Artikelbron: gatewaynews.co.za
Die Time2Rise-geleentheid buite Bloemfontein het Christene van oral uit Suid-Afrika bymekaargebring en verenig vir verandering in die land deur aanbidding, gebed en strategiese beplanning. Die ekonoom, dr. Arno van Niekerk, en pastoor John Mathuhle was aan die stuur van die geleentheid, met voormalige hoofregter Mogoeng Mogoeng wat as hoofspreker gedien het.
Gateway News het berig oor die geleentheid en sê dat belangrike boodskappe van die byeenkoms die waarneming ingesluit het dat “God se kinders verenig soos nog nooit tevore nie” en hoe belangrik dit is om tyd in God se teenwoordigheid deur te bring.
Van die opmerklikste oomblikke tydens die geleentheid het ’n genesingsessie Vrydagaand ingesluit, waar leiers uit verskillende agtergronde mekaar se voete simbolies gewas het, eenheid uitgespreek en berou betoon het oor aksies van die verlede wat die nasie verdeel het. Die byeenkoms het ook Suid-Afrika aan die Here opgedra en vorige toewydings aan “voorvaders” gekanselleer. Deelnemers van uiteenlopende kultuurgroepe het dele van die toewydingsverklaring gelees en die seremonie is afgesluit met profetiese aksies en nagmaal.
Die deelnemers het vurig vir Israel gebid toe die nuus van die aanval deur Hamas-terroriste bekend gemaak is. Die geleentheid het ook strategiese sessies aangebied waar deelnemers uit verskeie sektore van die samelewing oplossings vir Suid-Afrika gesoek het. Hierdie sessies het die gevoel van eenheid onder deelnemers verdiep.
Inisiatiewe wat tydens die geleentheid aangekondig is, sluit in die ontwikkeling van ’n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika volgens Bybelse waardes asook die skepping van ’n ineenstortingsvaste finansiële stelsel gebaseer op goud en silwer, wat ’n alternatiewe ekonomie daarstel. ’n Nuwe nasionale gebedstrategie is ook ingestel.
Volgens Gateway News het dr. Van Niekerk teruggerapporteer oor die resultate van ‘n aanlyn veldtog om mense te identifiseer wat die nasie kan lei: “Ons het meer as 44 000 stemme vir leiers ontvang. Die top 50 leiers sal binnekort vergader om te bid en te beplan aangaande ’n regering van geregtigheid. As ’n liggaam geskep sou word, sal dit apart van Time2Rise wees. Net daardie leiers wat betrokke wil wees, sal deel van daardie proses wees.”
Die geleentheid het duidelik gemaak dat Time2Rise nie ‘n politieke organisasie is nie, maar ’n katalisator om Christene te mobiliseer om op te staan en ‘n positiewe uitwerking te hê. Die byeenkoms het erken dat Christene van ander Afrika-lande na Suid-Afrika kyk om ’n beweging te laat opvlam wat oor die vasteland kan versprei.
Die geleentheid se sukses en die betrokkenheid van duisende mense het gedui op ’n groeiende begeerte vir verandering en eenheid onder Suid-Afrikaanse Christene.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 13/10/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.