Artikel verskaf deur Solidariteit Helpende Hand

Meer as 500 personeel- en vrywilligerafgevaardigdes van Solidariteit Helpende Hand kom van 20 tot 22 Augustus in Pretoria byeen om die organisasie se agenda vir die volgende vier jaar te bepaal en ’n doelgerigte antwoord op Suid-Afrika se groeiende maatskaplike uitdagings te ontwikkel.

Die driedaagse kongres, wat slegs elke vier jaar plaasvind, bring 520 afgevaardigdes uit Helpende Hand se 15 streke en netwerk van sowat 230 takke landswyd byeen. Dit fokus op die verdere uitbreiding en versterking van gemeenskappe deur die organisasie se personeel, vrywilligers, takke, projekte en instellings.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die kongres veel meer as ’n interne byeenkoms. Dit is ’n strategiese werksessie waartydens mense wat daagliks op grondvlak by gemeenskappe betrokke is saam besin oor die uitdagings wat hulle ervaar en die oplossings wat oor die volgende vier jaar uitgebou moet word.

“Helpende Hand het oor die afgelope aantal jare tot ’n sterk nasionale gemeenskapsnetwerk gegroei. Die 520 afgevaardigdes wat hier byeenkom, verteenwoordig mense wat die werklikhede in hul gemeenskappe ken en wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar om iets daaraan te doen,” sê Noëth.

“Ons wil tydens hierdie kongres eerlik kyk na waar ons as land staan, wat die grootste maatskaplike uitdagings op grondvlak is en hoe Helpende Hand sy strukture, projekte en vrywilligersnetwerk kan gebruik om gemeenskappe verder te versterk.”

Die kongres vind plaas te midde van toenemende ekonomiese en maatskaplike druk op gemeenskappe. Armoede, werkloosheid, stygende lewenskoste en druk op openbare dienste beteken dat gemeenskapsinstellings ’n al hoe belangriker rol moet speel om mense te ondersteun en volhoubare oplossings te ontwikkel.

As vertrekpunt stel Helpende Hand sy eie navorsing bekend waarin 555 deelnemers hul ervarings en stories oor die toestand van hul gemeenskappe en die werk van die organisasie gedeel het. Deelnemers uit al nege provinsies het aan die navorsing deelgeneem, met 51,8% van die terugvoer uit die platteland en 48,2% uit stedelike gebiede.

Die deelnemers sluit personeel, taklede, vrywilligers, ondersteuners, Studietrust-studente, donateurs en vennote van Helpende Hand in. Die navorsing bied daarom ’n blik op hoe mense wat by die organisasie en sy gemeenskapsnetwerk betrokke is, die nood, uitdagings en geleenthede op grondvlak ervaar.

Die navorsing vertel van gemeenskappe wat onder groot ekonomiese, emosionele en maatskaplike druk verkeer. Respondente verwys onder meer na werkloosheid, stygende lewenskoste, armoede, eensaamheid, dwelmmisbruik, werksdruk en mense wat nie altyd toegang tot vervoer en noodsaaklike dienste het nie.

Hoewel talle respondente meen dat die welstand in hul gemeenskappe versleg, toon die navorsing ook dat hoop en ’n bereidwilligheid om betrokke te raak steeds sterk teenwoordig is. Respondente beskryf hulself as hoopvol, diensbaar en bereid om saam met ander aan oplossings te werk.

“Die stories wat met ons gedeel is, vertel van mense wat onseker en soms moedeloos voel, maar dit is nie stories sonder hoop nie. Ons hoor steeds die vraag: ‘Waar kan ek help?’ Mense besef dat hulle nie net kan wag dat iemand anders die probleme oplos nie. Hulle wil betrokke raak, maar benodig ’n duidelike plan, ondersteuning en sterk instellings waardeur hulle ’n verskil kan maak,” sê Noëth.

Die navorsing wys ook dat respondente nie armoedeverligting slegs met geld en kos vereenselwig nie. Hoewel onmiddellike hulp noodsaaklik bly, glo deelnemers dat werk, opleiding, ondersteuning en groter selfstandigheid uiteindelik ’n meer volhoubare verskil sal maak.

Voorstelle uit die navorsing sluit opleiding en ondersteuning in vir entrepreneurs, jeugontwikkeling, werksgeleenthede en gemeenskapsprojekte wat ook ’n inkomste kan skep.

“Ons kan nie armoede net van dag tot dag verlig nie. Ons moet mense help wanneer hulle vandag nie kos het nie, maar terselfdertyd aan die opleiding, ondersteuning en geleenthede bou wat hulle môre meer selfstandig kan maak,” sê Noëth.

“Opleiding beteken min as dit nie tot werk of ’n geleentheid lei nie, maar werk en opleiding alleen help ook nie iemand wat vandag honger is nie. Ons moet daarom ’n balans vind tussen onmiddellike hulp en die doelgerigte verbreking van armoedepatrone.”

Respondente het onvoldoende hulpbronne en finansies, ’n gebrek aan fokus en ’n plan, en te min gewillige hande as van die grootste struikelblokke in die versterking van gemeenskappe uitgewys. Die navorsing toon terselfdertyd dat mense Helpende Hand veral ondersteun vanweë projekte wat ’n tasbare verskil maak, ’n duidelike visie en plan, en verantwoordelike bestuur van geld, tyd en mense.

Volgens Noëth bevestig die bevindinge dat Helpende Hand se projekte, strukture en hulpbronne voortdurend met die werklike behoeftes van gemeenskappe belyn moet word.

“Ons moet seker maak dat ons die regte dinge doen, op die regte plekke fokus en volhoubare projekte ontwikkel. Goeie bestuur en ’n duidelike plan is noodsaaklik, maar uiteindelik is dit die doen wat die verskil maak.”

Die kongres se tema word oor die drie dae saamgevat as “Plus Een met hart”, “Plus Een in krag” en “Plus Een tot hoop”.

“Met hart sien ons die nood raak. In krag organiseer ons mense, projekte, netwerke en instellings om iets daaraan te doen. Tot hoop bou ons aan gemeenskappe waarin mense nie bloot van hulp afhanklik bly nie, maar toegerus word om saam ’n volhoubare toekoms te skep,” sluit Noëth af.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Hoof foto verskaf deur Solidariteit Helpende Hand
Datum gepubliseer: 24/08/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here