Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: incontextinternational.org
Sedert 12 April word samesprekings met Houthi-amptenare (’n groep wat deur Iran ondersteun word) in Sanaa, die hoofstad van Jemen gevoer deur afvaardigings van Saoedi en Oman. Hierdie onderhandelinge kan binne die volgende sewe tot tien dae tot ’n vredesooreenkoms lei, berig Associated Press.
Die deurbraak in die besprekings kom slegs dae nadat verteenwoordigers van Saoedi en Iran begin het om ’n normaliseringsooreenkoms in te stel wat bereik is tussen hierdie twee jarelange vyandiggesinde Midde-Oosterse moondhede. Dié ooreenkoms is in Maart deur China gefasiliteer.
Die weg tot vrede in Jemen volg op ’n skietstilstand-ooreenkoms wat in April 2022 bereik is, wat twee maal daarna hernu is en tot in 2023 gehou het. Dit het vir die strydende partye tyd toegelaat het om struikelblokke te oorkom en uiteindelik ’n ooreenkoms te bereik. Dit is nie duidelik of China ’n deurslaggewende rol ten opsigte van die verwikkelinge in Jemen gespeel het nie. Beijing sal egter van die krediet hiervoor kry weens sy rol om Riaad en Tehran byeen te bring. China se benadering om hierdie twee invloedryke nasies ná sewe jaar van antagonisme te kry om ’n ooreenkoms te sluit, het gespreek van samewerking en onpartydigheid, aangesien China ’n groot handelsvennoot van beide lande is. Ontmoetings tussen die twee nasies het in 2021 begin met die hulp van Irak en Oman. Terwyl daar geleidelik vordering gemaak is gedurende ’n reeks ontmoetings tussen die twee nasies, het die uiteindelike deurbraak gekom nadat die pres. Xi Jinping in Desember 2022 na Saoedi-Arabië gereis het om toesig te hou oor die eerste spitsberaad ooit tussen China en die Arabiese State. Hy het ook later Iran se pres. Ebrahim Raisi in Maart 2023 ontvang. Vanweë Beijing se neutraliteit asook sy politieke en ekonomiese invloed, beskou sommige analiste China as uniek geposisioneer om sodanige besprekings te fasiliteer.
Hoewel party analiste skepties bly oor die blywende impak van China se “vredesdiplomasie”, beskou ander dit as ’n sprankie hoop vir die verpletterende oorlog in Oekraïne. Op die herdenking van Rusland se inval in Oekraïne het pres. Xi ’n twaalfpunt-vredesplan ter oplossing van die konflik voorgelê. Tydens pres. Xi se onlangse besoek aan Moskou was pres. Vladimir Poetin ontvanklik vir die voorgestelde plan, indien Oekraïne (en sy Westerse bondgenote) ook “gereed is vir vrede”. Terwyl pres. Volodymyr Zelensky gesê het die Oekraïne is oop vir “dele van die plan”, het Amerika dit heeltemal afgewys. Sedert pres. Xi se besoek aan Rusland was daar nog geen direkte samesprekings met pres. Zelensky nie. Indien China egter ’n soortgelyke benadering volg as die Saoedi-Iran-détente, behoort ’n ontmoeting met pres. Zelensky te volg. Die Oekraïne het aangedui dat die volledige onttrekking van Rusland ’n voorwaarde vir die besprekings moet wees en Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, was skepties oor China se “vredesvoorstelle”. Hy het gewaarsku dat ’n skietstilstand net ’n tydelike “vertragingsaktiek” kan wees om Russiese troepe op die grond in Oekraïne van hulp te wees. Indien enigiets geleer kan word uit jare se konflik en onbestendigheid in die Midde-Ooste, is dit miskien tyd om ruimte te maak vir ’n ander benadering, selfs al kom dit van China af.
China word as ’n strydlustige party beskou wanneer dit by kwessies rondom Taiwan kom, maar Taiwan het jare lank gefloreer en ’n groot mate van outonomie behou sonder die soort spanning wat tans ervaar word. “Onafwendbare konflik” tussen China en Amerika oor Taiwan het eers onlangs ’n oorweging geword namate China se invloed toeneem en as ’n ernstige bedreiging vir die wêreldwye status quo beskou word. Konflik hoef nie “onafwendbaar” te wees nie; daar is nooit net een manier om geskille op te los nie.
In Sy bergrede, het Jesus benadruk dat vredemakers geseënd is en kinders van God genoem sal word (Matteus 5:9). Om vrede te maak, is nie om te kapituleer nie, en dit is nooit ’n eenvoudige proses nie. Dit verg werk, deursettingsvermoë en dikwels betrokkenheid by diegene wat aartsvyande is. Dit is waartoe navolgers van Christus geroep is; nie om konflik te vermy nie, maar om in die konflik in te gryp as bemiddelaars. Dit is gevaarlik en dit mag dalk nie ’n gewilde benadering wees nie. Baie wil die standpunt inneem dat hulle “aan die regte kant” van ’n “regverdige oorlog” is. Sodanige benadering het egter die nasie van Jemen tot op die punt gedryf waar hulle situasie as een van die wêreld se ergste humanitêre krisisse bekend staan. ’n Eindelose voorsiening van wapens aan Saoedi-Arabië het nie ’n einde gebring aan hierdie bloedige konflik nie; dit was diplomasie en dialoog. In die Bybel is daar voorbeelde waar God gebruik gemaak het van nasies wat Hom nie erken of volg nie, om ’n instrument van dissipline vir Sy kinders te wees (soos in Habakuk 1 waar God die Babiloniërs gebruik) en van seën (Esra 1 en Nehemia 10, waar God vir Kores gebruik sodat die volk uit ballingskap terugkeer met rykdom). Die Here gebruik steeds nasies; selfs dié wat Hom nie erken nie en wat Hom miskien selfs minag, om sy doel te bereik. Behoort ons as Christene dan nie gewillig te wees om te bid dat die Here vrede moet bring in Oekraïne nie, selfs deur China, indien dit Sy wil is?
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die Here ’n deurbraak sal bewerk sodat ware vredesonderhandelinge kan begin en die oorlog in Oekraïne tot ’n einde kan kom,
- dat diegene wat uit oorlog wins maak, se planne gefnuik sal te word, vir heelmaking en bevryding van almal wat deur hierdie wrede oorlog verpletter is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com en pixabay.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.