Geskryf deur: André Venter  
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Die sendingspan van verskeie Gereformeerde Kerke het besluit om sendingwerk in Mosambiek te doen en sommer ook ’n kerk te bou. Hulle het ons raad gevra omdat ons maatskappy, Adven Konstruksie, juis besig was om winkels in die nabygeleë omgewing te bou. Ons het besluit om die staalkonstruksie en die dak vir hulle op te rig sodat hulle net die mure en vloer self moes bou.

Dr. Gerrie van Wyk wou aanvanklik nie ons bediening se smal-en-breë-weg-plakkaat tydens die sending gebruik nie, omdat die sinode van die Gereformeerde Kerk dit afgekeur het vanweë die Jesus-figuur daarop. Toe hy egter sien hoe ons eie sendeling, Roy, dit met goeie resultate gebruik, het hy dit later self begin uitdeel en die boodskap aan die omstanders verduidelik. Hulle reaksie was verblydend, almal wou dit hê om dit aan ander en veral hulle kinders te gaan wys en te verduidelik.

’n Slegte ongeluk
Ondanks ons waarskuwing om nooit in die donker te ry nie omdat dit lewensgevaarlik is, het die sendinggroep hulle terugrit huis toe in die vroeë oggendure begin, toe dit nog donker was. Gerrie het voor in die kombi gesit en pas vooroor gebuk om die tweerigtingradio te antwoord, toe hulle ’n trok tref wat sonder ligte in die pad gestaan het. Twee passasiers reg agter Gerrie het op slag gesterf. Hy het ’n geweldige hou teen die kop gekry en is toe in ’n koma. Hy is teruggevlieg na Suid-Afrika en was maande lank in die Sandton Mediclinic.

’n Onverwagte reaksie
Hy het sy bewussyn herwin, maar net voor hom uitgestaar en nie gereageer nie. Roy het van Pretoria na Rustenburg gery om vir Gerrie te gaan bid. Hy het my die volgende dag opgewonde geskakel met die nuus dat Gerrie “by” is. Blykbaar het ’n suster verbygestap en gevra of daar nie dalk iets was wat hulle vir Gerrie kon wys wat onlangs ’n groot indruk op hom gemaak het nie. Roy het afgehardloop om die plakkaat van die smal en breë weg uit sy voertuig te gaan haal. Hy het dit voor Gerrie gehou wat oombliklik gereageer het: “Smal en breë weg, Roy Ready, André Venter” – hy was terug!

Alle eer aan die Here
Gerrie het nou reeds twee keer by my in Stellenbosch aangedoen om sy dank te betoon. Op sy uitnodiging het ek die voorreg gehad om sy gemeente te besoek en ’n praatjie oor die geliefde plakkate te doen. Alle eer aan die Here, net Hý kan sulke wonderwerke doen!

Stuur e-pos na posters@adven.co.za as jy van die plakkate wil bestel!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/06/2023
Foto: verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

1 COMMENT

  1. Ons het ook ‘n groot plakkaat wat ons geraam het van “De Breede en de Smalle weg” in ons huis se gaste toilet. Wie ookal daar in gaan kan dan rustig sit en lees “Die reispad na die Hemel of die Hel”. Ons kleinkinders staan gereeld voor die plakaat en wil dan weet wat is nr 15 of nr 29 en dan lees ons saam onderaan wat dit beteken!
    Groete Anita

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here