Artikelbron: www.incontextinternational.org

Die gebeure van die afgelope week in Israel en Gaza het weer die verskriklike pyn en tragedie van ons gebroke wêreld getoon. Dit weerspieël die ervarings van so baie mense in ander oorloë, in die verlede en hede. Of dit nou Soedan, Mianmar, die Oekraïne, Haïti, Ethiopië, Mali of enige ander land is wat deur konflik verpletter is; en of dit oorgrens of intern is, lewens word vir altyd deur hierdie brutale botsings verander. As jy ’n mens is, sal jy hartseer, woede, smart en verdriet ervaar oor hierdie uitdrukkings van boosheid. Die Bybel het ’n antwoord vir hierdie emosies wat ons voel, dis weeklaag of treur – ’n gebed om hulp wat uit pyn gebore is. Hierdie vorm van gebed kom algemeen in die Bybel voor. Jeremia was bekend as die “huilende profeet”, en het ’n hele boek geskryf, naamlik Klaagliedere, so ook die boek wat sy naam dra, is gevul met uitroepe tot die Here. Die Psalmboek is ook ’n boek wat ongeveer 50 klaaggebede bevat.

Ons lewe egter in ’n wêreld wat gevoelloos geword het vir dood en lyding. Om waarlik te treur of te weeklaag word oorgesien en het selfs vergete vorm van gebed geword. As ons egter wil hê dat dinge moet verander, moet ons begin deur die realiteite van geweld en onderdrukking in ons wêreld te betreur. Bybelse voorbeelde van klaaggebede moet ons uitdaag, nie net vir ons persoonlike omstandighede nie, maar ook vir ander. Dit kan in ’n individuele hoedanigheid of korporatief wees. Die belangrikste is dat hierdie gebede nie versoeke om inligting is nie, maar uitroepe van pyn. Eerlike, rou, seer klaaggebede is nie ’n teken dat jou geloof misluk het nie, inteendeel, dis eerder ’n uitdrukking van geloof. Ons roep direk na God, want diep binne-in ons weet ons dat ons verhouding met God saak maak; dit maak saak vir ons, en dit maak saak vir God.

Negatiwiteit, ongeregtigheid, haat en gebrokenheid is deel van ons lewens en deel van ons wêreld. In die lig hiervan kan ons ’n instinktiewe gevoel hê om haat met haat te vergeld en iemand wat ons te na kom in gelyke munt terug te betaal. Dit is deel van die menslike toestand om pyn, seer en woede te voel, maar dit is nie ’n goeie basis om vanuit op te tree nie. Die soms naakte eerlike voorbeelde van klaaggebede in die Bybel dui daarop dat dit in orde is om ons ongesensureerde gevoelens voor God uit te druk. Sulke eerlikheid vertroos op sy eie manier die bedroefdes en spreek solidariteit met die verontregtes uit. Jesus Christus, in Sy menswees, het eerstehands die pyn en onreg van hierdie gevalle wêreld ervaar. As Hy ’n klaaggebed voor sy Vader kon uitstort, vir Homself en vir ander, dan kan ons ook. Maar om te treur is nie passief nie, dit voed ons begeerte om Sy Koninkryk op aarde te sien kom, soos dit in die Hemel is. Dit daag ons uit om getroue ambassadeurs van die Vredevors in ons gebroke wêreld te wees. Dit gee ons ’n hart vir die “verlorenes” wat sterf sonder kennis van die Heiland.

Soos gesien kan word uit die Bybelse voorbeelde van klaaggebede, word ons aangemoedig om vas te hou aan die hoop wat ons in God het. Ons sien in die klaaggebede in die Psalms hoe die meeste van hulle met lofprysing en ’n uitdrukking van hoop eindig. Ons het die ware hoop – die Lam wat geslag is, die Verlosser, die Een wat elke sonde van hierdie wêreld op Homself geneem het. Maar ons hoop is nie net vir die toekoms nie, dit is ook vir nou en dit is gebaseer op Sy versekering dat deur Sy opoffering die dood oorwin is, lig oor duisternis seëvier en boosheid verslaan is.

Laat ons treur. Kom ons roep tot God om hulp, vanuit ’n plek van diepe smart vir elkeen van hierdie kosbare lewens, elkeen geskape na Sy beeld, elkeen waardig van Sy genade en barmhartigheid. Laat ons weeklaag.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende (riglyne is deur die gebedsbediening, Jerigo Mure voorberei – alhoewel hier spesifiek op die huidige konflik in Israel/Gaza gefokus word, is die meeste van die punte van toepassing op oorloë/konflik regoor die wêreld):

  • Aktuele gebeure– Hou die nuus dop en gaan voort om daagliks te bid soos die Heilige Gees jou lei. Onderskei deeglik tussen ware en vals nuusberigte.
  • Beskerming van almal– (Psalm 91:1-2). Bid vir God se goddelike beskerming van mense aan beide kante – en vir vrede om na hierdie onbestendige streek te kom en vertroosting vir diegene wat geliefdes verloor het. Jesaja 26:3 – Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.
  • Gyselaars– (Psalm 34:17). Bid vir alle gyselaars, insluitend vroue en kinders, wat aangehou word – vir hul veilige vrylating en God se vertroosting in hul nood. Bid veral dat die gewondes versorg sal word.
  • Gelowiges aan beide kante– (Matteus 5:13-16). Daar is kosbare Christene aan beide kante wat bid dat God se wil in hierdie situasie sal geskied. Bid dat hulle lig en sout sal wees te midde van verskriklike omstandighede en dat hulle die liefde van Jesus sal demonstreer waar hulle is.
  • Verlossing– (Filippense 2:9-11). God, die enigste Verlosser, openbaar Uself aan die verlorenes in Israel en die Gasastrook te midde van die chaos en konflik. Trek hulle na U Seun toe, sodat Hy as Here en Verlosser erken sal word, en U verheerlik sal word.
  • Leiers– (Jakobus 1:5). Hemelse Vader, skenk wysheid en onderskeidingsvermoë aan eerste minister Benjamin Netanyahu en alle leiers wat betrokke is by besluitneming gedurende hierdie uitdagende tyd. Mag hulle U wysheid en leiding soek in alles wat hulle doen. Lei kerkleiers om hul belangrike rol in hierdie proses te speel, deur die liefde van Christus ten toon te stel.
  • Internasionale leiers– (1 Timoteus 2:1-2). Vader, ons dra elke wêreldleier op in gebed, sowel as die leiers van nasies in die Midde-Ooste. Mag hulle werk aan ’n vreedsame oplossing en pogings om ’n einde aan hierdie konflik te bring, ondersteun.
  • Gebedsdekking– (Johannes 13:34-35). Bid vir die mobilisering van die kerk om te bid, om ’n versoenende invloed te wees in ’n verdeelde Israel en om die lig van Christus UIT TE STRAAL te midde van hierdie donker en vreesaanjaende tyd. Mag hulle ’n sterk en moedige getuienis van Christus lewer in hierdie uur van benoudheid en nood.
  • Toegang tot lughawens en grensposte– Bid vir diegene wat nie Gaza en Israel kan verlaat as gevolg van geslote grensposte of vertraagde vlugte nie – vir wysheid, skuiling, kos en water, ook om God se doel en plan vir hulle te hoor en Sy leiding te ervaar. Bid dat ontsnaproetes op die regte en ’n veilige tydstip sal open.
  • Einde aan oorlog– Bid vir ’n vinnige einde aan hierdie oorlog en alle geweld in Israel en Gaza. (Matteus 5:9). Prins van Vrede, ons roep uit tot U vir ’n einde aan die geweld en bloedvergieting. Bring versoening en begrip tussen mense met teenstrydige sienings tot stand. Mag u vrede heers en U verheerlik word.

In die Naam van Jesus bid ons dit, Amen.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 14/10/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here