarsku ons: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” As jy keelvol is vir bevooroordeelde nuus, het die tyd aangebreek om jouself met kennis te begin bemagtig deur jou eie navorsing te doen. Moenie dinge sommer net aanneem of aanvaar nie, veral nie nuuswebtuiste nie. Byna almal het ’n agenda of ’n subjektiewe aanslag.

Hier by JUIG!Nuus is ons vurig oor die Evangelie. Ons doen alles in ons vermoë om die Here se Koninkryk hier op aarde te bevorder deur Christene vanuit ’n Bybelse wêreldbeskouing toe te rus en in te lig. Ons het hierdie nuuswebtuiste geskep wat daagliks oor Christen-nuus binne Suid-Afrika asook die res van die wêreld berig. Maak asseblief seker dat jy op ons weeklikse nuusbrief inteken om op hoogte te bly van wat oral in die wêreld aangaan vanuit ’n Christelike perspektief.

“Die Here het bekend gemaak: ‘Daar is goeie nuus …’” – Psalm 68:12

Waardes

  • Streef na uitnemendheid en integriteit in alles
  • Beveg die satan, en nie ons broers en susters in Christus nie
  • Respekteer alle Christen-denominasies
  • Streef daarna om die Liggaam van Christus te verenig
  • Evalueer alles in die lig van die Skrif
  • Spoor lesers aan om sout en lig te wees in die gemeenskap, volgens hul Bybelse mandaat
  • Moedig leserdeelname aan
  • Motiveer lesers om tot aksie oor te gaan
  • Fokus op oplossings
  • Fokus op oplossings
  • Neem persoonlike Verantwoordelikheid
  • Publiseer nie fopnuus of misleidende artikels nie

Geloofsverklaring

  • Ons glo die Bybel is die geïnspireerde, onfeilbare en gesaghebbende Woord van God.
  • Ons glo in een God, alomteenwoordig in drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees.
  • Ons glo in die godheid van ons Here Jesus Christus, Sy maagdelike geboorte, Sy sondelose lewe, Sy wonderwerke, Sy plaasvervangende en versoenende dood deur Sy bloed wat gestort is, Sy liggaamlike opstanding, Sy hemelvaart na die regterhand van die Vader en in Sy persoonlike liggaamlike terugkeer in krag en heerlikheid.
  • Ons glo aan die teenswoordige bediening van die Heilige Gees deur Wie se inwoning dit vir Christene moontlik is om godvrugtig te lewe.
  • Ons glo aan die opstanding van die geredde gelowiges sowel as ongereddes; die Ewige Lewe vir vrygekooptes en die ewige verdoemenis vir die verlorenes.
  • Ons glo aan die geestelike eenheid van gelowiges in ons Here Jesus Christus.
  • Ons glo dat wedergeboorte deur die Heilige Gees absoluut noodsaaklik is vir die redding van verlore en sondige mense. Redding is deur die genade van God alleen, op grond van Christus se boetedoening aan die kruis en geloof in Hom.

Vir algemene navrae:
info@juig.co.za

“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
– Johannes 17:20-21.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.