Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) het ’n fokuspunt van debat regoor Suid-Afrika geword. Al word dit voorgehou as ’n maatreël om die land se onderwysstelsel te verbeter en te moderniseer, het dit ernstige kommer gewek oor die impak daarvan op ouerregte, skoolbeheer en gemeenskapsbetrokkenheid.
BELA in ’n neutedop
Die BELA-wetsontwerp, wat reeds in 2013 opgestel is, vervang die Skolewet van 1996 en is daarop gemik om Suid-Afrika se onderwysstelsel te hervorm. Dit bring beduidende veranderinge aan hoe skole funksioneer, insluitend wysigings aan beheer, taalbeleide en tuisonderrigregulasies. In wese poog die BELA-wet om besluitneming binne die Departement van Basiese Onderwys te sentraliseer, wat die outonomie van skoolbeheerliggame in sake soos toelatings- en taalbeleide verminder. Vir baie mense wek dit kommer oor die moontlike verlies aan gemeenskaps- en ouerinvloed in hul kinders se opvoeding.
Die BELA-wet se hoofveranderinge:
• Verpligte graad R: Alle kinders moet teen die ouderdom van vyf vir graad R ingeskryf wees.
• Skoolbeheer: Skoolbeheerliggame (SBL’e) moet hul taal- en toelatingsbeleide vir goedkeuring aan provinsiale hoofde van departemente voorlê, wat SBL-outonomie verminder.
• Tuisonderrig: Tuisskolers moet die nasionale kurrikulum volg en gereeld deur eksterne partye ge-assesseer word. Studente wat by aanlyn skole ingeskryf is, kan nou as tuisskolers registreer.
• Gedragskode: ’n Gestandaardiseerde gedragskode vir leerders is ingestel.
• Lyfstraf en inisiasies: Hierdie praktyke word uitdruklik afgeskaf.
Wat veroorsaak die kontroversie?
Alhoewel die BELA-wetsontwerp daarop gemik is om bestuurs-uitdagings aan te pak en opvoedkundige beleide met grondwetlike waardes te belyn, het dit kommer onder baie gemeenskappe ontlok. Kritici voer aan dat die sentralisering van besluitneming – veral oor taal- en toelatingsbeleide – die voortbestaan van enkelmediumskole, insluitend Afrikaanse instellings, bedreig. Die strenger regulering van tuisonderrig het ook ouers ontstel wat die erosie van hul opvoedkundige en godsdiensvryheid vrees. Baie teenstanders meen dat die wets-ontwerp gemeenskapsgebaseerde besluitneming, linguistiese diversiteit en opvoedkundige vryheid in gevaar stel.
Huidige status van die BELA-wetsontwerp
Sedert 13 September 2024 is die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette amptelik ’n wet in Suid-Afrika. Ten spyte van die goedkeuring daarvan, is die implementering van sekere bepalings met omsigtigheid benader. President Ramaphosa het aangekondig dat die toepas-sing van klousules 4 en 5, wat betrekking het op skooltoelating en taalbeleide, vir drie maande uitgestel word, wat die uiteenlopende menings rondom hierdie spesifieke aspekte van die wet weerspieël. Vanaf 13 Desember 2024 is die konsultasietydperk verby en die Wet word nou volledig geïmplementeer. Die debat oor die BELA-wetsontwerp duur voort, met verskeie belanghebbendes, soos AfriForum en Solidariteit, wat regstappe teen die wetsontwerp geïnisieer het. Hulle beweer dat president Ramaphosa irrasioneel opgetree het in die implementering daarvan.
Voorstanders versus kritici
Voorstanders voer aan dat die BELA-wetsontwerp teenstrydighede en ongelykhede in die onderwysstelsel sal aanpak, veral in onderbefondsde skole. Kritici, daarenteen, beskou dit as oordrewe ingryping wat regeringsbeheer bo gemeenskaps- en ouerinvloed plaas in die vorming van ons kinders se opvoeding.
GODSDIENSVRYHEID
Gegewe die werk wat Freedom of Religion South Africa (FOR SA) doen in die pleit vir en bevordering van godsdiensvryheid, het ons hulle genader vir hul insigte oor die potensiële impak van die wetsontwerp vanuit ’n godsdiensvryheidsperspektief.
“Volgens FOR SA bedreig die BELA-wetsontwerp nie direk godsdiensvryheid nie. Die beskerming van godsdiensvryheid in die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet bly onveranderd, wat vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole waarborg, onderhewig aan sekere redelike voorsorgmaatreëls. Tog kan die BELA-wetsontwerp indirek ’n impak hê op godsdienstige onderrig deur moontlik die magte en bevoegdhede van skoolbeheerliggame (SBL’e) en ouers se vermoë om tuisonderrig te gee, te beperk. SBL’e bepaal die kultuur en konteks van openbare skole en verteenwoordig ouerlike gesag in die openbare skoolstelsel. Die SBL moet byvoorbeeld die skool se beleid oor godsdiens bepaal.
Ouerbetrokkenheid is die belangrikste en doeltreffendste manier vir ouers om te verseker dat hul reg om hul kinders volgens hul geloof en morele waardes groot te maak, nie by die skool ondermyn word nie. Dit sluit in om op die SBL te dien en bewus te wees van wat kinders deur klasinhoud en gassprekers geleer word.
BELA wek ook kommer wanneer dit kom by leerderswangerskappe, aangesien dit die minister magtig om die bestuur daarvan te reguleer. Maar om regulasies te kan maak, ondermyn nie noodwendig ouerregte in die onderwys nie. Dit hang af van die werklike inhoud van die regulasies (byvoorbeeld of dit ouerregte handhaaf deur kennis en toestemming te vereis) en of dit aanvaar is na ’n betekenisvolle openbare raadplegingsproses (wat insluit dat ouers se menings verkry en voldoende gewig daaraan toegeken word).”
Wat is jou mening oor die BELA-wetsontwerp?
Stuur ’n e-pos na info@juig.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 07/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








