Geskryf deur: cvandaag.nl Artikelbron:
’n Animasieateljee in Portland, Amerika, vind altyd nuwe maniere om die Bybel op ’n vars en
moderne manier onder die publiek se aandag te bring. The Bible Project maak pragtige animasies
van Bybelverhale wat lewe kry en het reeds ’n gehoor van miljoene. Die animasies is nou in 56 tale
beskikbaar, berig CBN News.
Tim Mackie en Jon Collins het tydens hul universiteitsdae met die briljante idee vir die projek
vorendag gekom. In 2014 het hulle twee video’s aanlyn geplaas om die Bybel meer toeganklik vir hul
medestudente te maak. Tien jaar, 180 video’s en 350 potgooi-episodes later, is daar meer as 620
miljoen keer in 200 lande die video’s gekyk.
Michael McDonald, wat verantwoordelik is vir die strategiese beleid van The Bible Project, sê die
vriende het nooit daarvan gedroom om dit in so ‘n suksesvolle stigting te omskep nie. “Dit was net
twee vriende wat gedoen het waarvan hulle hou en gewonder het hoe hulle hulself en hul vriende
kan help om die Bybel te verstaan. Maar hul (studente-) gehoor was so opgewonde dat hulle meer
wou hê en het die twee mans hier en daar met ’n skenking ondersteun. So kon nog video’s
vervaardig word.”
Nadat hy gegradueer het, het Jon eers vir ’n rukkie as predikant gedien, maar het spoedig begin om
sogenaamde explainer-video’s vir groot maatskappye te maak. Tim het ’n PhD in Hebreeus en Joodse
studies verwerf, hy het ook ’n pastoor en later ’n hoogleraar geword. Hulle het besluit om kragte
saam te snoer en die Bybelprojek is gebore.
Die twee begin elke video met ’n blanko papier waarop hulle met idees vorendag kom. Volgens
McDonald spreek die verhale ‘n wye gehoor aan. “Dit is lekker om te sien hoe tienjariges vir ons
boodskappe stuur dat hulle so geboei word deur die Bybelstories. Daarby is daar 85-jariges wat sê:
‘Ek het gedink dit is vir my kleinkinders bedoel. Ek het nooit verwag om op hierdie ouderdom terug
te gaan in die Bybel en dit op ’n nuwe manier te ontdek nie.”
Die projek bereik ook Moslem-lande, daar is ’n Arabiese weergawe wat goeie reaksies gekry het.
Byvoorbeeld, een kyker het gesê: “Ek het altyd in die Bybel belang gestel, maar ek het nooit geweet
hoe om toegang daartoe te kry nie. Ek het ook nie geweet of ek die Bybel kan lees op ’n manier wat
regtig by my aanklank sou vind nie. Dit is toe dat ek julle video’s ontdek het. Hulle het die Bybel op ’n
unieke manier vir my oopgemaak en vir my gewys wat die Bybel oor Jesus sê.”
Kyk gerus self na een van die Bible Projec-video’s wat die Bybel aan mense verduidelik wat nie
enigiets oor die Bybel weet nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/07/2023
Foto: Fotogreep YouTube
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.