Geskryf deur: Sumarie Smit
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Kadoef! ’n Boom het omgeval! Ons het vinnig buitentoe gehardloop om ondersoek in te stel en daar het hulle na ons gestaar met vier pikswart ogies. Twee uile – Afrika-bosuile. Een het oorleef, die ander een nie. En so het die reis begin met ons trotse aanneming van die oorlewende, wat ons Cinnamon genoem het. Vertrou ons ongelooflike Skepper om selfs deur ’n spesery te praat.

Om vir Cinnamon te sorg
Hierdie klein dame het regte vleis nodig gehad – nie pap nie. Dag-oue kuikens of muise sou ideaal gewees het, maar aangesien ons diep in die bos woon, moes ons improviseer. Aanvanklik was hoenderfilette uit ons yskas voldoende, daarna opgekapte tarentale. Snaaks genoeg kon ons geen muise vind nie, al is hulle volop in ons area. Klein Cinnamon het ’n geliefde deel van ons gesin geword en kort voor lank moes sy in haar eie uilboks intrek.

Op ’n stadium het ek besef ek het pas haar laaste maaltyd vir haar gegee. Tydens my stiltetyd het ek hierdie bekommernis na die Here gebring, asook die feit dat ek haar nie kon versorg of leer jag soos haar ma sou kon nie. Ek het my bekommernisse aan God se voete neergelê. Later daardie oggend het ons pointerhond, Vanilla, van een van haar jagtogte teruggekeer en trots ’n groot rot voor my op my voorstoep neergesit. Ek het sprakeloos gestaar en by myself gedink: “Ek is absoluut seker dat God sopas ons hond gebruik het om ons uiltjie te voed. En hoe ongelooflik dat ek GEEN BEHEER hieroor gehad het nie.”

Op daardie oomblik het ek ’n oorweldigende gevoel van vryheid en versekering van God ervaar: “Op dieselfde manier sal Ek sorg vir hierdie sending, Elpela-kamp, waartoe Ek julle as ’n gesin geroep en gelei het.”

’n Onverwagte hereniging
Sowat 35 tot 40 dae nadat Cinnamon in ons lewens gekom het, het nog iets ongeloofliks gebeur. Ek het begin opmerk hoe twee volwasse bosuile elke aand omstreeks sesuur nader aan haar kom. Die een het altyd nader gekom na dieselfde boom of net langsaan, terwyl die ander een altyd verder weg gebly het (asof hy vir gevaar uitkyk).

Hulle het net gekyk terwyl ek haar gevoer het. Ek het opgemerk dat Cinnamon se eetlus soggens afgeneem het, sy het voorheen haar ontbyt verslind. Iets het beslis gedurende die nagte verander. Een aand het ek buitentoe gegaan en vir klein Cinnamon agter ons voertuig op die grond gesien.
Dit was vreemd, want sy het nooit ver van haar uilboks af wegbeweeg nie. Iets het my oog gevang, nie ver van haar af in die boom nie. Toe ek opkyk, was ek weer SPRAKELOOS. Dit was ’n volwasse bosuil. Ek het skielik verstaan en net geweet in my hart dat Cinnamon se ma na haar teruggekeer het en haar nou leer jag. Ek het aan my gebed gedink en gevoel asof ek ’n wonderwerk aanskou. Twee dae later het sy saam met haar ouers vertrek.

’n Vreugdevolle bevestiging
Ongeveer drie weke later het ek in die bos agter ons huis gaan stap en die klein uilegesin saam gesien. Toe ek nader kom, het twee van hulle weggevlieg en die derde een het net rustig bly sit. Ek het met Cinnamon gepraat soos ek altyd gedoen het, en ek het gesien hoe sy luister en reageer op my stem. Die volgende oomblik het sy ’n bolletjie uitgespoeg (’n klont onverteerbare dinge soos hare en bene). Ek het God gedank dat Hy dit vir my gewys het, want dit het bevestig dat sy sterk is en goed eet.

Terwyl ek oor haar reis nadink, besef ek hoe die bos die plek was waar Cinnamon haar Godgegewe doel ten volle kon uitleef. Sy is perfek versorg deur haar ma, en die beeld van die ma se vlerke oor haar babas het soveel meer gesimboliseer. Haar ma se sorg het my herinner aan Psalm 91:4: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.”

God se getrouheid
Vier jaar gelede het ons Elpela-kamp in geloof begin, met die vertroue dat God die droom wat Hy in ons harte geplant het, sou vestig. God het Cinnamon in ons lewens gestuur en sy skepping gebruik om ons te bemoedig en sy hart vir hierdie plek te openbaar. Sy droom, sy sorg, sy beskerming en sy voorsiening.

’n Nuwe hoofstuk
Terwyl ek hierdie getuienis skryf, het ek myself al ’n paar keer onderbreek om in ons agterplaas in te stap en na Cinnamon se baba-uiltjies, Pancake en Chai, te kyk. Cinnamon het gekies om haar baba’s hier te hê. In 2025, as dit God se wil is, sal Elpela-kamp amptelik open – nog ’n wonderwerk. Aan Hom alleen kom al die eer en heerlikheid toe!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 04/02/2025
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here