Geskryf deur: Donnelly McCleland Artikelbron: www.incontextinternational.org 

Die voortgesette Oekraïne-Rusland-oorlog, sowel as die onlangse Israel-Gaza-konflik, het kommer in ander onbestendige streke en historiese konflikgebiede in die wêreld verhoog. Op Donderdag, 12 Oktober, het Taiwan se minister van verdediging, Chiu Kuo-cheng, gesê ’n spesiale taakmag is op die been gebring om die lesse, wat uit die verrassingsaanval deur Hamas op Israel geleer kan word, te bepaal. Taiwan ervaar toenemende militêre en politieke druk van China, wat dit as deel van sy grondgebied beskou, insluitende twee groot Chinese oorlogsoefeninge naby die eiland sedert Augustus 2022.

Suid-Korea se minister van verdediging, Shin Won-sik, het op 10 Oktober ook aan joernaliste gesê dat hy sal aandring op die opskorting van ’n inter-Koreaanse militêre ooreenkoms ten einde waarneming op die voorste linies van hul teenstander, Noord-Korea, te hervat, omdat Hamas se verrassingsaanval op Israel kommer in Suid-Korea oor soortgelyke aanvalle deur die Noorde laat onstaan het.

Tot dusver was die primêre reaksie om sekuriteit op te skerp, militêre besteding te verhoog, samewerkingsooreenkomste en wedersyds voordelige ekonomiese verhoudings te herroep en om “die ander” vir die duiwel uit te maak. Daar is egter duidelike bewyse uit beide die oorloë (Oekraïne-Rusland en Israel-Hamas) dat ’n toename in sekuriteitsapparatuur soos hoëvlaktegnologie waarneming, mure/heinings, grense, geheime-intelligensie-operasies en soortgelyke maatreëls, uiteindelik onvoldoende en ondoeltreffend was om die eskalasie van vyandighede te voorkom. Wanneer talle huidige konflikte in die wêreld ontleed word, is dit veral hartverskeurend om te ontdek dat die betrokkenes etniese bande of gemeenskaplike kulturele wortels het.

’n Bybelse voorbeeld wat dadelik by mens opkom, is die verdeling van Israel in Israel en Juda, bloedbroers wat oorlog met mekaar gevoer het. Net so word Noord- en Suid-Korea as twee lande beskou, maar hulle was een nasie, verdeel deur die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog en die daaropvolgende Koreaanse Oorlog. Tog is almal Koreaans en het hulle eeue van gedeelde geskiedenis, van oorwinnings, sowel as nederlae. Daar is baie aan beide kante van die DMZ (gedemilitariseerde sone) wat droom van ’n verenigde Korea, alhoewel die visie oor hoe dit sou lyk of bereik sou word, verskil. Daar is baie voorbeelde van vreedsame en aggressiewe pogings om hierdie twee nasies (maar een volk) te verenig. Die Sonskynbeleid (Sunshine Policy) onder die Suid-Koreaanse regering van Kim Dae-jung (1998-2003) en Roh Moo-hyun (2003-08), het baie geleenthede gebied vir verhoogde (minder vyandige) interaksies. Ongelukkig het verskeie insidente en invloede gelei tot die afkoeling van verhoudings. Nietemin, na die verkiesing van Moon Jae-in in 2017, het Suid-Korea opnuut begin om met Noord-Korea te versoen, wat ’n herlewing van die Sonskynbeleid ingelui het. Moon se pogings om die inter-Koreaanse verhoudings te verbeter, het tot drie inter-Koreaanse spitsberade in een jaar (2018) gelei. Ter erkenning van sy pogings t.o.v. die inter-Koreaanse verhoudings as die eerste president wat verskeie spitsberade in een jaar gehou het, het sy weergawe van die Sonskynbeleid bekend gestaan as die “Moonshine Policy”.

Daar is ook pogings aangewend deur Amerika, ’n sterk bondgenoot van Suid-Korea, deur toenmalige president Donald Trump, om verhoudings met Noord-Korea te verbeter deur ontmoetings tussen die drie leiers. Histories gesien is die aanhoudende oorlogsoefeninge van die gekombineerde magte van Suid-Korea en Amerika egter voortdurend as ’n struikelblok in die pogings om verhoudings te verbeter, beskou. Ewe uitdagend was Noord-Korea se strewe na kernwapens en sy diktatoriale beheer oor sy burgers.

Taiwan het historiese ooreenkomste, maar ook sleutelverskille. Die huidige werklikheid van die verhouding tussen die Republiek van China (ROC – Taiwan) en die Volksrepubliek van China (PRC – Chinese Vasteland) is ingewikkeld. Hierdie twee entiteite het ontstaan uit die kulturele rewolusie van 1949 en die omverwerping van die regering deur kommunistiese magte. Die regering het na Taiwan gevlug waar dit aanvanklik beplan het om te hergroepeer en dan die vastelandse grondgebied terug te eis. Toe hierdie aspirasies egter nie vervul kon word nie, het die fokus verskuif na modernisasie en ekonomiese ontwikkeling. Die Volksrepubliek van China se “Een-China”-beginsel verklaar dat Taiwan en die vasteland albei deel van China is, en dat die Volksrepubliek van China die enigste wettige regering van China is. Ondanks jare se bestaan as bure en omvattende ekonomiese handel, het die politieke omgewing al ingewikkelder geword namate die Volksrepubliek in ekonomiese en politieke invloed toegeneem het. Die moontlikheid van militêre konflik – indien gebeure soos uiteengesit in China se Anti-Afskeidingswet plaasvind, byvoorbeeld wanneer Taiwan de jure-onafhanklikheid verklaar – oorskadu voortdurend interaksies tussen China en Taiwan.

Soos hierdie twee voorbeelde (en daar is verskeie ander) demonstreer, vind vyandelikhede tussen mense nooit in ’n vakuum plaas nie, daar is altyd ’n konteks. Dit is ’n menigte insidente, van dié tussen bure tot dié tussen heersers oor ryke. Dit behels meningsverskille, misverstande, hebsug, diskriminasie, mag, politiek, oorheersing, en nog baie meer. Dit sou heeltemal korrek wees om te beweer dat die meeste burgers wêreldwyd na vrede smag. Tog maak sonde en die gevalle toestand van die mensdom dit byna onmoontlik om vrede deur uitsluitlik menslike pogings te bereik. Jesus het Sy dissipels in Matteus 6:10 aangemoedig om te bid, “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Hy het gedurende Sy aardse bediening voortgegaan om te demonstreer en te leer wat Hy bedoel het en wat Hy vereis van diegene wat Hom Here noem. Die Skrif demonstreer ook in talle gevalle dat die Here deur mense optree (insluitende die wat Sy Heerskappy nie erken nie) om Sy wil op aarde te bereik. Jesus het Sy volgelinge aangemoedig met hierdie woorde in Johannes 14:27(a), “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.” Die Here se vrede oortref enige vrede wat die wêreld kan bied, en dit is die soort vrede wat ervaar kan word te midde van verskriklike oorlog en verwarring. Maar, as Sy kinders word ons geroep om hierdie bonatuurlike “vrede” uit te leef en dit te demonstreer in ons optrede teenoor ander, hetsy teenoor ’n strydlustige buurman, ’n mededinger in besigheid, of deur geopolitiese interaksies tussen nasies wat goddelike beginsels bely.

As situasies so ingewikkeld blyk te wees dat ware versoening buite bereik is, behoort reusepogings om oorlog te vermy ten minste aangewend te word om die magte wat voordeel trek uit oorlog, asook die gees van haat en meerderwaardigheid, teen te staan. En die grootste wapen in ons as gelowiges se arsenaal, is die gawe van gebed en geloof in ’n almagtige, alvermoënde, liefdevolle God. Laat ons nie moeg word om te bid vir hierdie potensieel onbestendige lande en streke nie, asook vir dié wat reeds in oorlog gewikkel is, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen (1 Timoteus 2:1-2).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat vreedsame naasbestaan en wedersydse respek vir ander se menslikheid bo die meedoënlose najaag van mag en oorheersing gestel sal word;
  • dat die Here se lig in hierdie donker plekke in die wêreld sal skyn, en dat daardie lig duidelik sigbaar sal wees in Sy kinders se interaksies met ander, ook met hulle vyande; en
  • dat gelowiges nie moeg sal word om vir hierdie skynbaar onmoontlike konfliksituasies te bid nie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 21/10/2023
Foto slegs ter illustrasie: rawpixel.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here