Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Verskaf
Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek het vandeesweek amptelik sy agtste, splinternuwe kleuterskool en naskoolsentrum in die hart van Kleinfontein, Gauteng, geopen. Hierdie inisiatief is daarop gemik om gehalte Afrikaanse onderrig en versorging aan kinders van alle ekonomiese agtergronde te bied.
Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale strukture, het tydens die openingstoespraak op 5 Maart beklemtoon dat die dryfkrag agter die stigting van die sentrum die gemeenskap se behoefte aan gehalteonderrig, kinderveiligheid, en die oordrag van Christelike waardes en die Afrikanerkultuur was.
“Ons Plek-kleuterskole en -naskoolsentrums bied ‘n uitnemende diens, en dit is ons andersoortige, unieke diens wat ouers en kinders aantrek,” het Oosthuizen gesê. Sy het verder verduidelik dat ouers al hoe meer besef dat taal, geskiedenis en kultuur in ‘n opvoedkundige omgewing noodsaaklik is om kinders tot onafhanklikheid te lei.
Kleinfontein, gestig in 1992, is ‘n Afrikaner-kultuurgemeenskap naby Pretoria. Die gemeenskap strek oor ongeveer 860 hektaar en huisves sowat 650 inwoners. Die gemeenskap, soortgelyk aan sy sustersdorp Orania, fokus op selfbestuur en die behoud van die Afrikanerkultuur en -erfenis.
Oosthuizen het die belang van die kleuterfase in ‘n kind se ontwikkeling beklemtoon: “Die kleuterfase is ‘n tydperk van snelle groei en verandering. Dit is ‘n vensterperiode vir ontwikkeling wat die fondament lê vir die kind om sy of haar potensiaal te bereik.”
Die opening van die sentrum in Kleinfontein is deel van Solidariteit Helpende Hand se groter visie om hul dienste na alle streke in Suid-Afrika uit te brei. Tans versorg 49 toegewyde Ons Plek-personeellede daagliks meer as 400 kleuters en skoliere landswyd by agt sentrums.
Oosthuizen het die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak en by te dra tot die sukses van die sentrum.
Wat die geleentheid nog meer spesiaal gemaak het, was die opening van Ons Winkel Kleinfontein, Helpende Hand se 127ste winkel. Ons Winkel is Solidariteit Helpende Hand se netwerk van tweedehandse skenkingswinkels reg oor Suid-Afrika. Die winkels verkoop geskenkte items soos klere, huisware, meubels, boeke en speelgoed teen bekostigbare pryse. Die wins word aangewend om Helpende Hand se gemeenskapsprojekte en die Helpende Hand Studietrust te ondersteun. Die Studietrust bied rentevrye studielenings aan studente.
Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het by die geleentheid gesê dit is vir Helpende Hand ‘n voorreg om die Ons Plek-vlag ook in Kleinfontein te hang. En dit is ‘n eerste om op dieselfde dag ‘n Ons Winkel in dieselfde gemeenskap te kan open. “Ons hoop en bid dat die kinders se drome bewaarheid word, dat hulle toekoms goed mag wees, en dat hulle uit die veiligheid van Ons Plek Kleinfontein die toekoms kan aanpak,” het hy gesê.
Stefan Wiese, hoof- uitvoerende beampte van Kleinfontein, het op sy beurt gesê: “Kinders is die hoop vir ‘n toekoms, daarom is dit belangrik dat ons reeds vandag in hulle belê. Helpende Hand, Ons Plek Kleinfontein bied elke kind die geleentheid om deel te wees van daardie toekoms. Kinders is die lewende boodskappe wat ons stuur na ‘n tyd wat ons nie sal sien nie, en dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat ons kinders bewaar word sodat ons nalatenskap bewaar bly.”
Vir meer inligting, besoek www.helpendehand.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 10/03/2025
Foto’s verskaf.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.