Geskryf deur: Alex Pollock Artikelbron: incontextinternational.org

Op 21 Junie is berig dat meer as 7 000 metrieke ton (15 miljoen pond) koring wat bestem was om die
miljoene hongerlydendes tydens voortslepende konflik by te staan, deur Ethiopiese owerhede in
Tigray gesteel en/of wanbestuur is.

Die voorlopige verslag wat deur Tigray se streeksowerhede vrygestel is, sit die korrupsie en
wanbestuur van humanitêre bystand wat deur die Verenigde State, die Verenigde Nasies (VN), en
ander humanitêre organisasies gelewer is, uiteen. In Maart is ontdek dat voedselhulp wat 134 000
persone vir ’n maand kan voed, op markte verkoop word en in koringmeulens gestoor word, die
pakkies steeds met die Amerikaanse vlag daarop.

Weens hierdie wanbestuur het Amerika en die VN humanitêre besendings na Ethiopië gestaak tot
tyd en wyl hervormings ingestel word. Volgens Amerikaanse hulpverleningsamptenare is dit
potensieel die grootste skaal van herleiding van bystandsmiddele wat nog in enige land aangemeld
is. Meer as 20 miljoen mense in Ethiopië (insluitend ’n groot bevolking vlugtelinge) is afhanklik van
voedselbystand. Hierdie ontwrigting het reeds tot verskeie berigte van mense wat weens
hongersnood dood is, gelei. Die Amerikaanse regering en die VN het aangekondig dat hulpverlening
aan Tigray ten vroegste in Julie herstel kan word, terwyl beperkings in ander dele van die land van
krag sal bly totdat verandering ingestel word. Beamptes van die Amerikaanse Agentskap vir
Internasionale Ontwikkeling (USAid) sê ’n sekere mate van regeringskorrupsie kan verwag word
wanneer dit by humanitêre hulpverlening kom, maar dié hoë vlak van toename is ongekend.

Ethiopië is nie die enigste land wat met bystandsverwante korrupsie moet afreken nie, aangesien die
verpolitisering van bystand op sy beurt dikwels daartoe lei dat regerings die voorwaardes t.o.v. die
humanitêre hulp en die verlening daarvan, manipuleer.

In Nagorno-Karabakh, ’n omstrede gebied tussen Armenië en Azerbaidjan, word die skuld vir die
hernude spanning gedeeltelik op die ontwrigting van voeselhulpkonvooie deur die Azeri-regering,
gelê. In Afghanistan verhinder internasionale sanksies teen die Taliban-regering dat hulp aan
miljoene mense in nood verleen word. Dieselfde kan gesê word van Sirië wat steeds worstel met
hulpverskaffing ná die dodelike aardbewing vroeër vanjaar.

Die aanwending van humanitêre bystand as ’n politieke werktuig om regerings tot bepaalde
standaarde te dwing, het gewoonlik ’n groter negatiewe effek op die plaaslike bevolkings as op die
regerings waarop die beperkings gemik is. Meer nog, is die mate van diefstal en korrupsie binne die
hulpverleningsektor die teken van die worsteling wat mense in ’n gevalle wêreld leef.

Hoewel die armes en behoeftiges altyd tussen ons sal wees (Matteus 26:11), bied die gebrokenheid
van die huidige stelsel aan Christene in besluitnemingsposisies die geleentheid om gesprekvoering
oor die belangrikheid van eerlikheid en integriteit in die versorging van diegene in nood, aan te
knoop. Behoorlike etiek en versorging van die behoeftiges is beginsels wat deur baie gelowe
aangehang word, en dit bied gelowiges die geleentheid tot “brugbougesprekke” met mense van
ander gelowe.

Baie geloofsgebaseerde NRO’s is Christen-organisasies, wat die Kerk verdere toegang tot lande met
min openlike Christelike teenwoordigheid, soos Afganistan, bied. Die Christelike bystandsektor is dus
in die posisie, en behoort daarvan oortuig te wees om binne Bybelse beginsels op te tree wanneer
die uitvoer van humanitêre operasies onderneem word.

Leierskap en ’n lewe wat Jesus se karakter uitbeeld, kan ’n effektiewe evangeliseringswerktuig wees
binne geslote lande waar openlike evangelisasie nie moontlik is nie. Deur die woorde volgens
Matteus 25 en Johannes 13 na te volg, “want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; ek
was dors, en julle het my iets gegee om te drink … Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van
die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen,” en “As julle
mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is”, kan die Kerk bid dat hulle wat in nood is,
die nodige hulp sal ontvang, en daarmee saam ook die liefde en heil wat in Jesus is, sal ondervind.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat regerings ’n deernis vir hulle mense sal ontwikkel en met liefde, integriteit en
wysheid sal optree,
• dat humanitêre bystand tydig en doeltreffend aan hulle wat dit nodig het, gelewer sal word,
• dat die Kerk ’n brug tussen regerings, humanitêre organisasies en bevolkings wat swaarkry,
sal wees en dat mense die liefde van Christus deur humanitêre inisiatiewe sal ervaar.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 08/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here