Geskryf deur: Richard Prinsloo
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Boedelbeplanning is ’n noodsaaklike deel van goeie rentmeesterskap. As Christene het ons die verantwoordelikheid om die geld en bates wat God aan ons toevertrou het, met wysheid en tot sy eer te bestuur, selfs na ons afsterwe.
Wat is ’n testament?
’n Testament is ’n regsdokument wat bepaal wat met jou besittings gebeur wanneer jy sterf. Dit sluit in eiendom, motors, geld, juweliersware en sentimentele items. Alle volwassenes behoort ’n testament te hê, veral as jy onlangs getroud of geskei is, kinders het, ’n jong werkende is, eiendom of ander bates besit, finansiële afhanklikes of enige beleggings het.
Voordele van ’n testament:
1. Kies jou erfgename en allokeer jou rykdom volgens jou wense.
2. Wys ’n voog aan vir minderjarige kinders.
3. Wys ’n professionele eksekuteur aan om jou boedeladministrasie glad te laat verloop.
4. Voorkom gesinskonflik en onnodige rusies na ’n sterfte.
5. Verminder boedelbelasting en vermy kontanttekorte.
Wat gebeur as jy nie ’n testament het nie?
As jy sterf sonder ’n testament sal ’n eksekuteur of Meestersverteenwoordiger aangestel word en jou bates verdeel volgens die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging. Dit kan ook langer neem en meer kos vir jou geliefdes om jou sake af te handel.
Die koste van sterfte
Die administrasie van ’n boedel bring verskeie kostes mee. Dit is nood-saaklik dat daar genoeg kapitaal in jou boedel is om hierdie kostes te dek.
- Eksekuteursfooie: Maksimum toelaatbare fooi is 3,5% van die bruto waarde van jou boedel plus BTW, en 6% plus BTW op alle inkomste wat in die boedel inkom na afsterwe.
- Oordragsfooie: Koste verbonde aan die oordrag van eiendom.
- Meestersfooie: Betaalbaar aan die Meesterskantoor vir boedeladministrasie.
- Administratiewe koste: Koste verbonde aan kennisge-wingadvertensies, hereregte, begrafnis, onderhoud, eiendomswaardasies, ens.
- Boedelbelasting: Belasting op die waarde van ‘n oorledene se eiendom. Jy betaal 20% op bedrae bo R3,5 miljoen en 25% op bedrae bo R30 miljoen.
- Skuldvereffening: Voordat jou erfgename enige erfporsie kan ontvang, moet al jou uitstaande skulde eers vereffen word.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 09/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








