Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: incontextinternational.org

Op Dinsdag, 27 Junie, is die 17-jarige Nahel deur ’n polisieman by ’n padblokkade in Nanterre, ’n
Paryse voorstad, doodgeskiet nadat hy na bewering van die polisie probeer vlug het. Daar word
ondersoek ingestel na die voorval.

Die tiener van Algerynse afkoms se begrafnis het op Saterdag by ’n plaaslike moskee plaasgevind. Sy
dood het die debat oor polisiëring in gemarginaliseerde gemeenskappe in Frankryk weer opnuut laat
opvlam Die polisie hier te lande word reeds lank daarvan beskuldig dat hulle minderhede teiken.
Vrae word ook gevra of ras nie-amptelik ’n rol in die jong man se dood gespeel het. Hy is die tweede
jong man van Afrika-afkoms wat vanjaar deur polisie by ’n padblokkade gedood is.

’n 19-jarige man van Guinee is verlede maand in die suidweste van Frankryk geskiet toe hy probeer
vlug het. Oor die afgelope paar jaar het internasionale menseregtegroepe ’n beroep op Frankryk
gedoen om “sistemiese diskriminasie” aan te spreek, veral “die gebruik van etniese profilering”
tydens die nagaan van identiteite. Hierdie insident vorm deel van ’n komplekse, diepgewortelde
probleem in Frankryk, ongeag wat die ondersoek na die skietery oplewer. Joseph Downing (’n senior
lektor in internasionale betrekkinge en politiek by Aston Universiteit) het in ’n artikel in The
Conservation verduidelik: “Sekere woonbuurte in groot Franse stede ly reeds vir dekades onder wat
beskryf word as die ergste “hipermarginalisasie” in Europa. Behuising en onderwys van swak
gehalte, gekombineer met geografiese isolasie en rassisme, maak dit bykans onmoontlik vir mense
om hoegenaamd hul omstandighede te verbeter.”

Verlede Dinsdag het betogings in verskeie stede begin en het uitgeloop op gewelddadige landwye
onluste wat vir etlike dae aangehou het. Honderde mense is gearresteer en baie beserings onder die
polisie en betogers is aangemeld. Een slagspreuk van die protesbeweging het gelui “Pas de justice,
pas de paix”. Dit beteken “geen regverdigheid, geen vrede”. Die Franse president, Emmanuel
Macron, beplan om ’n prosedure in werking te stel om die rede vir die onrus “ten diepste te begryp”.

Sulke gebeure spoor ook die Franse Kerk en gelowiges oor die wêreld aan om met mekaar en
gemeenskappe in gesprek te tree oor moeilike onderwerpe soos polisiëring, ras, diskriminasie en
ongeregtigheid. Die Kerk moet in nederigheid trag om te luister en “ten diepste te begryp”. Om
waarlik die onderliggende oorsake van gemeenskapskwessies en ons perspektiewe en emosies
daaromtrent raak te sien, moet ons God vra vir wysheid en onderskeidingsvermoë. Baie kerke en
Christelike bedienings het gereedskap en ander bronne ontwikkel om gelowiges te help met
“rassegesprekke”, om “rasseversoening“ na te streef, en om “rasse-(on)geregtigheid te verstaan.

Ons moet in nederigheid na God se hart in hierdie sake soek – “moenie aan hierdie sondige wêreld
gelyk word nie” (Romeine 12:2) en trag om ons hart, siel en verstand in liefde aan God oor te gee
(Matteus 22:37). Mag God ons oë open vir kreatiewe maniere om eeu-oue probleme in ons huise,
kerke, gemeenskappe en op ʼn nasionale en globale vlak te hanteer. Die Kerk moet ’n baken van lig
op hierdie gebied wees, want ware eenheid, vrede, liefde en versoening word deur Christus
moontlik gemaak (Efesiërs 4).

Ons kan God vra om ons harte te deurgrond (Psalm 139:23) en dit mag nodig wees om te bely –
teenoor God, teenoor diegene in ons binnekring, of selfs in die openbaar. Die Nederlandse Koning,
Willem-Alexander, het op Saterdag, 1 Julie, by ’n seremonie van die 160ste herdenking van die
afskaffing van slawerny, in die openbaar om verskoning gevra vir dié land se historiese
betrokkenheid by slawerny en die gevolge wat dit tot vandag toe nog het. Hy het om vergifnis gevra
vir die “misdaad teen die mensdom” en het gesê dat rassisme steeds ’n probleem in die Nederlandse
gemeenskap is, maar dat nie elkeen sy verskoning sal aanvaar nie. Dit is deel van ’n ruimer besinning
oor Nederland se koloniale verlede. ’n Studie wat in opdrag van die regering gedoen en in Junie
gepubliseer is, het bevind dat die Nederlandse koninklike familie gedurende die jare 1675 -1770
bykans $600 miljoen (in hedendaagse terme) wins uit Nederlandse kolonies gemaak het. Die wins
wat die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie uit speseryehandel gemaak het, het ’n groot bydrae tot
hierdie bedrag gemaak. Hierdie aksie van die Koning was ’n belangrike daad van erkenning en berou.

Mag die Kerk ook ’n voorbeeld van berou wees en mag ons diegene wat teen ons gesondig het,
vergewe, soos God ons vergewe (Kolossense 3:3, Efesiërs 4:32).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat rassisme en diskriminasie deur die polisie in Frankryk en wêreldwyd aangespreek sal
word, insluitende ander vorme van diskriminasie deur instellings en sisteme
• dat God in ons harte sal werk om enige diskriminasie, wêreldse denkwyses of bitterheid in
ons harte en gedagtes te verwyder
• dat die kerk ’n model van ware versoening, vrede, liefde en eenheid in Christus sal vertoon.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 07/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here