Geskryf deur: Herman de Kock
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die gebeure van Genesis 3 en die tragiese gevolge daarvan is ’n tema wat in sekere kringe van die Kerk van Christus nie die nodige aandag kry nie. Ons verstaan van God (teologie) kan vinnig skipbreuk ly wanneer ons nie die realiteit van die sondeval konfronteer nie. En dit lei tot ’n proses waar ons onsself moet konfronteer.
Begin by die begin
Eenvoudig gestel, ons moet deur Genesis 3 gaan om die volle betekenis van Jesus se koms na die aarde, tyd op aarde, kruisiging en opstanding te besef. Gaan lees gerus ook Romeine 7. Paulus, en ons saam met hom, moet deur die innerlike worsteling van hoofstuk 7 gaan om by Romeine 8:18 uit te kom: “Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.” So ook Romeine 8:31.
’n Praktiese illustrasie
So, hoe deel ek hierdie konsep met my kinders? Een van die metodes is om vir hulle ’n plantjie te gee – maak seker dat dit ’n plant is wat baie sonlig en water nodig het. Vertel vir hulle dat dit die vertroue wat God in die mens geplaas het simboliseer. Daarmee saam het die mens toegang tot alles op aarde gehad, behalwe die een boom. God het die mens met alles vertrou; het jy al gedink hoe baie dit is? Net die een boom moes ons van wegbly.
Gevolge van ongehoorsaamheid
Goed, wys dan vir jou kinders dat jy hulle vertrou met hierdie plantjie orals in die huis en die erf. Maar kies ’n plek in die huis wat donker is. Gaan wys dan vir hulle wat gebeur as ’n mens daardie plantjie in daardie stikdonker plek sonder water vir ’n hele paar dae, selfs weke los. Dit simboliseer die sonde in die vorme van nie na God luister nie en om weg van God (die Lig) te wees. Die uiteinde is die dood. Deel dan met hulle die plan wat God reeds gehad het om Jesus te stuur om aan die kruis te sterf om reg te maak wat die mens verkeerd gedoen het.
Verlossing in Jesus
Neem ’n saadjie en plant dit in ’n nuwe pot met goeie grond (gehoorsaamheid), beenmeel (invloed van die Heilige Gees), genoeg water (Bybel lees en bid) en goeie son (Christus se teenwoordigheid in ons lewens) en verduidelik hoe Jesus kom sterf het om vir ons uit die strik van die sonde en dood te kry. Een ding moet ons besef: Ware bekering en daaropvolgende redding kan net geskied deur sondebelydenis en desperate uitroep na Jesus as ons Verlosser. Kyk gerus uit vir ons materiaal oor hoe om so ’n les met jou gesin te deel tydens julle Bybelstudie as gesin.
HERMAN DE KOCK – hoof van die interkerklike jeugbediening, Geloofstroom. Kontak hom by info@geloofstroom.org of op Facebook of Instagram.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 08/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








