Geskryf deur: Elmarie Strydom
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Omtrent tien jaar gelede, in Januarie 2014, het ek ’n droom gehad. In die droom het ek in my ouerhuis gestaan en my oorlede ma gesien (sy is oorlede in 1990, net na my 19de verjaarsdag). Sy het na ’n rou betonmuur gestaar – die muur was ongewoon hoog. Sy het nie met my gepraat of my gesien nie, sy het net gestaar na massas water wat uit die dak gestroom het. In die droom het ek na buite beweeg en my seun, wat toe 19 jaar oud was, en sy meisie hand aan hand sien loop. Hulle het my ook nie gesien nie, en ek het net stilweg na hulle gekyk. My seun het ’n pragtige, stylvolle pak aangehad, terwyl sy meisie in gewone klere geklee was. Hulle het verby my geloop.

Elmarie saam met haar dogter, Marizanne, en seun, Johan

Sy sal nie saamgaan nie
’n Paar weke later toe Johan, my seun, kom kuier (hy was in sy tweede jaar op universiteit), het ek vir hom en sy meisie, Nicoline, daarvan vertel. “Mamma het gedroom…” Ek het die droom met hulle gedeel en bygevoeg: “My kind, jou formele klere en Nicoline se gewone uitrusting kan dalk beteken dat jy êrens heen gaan waar dit baie formeel is, en Nicoline sal nie saamgaan nie.”

Nicky se verdwyning
In Maart daardie selfde jaar moes ek vir my werk reis en ek sou omtrent ’n volle week weg wees as alles goed sou verloop. Die oggend toe ek vertrek, het ek my geliefde Jack Russell-hondjie, Nicky, in die oë gekyk en haar belowe dat ek gou sou terugkom. My hart het gebreek elke keer as ek haar by die huis moes los, haar hartjie ook. Daardie aand het ek die skokkende nuus gekry dat Nicky weg is. Ek kon dit nie glo nie. Die volgende oggend vroeg het ek die 300 km na my tuisdorp teruggejaag om te help soek. Al huilend het ek deur die buurt geloop en haar geroep, maar sonder enige geluk. Ek moes teruggaan om my werk klaar te maak en dit so gou moontlik afhandel, sodat ek weer kon terugkeer en die soektog voortsit. Ons het R5 000 as beloning aangebied en haar foto’s oral in die dorp versprei. My hart was stukkend, maar ek het nie opgegee met die soektog nie. Dit was ’n nagmerrie vol trane.

Nicky, Elmarie se geliefde Jack Russel

Die ondenkbare gebeur
Vier maande later, op 17 Julie 2014, het die ondenkbare gebeur. My seun het in ’n motorongeluk gesterf. Hy en Nicoline het in sy motor gery, toe hulle om ’n draai ry het die motor het oor klippe gegly en in ’n kanaal beland. Johan is deur die venster geslinger en was op een of ander manier in die sluis van die kanaal vasgevang. Gelukkig was hy op daardie oomblik bewusteloos, maar die oorsaak van sy dood was verdrinking. Nicoline was nie ernstig beseer nie. My droom! My soektog na Nicky het skielik gestop, en die rou oor haar verlies het oorgegaan in die seerste seer oor die dood van my kind.

’n Onwaarskynlike hereniging
In Oktober, drie maande later, moes my dogter, Zaan, aan ’n danskompetisie deelneem. Sy het gevra of ek haar na ’n vrou in ’n buurdorp kon neem vir haar uitrusting. Ons het nog nooit tevore na hierdie vrou gegaan nie. Terwyl ons gery het, het ek uit die hoek van my oog ’n wit hondjie gesien naby ’n man wat op sy fiets was. Sy het langs die pad gestaan en vir hom gewag. Ek het Zaan afgelaai en vir haar gesê om solank uit te klim, want ek het gedink ek het vir Nicky gesien. Ek het omgedraai en teruggegaan na die stasiehuis waar ek die hondjie gesien het. Ek het niks gesien nie, maar het besluit om dieper in te gaan. Nicky het die geluid van my motor geken. Ek het ’n rukkie daar gesit en rondgekyk. Toe, uit die niet, het daardie geliefde Nicky van my na die motor aangeloop gekom. Dit was ’n wonderwerk! Trane van blydskap het gevolg, en die hereniging was soet en vreugdevol.

Die betekenis van die droom
Dit is nou tien jaar later. Wanneer ek terugkyk op my lewe, besef ek hoe groot ons God is. Hoe lief het Hy ons nie! My droom voor Johan se dood het vir my betekenis gehad, want ek het geweet hy gaan weg. Ek het nooit aan die dood gedink nie, alhoewel my ma die simbool van die dood was. Die betonmure en die massas water was die kanaal waarin hy geval het. Die verlies van Nicky was om my voor te berei vir die grootste verlies en rou wat sou volg.

Vrede in die verlange
God, my geliefde Vader, was so goed vir my om vir Nicky ná agt maande terug te gee. Sy het twee jaar gelede van ouderdom gesterf. Sy het ’n vol lewe gehad, vol bederf en liefde, tot die dag wat sy gegaan het. Ek het vrede met haar heengaan. My liefling Johan, dit is ’n seer en verlange wat nooit sal weggaan nie. Rus in vrede, my kind, tot ons soete weersiens.

ELMARIE STRYDOM – JUIG!-leser van Bloemfontein

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 01/12/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here