Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: opendoors.org.za 

Die verskriklike geweld wat Saterdag, 7 Oktober 2023 uitgebreek het, met die massiewe aanval deur Hamas op suidelike Israel, het hartseer, pyn, vrees en paniek vir Israelse en Palestynse gesinne gebring. Ons treur oor alle onskuldige mense wat hul lewens verloor het.

Wat mense ervaar

Ná die aanvalle het die Bybelgenootskap in Israel ’n boodskap op sy webwerf geplaas wat waarskynlik die gevoelens van soveel Israeli’s weerspieël: “Ons is in skok, kwaad en in rou,” het die boodskap gelui.

“Binne ’n paar kort ure is honderde lewens uitgewis: vroue, mans, kinders, bejaardes. Etlike duisende is gewond, meer as honderd is gyselaar geneem. Meer as drieduisend vuurpyle is in die suidelike helfte van die land afgevuur. Daar is nie ’n familie in die land wat nie ’n familielid of ’n vriend verloor het nie.

“Mag die huidige oorlog en die afname in vertroue in die regering en militêre en inligtingsdiensleiers talle Jode in Israel (en in die buiteland) tot op die punt bring dat hulle nie hul hulp van die berge sal soek nie, maar by die Maker van die hemel en aarde,” het ’n vriend van Geopende Deure en Christen in Israel gesê. “Mag Arabiere dieselfde doen.”

’n Christen-pa van Gasa het Maandagoggend ná die aanval gesê: “Ek en my gesin voel beangs en bang weens die hewige bombardemente en dit voel asof ons huis inmekaar sal val. Dit is ’n permanente aardbewing. Ons probeer ons kinders vashou en troos om die vrees en verskrikking vir hulle te verminder, maar dikwels slaag ons nie omdat die krag van die ontploffings so groot is.

“Tans lewe ons in ’n moeilike situasie in Gasa… ons nie weet wat kom nie… al wat ons sien, hoor en voel is oorlog… ontploffings en vernietiging oral en die geskreeu van kinders weens die intensiteit van die bombardering. Daar is ’n groot vrees vir wat kom, aangesien daar geen veilige plek in Gasa is nie,” het hy voortgegaan.

Die man is een van sowat 800 Palestynse Christene van verskillende Christelike denominasies in Gasa. Die kerke in Gasa het al hul dienste gekanselleer weens die huidige oorlog en die bombardering van die Israelse lugmag.

Palestynse Christene in die Wesoewer het wel  kerkdienste gehou. “Ons het gebid vir vrede en geregtigheid in die Heilige Land,” het ’n Christen van Betlehem gesê.

In hierdie komplekse situasie wat steeds voortduur roep Geopende Deure Christene wêreldwyd op om vir die mense van Israel en Palestina te bid.

Die Christen in Gasa vra: “Ons bid dat liefde en vrede in ons land sal heers en ek vra vir gebed vir God se beskerming oor my gesin en ons huis, dat die oorlog vinnig sal eindig en dat die Here in alle behoeftes sal voorsien, veral in hierdie tyd. Bid dat ons die lig te midde van hierdie totale duisternis kan wees en die lig en liefde van Christus in Gasa weerspieël.” Sluit asseblief by hom aan in hierdie gebed.

Christene in Israel vra insgelyks vir vrede en beskerming en om die lig van Christus te kan skyn in ’n gebied wat so betekenisvol was in Jesus se bediening op aarde en die geskiedenis van ons geloof.

Die Bybelgenootskap in Israel vra: “Meer as ooit het ons julle gebede nodig. Gebede vir die wat treur. Gebede vir God om hierdie tragiese gebeurtenis te gebruik om mense sy aangesig te laat soek oor hul eie ewige eindbestemming.”

  • Bid vir ’n einde aan alle geweld en onreg in Israel en die Palestynse gebiede.
  • Bid dat die Kerk ’n baken van hoop sal wees vir die mense deur sy getuienis in woord en daad.
  • Bid dat die Here diegene sal vertroos wat geliefdes verloor het of wag om te hoor van vermiste familie en vriende.
  • Bid ook dat die internasionale gemeenskap sal werk vir blywende vrede in die Heilige Land.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 16/10/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here