Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Sondag 2 April het Israel se kabinet (Knesset) die nasionale veiligheidsmag ontplooi op versoek van die verregse sekuriteitshoof Itamar Ben-Gvir, ten einde op die interne onrus te fokus (’n proses wat sy aanvang onder die vorige regering gehad het, maar nie gefinaliseer is nie). Die eerste minister, Benjamin Netanyahu, het ingestem om die kabinet se goedkeuring vir Ben-Gvir se nasionale veiligheidsmag te versoek nadat die sekuriteitsminister sy besluit ondersteun het om die hoogs omstrede voorstel vir hersiening van die regbank op die ys te sit, wat sedert Januarie vanjaar landswye straatproteste tot gevolg gehad het.
Op Maandag 27 Maart het Netanyahu ’n “verposing” aangekondig omdat die land ’n verlammende algehele staking in die gesig gestaar het weens sy aankondiging dat hy die minister van verdediging, Yoav Gallant, wil afdank juis omdat hy sodanige verposing wou instel. Die betogings en stakings wat die nasie tot stilstand gebring het, het die diep skeuring in die samelewing benadruk en volg op etlike jare van politieke onbestendigheid.
Aan die einde van verlede jaar is ’n regering uiteindelik in Israel gevorm, nadat vier verkiesings binne minder as drie jaar op ’n dooiepunt uitgeloop het. Nadat Netanyahu die verkiesing met ’n skrale meerderheid gewen het, kon hy weer sy langtermyn-amp as eerste minister inneem – hy het hierdie rol langer as enigiemand anders in Israel se geskiedenis vervul. Sy nuwe regering word deur talle beskou as Israel se mees regsgesinde en godsdienstige koalisie ooit. Dit is hierdie regering wat redeneer dat kiesers vir hulle gestem het op grond van beloftes van hervorming van die regbank en sê dat pogings om hulle te keer om die regbank meer aanspreeklik te maak, “ondemokraties” is. Sleutelaspekte van die voorgestelde regshervormingsplan sluit in om die regering groter seggenskap te gee in die keuse van regters en om die mag van die hooggeregshof te beperk om wetgewing te skrap.
Diegene wat hervorming ondersteun, beskou die howe as ’n bastion van die onverkose linksgesinde elite wat dit op hulself geneem het om die staat as progressief en sekulêr te omvorm, sonder enige demokratiese publieke legitimiteit agter hulle. Diegene wat die hervormingsplan teenstaan, is besorg dat dit ’n werktuig is om op aggressiewe wyse ’n godsdienstige, onliberale staat tot stand te bring waarin die magte van die regering effektief byna heeltemal onbeperk sal wees. Israel het geen geskrewe grondwet nie en slegs een huis van die parlement, wat tipies deur meerderheidskoalisies beheer word. Sommige kenners waarsku om die howe se mag te beperk, een van die enigste remme kan verwyder wat verhoed dat die regering met onbeteuelde mag regeer.
Vir beide kante het hierdie konflik groot implikasies vir wat volgens hulle die ware essensie van die staat Israel is. Die dag voor die nuwe regering op 29 Desember ingehuldig is, het die aanbieder van ’n gewilde gespreksprogram die vraag gestel of Israel dalk beter daaraan toe sou wees indien die land tussen ’n liberale sekulêre staat en ’n meer nasionalistiese teokrasie verdeel sou word. Die aanbieder se opmerking herinner aan Bybelse tye toe die Israeliete in die twee opponerende koninkryke van Juda en Israel verdeel het, met rampspoedige gevolge.
Dit is betekenisvol dat die verposing juis aangekondig is in aanloop tot die Pasga-vierings en die Fees van Ongesuurde Brode (gevier vanaf die aand van Woensdag 5 April tot die aand van Woensdag 12 April). Dit is ’n tyd ter herdenking van God se barmhartigheid wat aan die volk Israel betoon is tydens hulle slawerny in Egipte (toe hulle eersgebore seuns van die dood gespaar is) deur die vergieting van ’n lam se bloed. Dit was ook in die tyd van Pasga dat die Lam van God se bloed gestort is vir die verlossing van alle mense. Feitlik alle Jode in Israel identifiseer met een van vier groot sub-godsdiensgroepe: Hiloni (“sekulêr”), Masorti (“tradisioneel”), Dati (“godsdienstig”) en Haredi (“ultra-Ortodoks”). Hilonim is die minste godsdienstig en maak ongeveer die helfte van Israel se Jode uit (49%), terwyl Haredim ’n toenemende deel uitmaak (tans 10%). Uit ’n bevolking van byna 9 miljoen is daar na raming 12 000 Jode wat Jesus as hulle Messias erken.
Israeli’s het sedert die totstandkoming van die moderne staat Israel (1948), baie van hul aandag toegespits op veiligheid in die aangesig van talle vyandelike magte – met die Joods-Palestynse konflik die prominentste hiervan. Hulle het nog nooit tevore die vlak van konfrontasie in hul samelewing ervaar wat hulle tans in die gesig staar nie. Die woord “burgeroorlog” is die afgelope paar weke gereeld gebruik, wat die vlamme van die vuur van ’n reeds hoogs plofbare situasie stook.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat ’n gees van versoening sal seëvier in die huidige krisis, dat diegene in leierskap, aan beide kante ’n plek van ooreenstemming kan vind,
- dat die Here Sy voornemens deur hierdie huidige krisis sal vervul, wat tot ’n wonderlike oes vir Sy Koninkryk sal lei, en
- dat die Liggaam van Christus in Israel gereed sal wees om te praat oor die geweldige hoop wat hulle in Jesus het – die Lam wat geslag is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/05/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.