Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Elke jaar is dit vir ons ’n groot lekkerte om die jaartema te kies vir Solidariteit Helpende Hand. Dit is nie net vir ons ’n tema waarmee ons heel jaar kan werk nie, maar ook ’n tema wat verbondenheid vestig onder ons donateurs, personeel, vrywilligers en die gemeenskap. Hierdie jaar is ons jaartema “welstand”.
Bevorder holistiese welstand
Dit is vir ons belangrik om hierdie gedagtes en idees rakende holistiese welstand by ons gemeenskappe te bevorder. Ons moet gesels oor die uitdagings wat ons welstand as Afrikaner-kultuurgemeenskap beïnvloed en ook saam oplossings kry oor hoe om ons welstand te bevorder en ’n voorspoedige toekoms te skep vir ons nageslagte.
Omsien na kwesbares
Ons verwys graag na die term: Welstand deur Werksyn. Wanneer ons omsien na kwesbare groepe in die gemeenskap, soos ons kinders, bejaarde persone en persone met gestremd-hede, dan fokus ons op ons bestaansrede en dit is om welstand deur werksyn in en deur ons gemeenskap te help verseker. Ons doen dit met elke tassie wat uitgedeel word aan ’n graadeen-leerling wat andersins nie skryfbehoeftes sou hê nie. Ons doen dit met elke maatskaplike kwessie wat hanteer word, met elke veilige hawe naamlik “Ons Plekke” wat gebou word vir ons kinders. Met elke rentevrye studielening wat ons jong mense se lewens radikaal verander.
Maar wat beteken welstand?
Ek sit kaalvoet op die gras onder ’n groot boom by een van Ons Plekke, dit is ’n sentrum vir ons kinders van Helpende Hand. Ek gesels met ’n tienerseun oor wat welstand beteken en ons praat oor sy nuwe haarstyl en oor die meisie by die skool van wie hy hou. Ons haak so ’n rukkie vas by die woord “welstand”. Ek probeer vir hom verduidelik hoe ons welstand sien en leef hier by Helpende Hand. “Marius,” probeer ek sterk praat en sy aandag weg trek vanaf die tennisbal wat hy aanhoudend in die lug op gooi, “wanneer die individu en gemeenskap in geborgenheid en verbondenheid betekenisvol en voluit hul opdrag uitleef op die plek en tyd waar die Here hulle geplaas het, geniet hulle welstand. Welstand omvat die kulturele, fisiese, sosio-emosionele, geestelike en finansiële gesondheid en stabiliteit van beide die individu en die gemeenskap.”
Gesonde en gelukkige hart en lyf
Natuurlik kyk Marius vir my asof ek mal is en gooi die bal verder in die lug op en af… Ek probeer weer. “Marius, welstand is as jou hart en lyf gesond is en jy gelukkig is.” Ek kan sien Marius verstaan nou wat ek probeer sê. Ons gesels verder oor die feit dat hy eendag ’n dokter wil word want hy wil ook kinders help soos wat die tannie by Helpende Hand se Ons Plek hom elke dag help. Hy noem vir my dat die tannie hom help met sy gedagtes. Sy is ’n gedagtedokter en dit is wat hy wil word. Wonderlik, dink ek by myself, die kind wil eendag terapie doen vir kinders wat sukkel met maatskaplike kwessies. So bou ons aan welstand.
Die hartklop van werksyn
My agtjarige dogtertjie meen dat “werksyn” die selfoonsein is wat ons by die werk het sodat ons mense kan bel. Ek lag want dit kan ook seker waar wees. Vir ons by Helpende Hand beteken werksyn: Lede van ’n gemeenskap koester werksyn as hulle met selfverantwoordelikheid betekenisvol, roepingsgedrewe en in verbondenheid met mekaar werk met die oog op ‘n vervulde en vrye toekoms. Hoe mooi is dit nie? Dit spreek boekdele van ons elke dag se roeping hier op hoofkantoor en in elkeen van die 200 takke en 127 Ons Winkels en 7 Ons Plekke landswyd.
Met “Welstand” as ons 2025-jaartema bied Helpende Hand met oop hande, oop harte en met God se groot genade die volgende vir ons gemeenskap:
• Toegang tot die geleentheid om te studeer deur die Studietrust
• Vaardigheidsopleiding in versorging deur die SHH Opleidingsinstituut
• Welstandsgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur
• Praktiese projekte waarby die gemeenskap betrokke kan raak
• Gemeenskapskonsessie-netwerk van Ons Winkel
• Kleuterskool- en naskooldienste deur Ons Plekke en terapeutiese dienste deur Ons Sentrum
Mag 2025 vir ons liefde in God en welstand deur werksyn inhou. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 03/02/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.