Geskryf deur Daniel Kolenda; Christ for all Nations
Artikel oorspronklik geplaas in die Augustus 2026 uitgawe van JUIG! tydskrif
Daar is ’n minder bekende, maar ongelooflike verhaal in 2 Konings 7. Ná Salomo se regering het Israel in twee koninkryke verdeel. Die noordelike koninkryk, Israel, het Samaria as hoofstad gehad, maar dit was ’n plek van afgodery en institusionele sonde. In dié tyd het die Siriese leër, onder leiding van Ben-Hadad, Samaria omsingel en beleër. Dit het tot ’n verskriklike hongersnood gelei. Kospryse het die hoogte ingeskiet: ’n donkiekop is vir 80 sikkels verkoop, en duiwemis vir vyf sikkels. Erger nog, in die vorige
hoofstuk lees ons van vroue wat hulle eie kinders gekook en geëet het.
Elisa se profesie
Koning Joram het God blameer en die profeet Elisa gedreig, maar Elisa het geprofeteer: “Môre hierdie tyd sal ’n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.” Met ander woorde, die hongersnood sou verby wees en kos sou amper verniet wees. Die koning se offisier het gespot: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”
’n Dag van goeie nuus
Vier melaatse mans het by die stadspoort gesit. Hulle het geredeneer: “Waarom bly ons hier sit totdat ons sterf? As ons in die stad ingaan, sterf ons van die honger. As ons hier bly, sterf ons ook. Laat ons dus na die kamp van die Siriërs gaan. As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, sterf ons in elk geval.” Teen skemer het hulle na die kamp gegaan en dit verlate gevind. Die Here het die Siriërs die geluid van strydwaens en perde laat hoor, sodat hulle paniekerig gevlug en alles agtergelaat het. Die melaatses het ’n tent binnegegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer, goud en klere weggedra en dit gaan wegsteek. Ná verskeie kere het hulle besef daar is baie meer as wat hulle ooit sou kon gebruik. Toe sê hulle vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is ’n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”
Die sonde van stilte
Sien jy die prentjie? Hierdie melaatses was verstotelinge, besig om van melaatsheid en honger te sterf. Toe kom hulle op ’n feesmaal, kos en skatte af. Maar hulle het besef dit is verkeerd om dit vir hulleself te hou. Dit is ’n dag van goeie tyding – en ons bly stil? Dít is die sonde van stilte.
Mense is honger
Ons leef in ’n wêreld wat geestelik honger ly. Mense is honger vir waarheid, hoop en die ewige lewe. Hulle probeer hulleself vul met waardelose dinge, maar hulle siele bly leeg. Ons is soos die melaatses wat op die feesmaal van God se genade afgekom het. Ons het vergifnis, vrede en doelgerigtheid geproe. Ons het Brood wat versadig. Maar as ons dit vir onsself hou, tree ons nie reg op nie. Dink net as ’n farmaseutiese maatskappy ’n geneesmiddel vir kanker gehad het, maar dit ter wille van wins teruggehou het en toegelaat het dat jou geliefdes sterf. Jy sou woedend wees. Tog sit die Kerk in mooi geboue en geniet God se goedheid, terwyl miljoene daar buite smag na dit wat ons geniet. Wat ’n sonde om die Evangelie vir onsself te hou!
’n Waarskuwing uit Esegiël
Esegiël 3:18 waarsku dat as ons die goddelose nie waarsku nie, ons aanspreeklik gehou sal word. Ons is nie engele wat van bo af neerkyk nie. Ons is bedelaars wat Brood gevind het en vir ander bedelaars sê waar hulle dit kan kry. Hierdie vier melaatses het teruggegaan na die stad waar hulle gehaat en verstoot is, nie om groot preke te preek nie, maar om te vertel waar hulle brood gevind het. Hulle het dit nie gebak nie; hulle het net die nuus oorgedra. En daar was meer as genoeg vir almal. Al wat mense moes doen, was om uit te reik en te neem wat reeds voorsien is.
’n Tragiese einde
Tog eindig die verhaal tragies. Die offisier wat aan Elisa se woorde getwyfel het, moes by die poort waghou. Hy het gesien hoe die oorvloed ingebring word, maar hy is deur die gretige skare doodgetrap. Hy was so naby, maar het nooit die feesmaal geproe nie. Dieselfde Goeie Nuus wat jou red, sal jou veroordeel as jy dit verwerp. Johannes 3:18 sê: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel …”
Naby die Bron
Naby hierdie streek is Jakob se put, die plek waar nóg ’n verhaal afgespeel het. Jesus het daar ’n Samaritaanse vrou ontmoet. Sy was dors, maar sy het langs die Bron van lewende water gestaan. Sy het met die Messias gepraat en dit nie geweet nie totdat Hy Homself aan haar openbaar het. Toe los sy haar waterkruik en hardloop om die hele dorp te gaan vertel. Daardie sondige, verstote vrou het die eerste evangelis geword – sy het Jesus herken voordat sy eie dissipels Hom herken het. Toe die dissipels terugkom, het hulle vir Jesus kos aangebied, maar Hy het gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Hulle het langs die Brood van die lewe gestaan en dit nie besef nie.
’n Oproep tot aksie
Dit is ’n ontstellende gedagte: Jy kan reg langs die feesmaal staan en steeds honger ly. Jy kan by die put van lewende water wees en steeds sterf van die dors. Party van ons is so naby en tog so ver. As jy uit die kerk stap en sê: “Dit was ’n mooi boodskap,” het jy die punt gemis. Daar is ’n oproep tot aksie: As jy honger is, kom eet. As jy reeds geëet het, gaan vertel.
Eenvoudige boodskappers
Daar is nog iets oor die vier melaatses: Nadat hulle teruggegaan en die Goeie Nuus gedeel het, noem die verhaal hulle nooit weer nie. Hulle verdwyn. Geen belonings, geen gedenktekens nie. Hulle was nie die helde nie; hulle was net boodskappers. Ons is net bedelaars wat Brood gevind het. Ons taak is nie om beroemd te wees nie, maar om die Goeie Nuus te deel en dan opsy te staan sodat Jesus al die eer ontvang.
Gaan vertel!
As jy vandag honger is, kom na die feesmaal. As jy versadig is, gaan vertel. Moenie soos die offisier wees wat die seën gesien het, maar dit nooit geproe het nie. Moenie soos die dissipels wees wat langs die Brood van die lewe gestaan het en Hom nie raakgesien het nie. Hierdie is ’n dag van goeie tyding. Laat ons nie stilbly nie!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto en inhoud verkry deur oorspronklike artikel geplaas in die Augustus uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 27/07/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








