Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Verskaf
In ’n daad van liefde wat harte warm maak, het Martie Pretorius op Maandag, 25 November ‘n spesiale belofte aan haar oorlede moeder, Tannie Anna Meiring, nagekom. Sy het 100 handgemaakte trooshasies aan Solidariteit Helpende Hand by sy sentrum in Pretoria-Noord oorhandig. Helpende Hand gaan hierdie sagte poenankiese speelgoed na getraumatiseerde kinders versprei om vertroosting te bied.
Die oorhandiging, wat deur Mariana Kriel, die Gautengse streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, gereël is, was ’n vreugdevolle oomblik. Die trooshasies sal nie net by gemeenskapsinstansies afgelewer word nie, maar ook na terapiesentrums waar hulle kinders sal help wat deur moeilike tye gaan.
Martie vertel dat hierdie projek sy oorsprong vind in haar ma se droom om vir minderbevoorregte en mishandelde kinders iets sag en troosryk te gee – ‘n “trooshasie” om vas te hou wanneer hulle hartseer en alleen voel, sodat hulle sal weet dat daar iemand is wat omgee. Tannie Anna, wat op 23 November 2021 oorlede is, sou op Maandag 95 jaar oud gewees het. Die oorhandiging van die hasies op hierdie spesiale dag maak dit ’n gepaste manier om haar nalatenskap te vier.
“Sy wou so graag self die hasies gebrei het, maar haar hande het ween artritis dit nie meer toegelaat nie ná al die jare van hard werk en om haar vyf kinders groot te maak. Ek het haar belowe dat ek dit namens haar sal doen. Ek het elke hasie met baie liefde gebrei soos wat sy sou, en daar is ’n stukkie van my hart en my ouma s’n in elkeen,” sê Martie. “Ek hoop dat elke kindjie wat ’n trooshasie vashou, die liefde van Ouma Anna en die liefde van Jesus sal ervaar.”
Die 100 hasies, pragtig en met sorg aanmekaar gesit, het groot indruk gemaak. Mariana beskryf dit as ‘n “kosbare gebaar” wat nie net die kinders gaan troos nie, maar ook ander gemeenskapslede sal inspireer om saam te brei. “Ons wil graag ander breiers, en ons ouer garde en mense en tehuise landwyd aanmoedig om ook trooshasies te brei. Solidariteit Helpende Hand sal die patroon beskikbaar stel en ons is van plan om hierdie projek ‘n jaarlikse instelling te maak.”
Die doel is om elke jaar op 25 November (Ouma Anna se verjaardag) ’n insameling van trooshasies te hou van almal wat regdeur die jaar gehelp het om daaraan te brei.
“Dit is nie net ’n mooi geleentheid om kinders te ondersteun nie, maar ook ’n manier om saam iets spesiaals te bou,” voeg Mariana by.
“Solidariteit Helpende Hand nooi die publiek om betrokke te raak. Hierdie oulike hasies, wat nou reeds die hartsimbool van troos en liefde is, het die potensiaal om oor die jare heen duisende kinders se lewens aan te raak.”
Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.pretoriahand.co.za of stuur ‘n e-pos na mariana@helpendehand.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 02/12/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.