Artikelbron: www.opendoors.org.za 

Die stank van suur en riool, swart, roetbesmeerde mure, stukkende vensters en ontheiligde kerke en kruise – dit is hoe dele van die Pakistanse stad Jaranwala lyk nadat skares van duisende die Christelike gemeenskap daar in Augustus 2023 aangeval het.

Minder as ’n week ná so ’n gewelddadige aanval was plaaslike vennote van Geopende Deure op die grond in Jaranwala, Pakistan, besig om Christen-gelowiges te besoek en saam met hulle te bid. Die aanvalle het Christene getraumatiseer en in nood gelaat. Hulle het berig dat hulle gesien het hoe Bybels verbrand word, kruise gebreek word en hoe ander Christene vir hulle lewens vlug terwyl hul wonings verwoes word.

’n Ooggetuie vertel: “Hulle het huise en kerke binnegaan, die Bybels in stapels gepak en dan aan die brand steek. Daar was stapels brandende Bybels, baie van hulle het 30 uur later steeds gebrand. “

’n Ander gelowige, Rehana Bibi*, onthou die toneel: “Sommige van ons mense het in motors of op fietse of in busse na ander stede vertrek. Die meeste van ons het egter na die suikerrietplantasies gevlug. Dit was donker, gevaarlik en die enigste plek om heen te gaan. Daar was geen hoop om terug te keer huis toe nie, want ons het gesien hoe hoog die vlamme brand en die lug was dik en swart oor ons buurt. Ons het moedeloos gesit en toekyk en probeer om ons babas met ons liggame te bedek om hulle te beskerm. Hulle was so verward.”

Ongeveer 20 kerke en minstens twee dosyn Christen-huise is in die aanvalle geteiken. Geopende Deure se vennote glo hierdie aanvalle is gekoördineer, aangesien Christene in Jaranwala verspreid oor die stad woon, met baie kerke wat as versteekte gemeentes of huiskerke funksioneer. Die aanvallers het blykbaar in groepe gewerk, deure afgebreek, huise met suur deurdrenk en Christelike eiendomme geplunder. Hulle het aangrensende geboue onaangeraak gelaat, wat ‘n spesifieke fokus op die Christelike gemeenskap aandui.

Die aanvalle is na bewering gemotiveer deur beskuldigings van godslastering. Twee jong Christen-mans is daarvan beskuldig dat hulle bladsye uit die Koran geskeur het, wat tot die gepeupelgeweld gelei het. Beskuldigings van godslastering word dikwels gebruik om minderheidsgroepe in Pakistan te teiken en te onderdruk, met blote beskuldigings wat tot gewelddadige voorvalle lei.

Ondanks die vervolging en verlies wat hulle ervaar het, put Pakistanse Christene steeds krag uit hul geloof en gesamentlike aanbidding.

Die herstel van die fisieke en emosionele tol van die aanvalle is ’n uitdagende reis vir die Christelike gemeenskap in Jaranwala. Die regering het begin om finansiële bystand aan geaffekteerde gesinne te verleen, maar die emosionele letsels lê diep. Geopende Deure se vennote voorsien dat die gemeenskap in die komende weke stres, angs, depressie en ander probleme kan ervaar.

Ondanks die swaarkry, bly Christene in Pakistan toegewyd aan hul geloof en hul land, vasbeslote om God en hul medegelowiges te dien. Hulle hoop op geregtigheid, verligting en herstel en is vasbeslote om deel te wees van die oplossing in ’n uitdagende omgewing.

Besoek www.opendoors.org.za om ’n skenking te maak en Geopende Deure by te staan in hulle missie om ons broers en susters in Pakistan te help om hierdie moeilike tyd die hoof te bied.

*Naam verander weens veiligheidsredes

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/10/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here