Artikelbron: cvandaag.nl
Op Paassondag is die Baptistekerk in Qarshi, suidoos van Oesbekistan, gewelddadig deur die polisie binnegeval. Elf besoekers is vir ondervraging weggeneem. Verskeie mense is erg deur die polisiebeamptes geslaan.
Die Oesbeekse polisie het op Paassondag met geweld toegang verkry tot die kerkgebou waar die feestelike viering van die opstanding van Christus aan die gang was. ‘n Woordvoerder beskryf wat gebeur het: “Die kerk was vol met talle gaste wat ook gekom het om saam met ons fees te vier. ’n Musiekgroep van Duitsland was teenwoordig. Sommige gaste kon nie ’n plek in die kerk kry nie en het die program van buite die kerk gevolg. Skielik is die hek met geweld oopgebreek en mans het probeer om toegang tot die kerk te kry. Aanvanklik was dit nie vir ons duidelik wie hierdie mans was nie, ons het hulle probeer keer, maar toe dit vir ons duidelik word dat dit die polisie is, het ons hulle nie verder teengestaan nie.”
Getuies van die klopjag het berig dat die polisie baie onbeskof opgetree het en mense aangerand het. Altesaam 11 mense teenwoordig is na die polisiestasie geneem. ’n Groot groep gemeentelede is daardie middag na die polisiestasie om navraag te doen oor diegene wat in aanhouding is. Hulle het buite die polisiestasie gesing en gebid. Die broers is toe aan die einde van die middag vrygelaat. Polisiebeamptes het tot vroegaand in die kerk gebly en die gemeente verhoed om te sing en ’n diens te hou.
Quarshi se gemeente is kwesbaar, want dit bestaan uit byna 50 persent dowe Christene wat uit die Moslem-gemeenskap bekeer is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/04/2023
Skermskoot: twitter.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.