Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Ons het almal ’n inherente menslike behoefte aan konneksie. Die Here het ons brein ontwerp om in verhoudings te floreer. Tog raak ons soms verstrengel in konflik in die einste verhoudings waar ons eintlik moet floreer. Ons reageer of onttrek in misplaasde “selfbeskerming”, eerder as om daardie vervullende konneksie met mekaar te geniet.
’n Ervare en goed toegeruste span
Dit is hier waar die span van Kobus Massyn en Adré Potgieter van Relationship Care, van groot hulp kan wees. Hulle fokus op die koestering van verhoudings en bied omvattende hulp. Kobus is ’n pastoor, lewensafrigter en sake-eienaar en Adré is ’n gekwalifiseerde terapeutiese maatskaplike werker, berader en internasionaal gekwalifiseerde neuro-lewensafrigter met ’n passie om mense te help om van hulle verlede genees te word en sodoende hulle toekoms te vorm en die beste weergawe van hulleself te wees. As gevolg van hulle beroepe, het Kobus en Adré uitgebreide ondervinding om mense by te staan in die uitdagings wat daar in verhoudings kan opduik.
Neem julle verhouding op ’n reis en laat dit floreer
Relationship Care bied ’n transformerende reis na genesing en groei. “Ruim tyd in, sit een aand per week opsy om oor ’n koppie koffie in gesprek te tree waar julle tien belangrike beginsels, tien onderwerpe sal verken,” verduidelik Kobus. “Ons het nuttige gereedskap en hulpbronne beskikbaar wat julle sal help om diep te delf; om daardie ongemaklike vrae te vra wat jy nie normaalweg sou vra nie, maar ons skep die veilige ruimte vir jou om oor daardie dinge te praat,” brei Adré uit.
Rus julleself toe
“Gewoonlik kom daardie sensitiewe onderwerpe na vore wanneer daar konflik is, maar met hierdie gesprekke geskied dit binne ’n positiewe en opbouende omgewing. En onthou, julle is in ’n verhouding, dit gaan daaroor om mekaar te ken en werklik in kontak te kom met mekaar,” sê Kobus. “Die bedoeling van hierdie reis is dat julle die huiswerk sal doen – om te sit en gesprekke te voer. Soms sal julle vind dat julle meer inligting wil hê, dit is waar ons op bystand is om julle te help en te lei. Onthou, geen reis is ooit sonder sy uitdagings nie, maar julle sal die gereedskap hê om te weet hoe om daardie struikelblokke te hanteer.”
10 BEGINSELS VIR ’N GESONDE VERHOUDING
Sterk verhoudings is nie gegrond op perfeksie nie, maar op toewyding om te groei, te leer en met liefde en begrip te kommunikeer. Hierdie verhoudingsafrigtingskursus sal individue en paartjies help om die ingewikkelde pad van liefde, konneksie en persoonlike groei te stap. Dit sal julle die kennis, gereedskap en steun bied wat nodig is om florerende en vervullende verhoudings te kweek. Die tien beginsels wat in die kursus van tien weke ondersoek sal word, is:
1 Waardes
Die effek wat jou eie waardes en die waardes waarmee jy grootgeword het, op jou lewe het, is baie moeilik om te verander. Ons persoonlike waardes, werkswaardes, geestelike waardes en sielkundige waardes speel alles ’n belangrike rol in hoe ons onsself en ons verhouding beskou.
2 Vereenselwiging
Om in iemand anders se skoene te staan, is van kritieke belang as ons in ’n verhouding wil wees. Kan julle jul met mekaar vereenselwig?
3 Liefde
As liefde alleen genoeg was, sou daar geen egskeidings wees nie. Ons kyk hoe om mekaar se “liefdestaal” te praat.
4 Groei
Verhoudings gaan deur seisoene. Wat is die regte bestanddele om julle verhouding te help groei?
5 Spanwerk
Is julle in dieselfde bootjie, roei julle na dieselfde bestemming of probeer julle in verskillende rigtings roei? Wat sou julle “span” sterker maak?
6 Selfbeheersing
Selfbeheersing is die vermoë om jou emosies, gedagtes, impulse en gedrag te reguleer in die aangesig van versoekings en impulse. Het ’n gebrek aan selfbeheersing ’n uitwerking op julle verhouding?
7 Integriteit
Integriteit behels om die regte ding te doen wanneer niemand kyk nie. Wat steek julle vir mekaar weg? Wat is die “transaksiebrekers” in julle verhouding?
8 Begrip
Begrip is ’n deurslaggewende deel daarvan om te weet hoe jou maat se opvoeding, persoonlikheid, werklading en seisoen waarin julle jul bevind, julle verhouding beïnvloed.
9 Toewyding
Toewyding sluit in om tyd saam deur te bring en oomblikke van vreugde gedurende die dag en week te skep. Dit sluit ook die seksuele of meer intieme deel van julle verhouding in.
10 Deursettingsvermoë (grit)
Die vermoë om vas te byt wanneer alles verlore lyk.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/10/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









