Geskryf deur: Louis Brittz
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Paulus gee Timoteus opdrag om dit wat hy by hom geleer het aan betroubare manne oor te dra, wat dit weer aan ander kan leer (2 Tim 2:2). Dit lyk my Timoteus (en ander Christus-volgelinge) het dit goed gedoen, want die Evangelie is nog steeds lewend en kragtig in ons midde. Net soos dit met hulle die geval was, is die oordrag van kennis aan ’n volgende geslag vir ons ’n groot opdrag.
Is jy gehoorsaam aan hierdie opdrag?
Die meeste van ons dink egter nie dat ons veel het om oor te dra nie. Ons is nie noodwendig onderwysers of dosente nie, en reken ons het nie ’n gawe van “lering” nie. Of ons dink “ek sal nog eendag…” en dan verdwyn ons tyd tussen neus en ore. So gaan baie van wat die Here ons geleer het eintlik verlore. Dis hartseer – en myns insiens ongehoorsaam.
Nie een van ons by Nuwe Lof is dosente nie
Daar is nie juis instansies wat kundigheid in ons vakgebied aanleer nie. Nie een van ons het ’n graad in lofprysing nie. Ons het alles wat ons weet in praktyk geleer, meesal deur ’n klomp foute te maak. Ons voel eintlik nie opgewasse vir die taak om ons kennis oor te dra nie. Ons besef egter dat die Here ons hierin tot gehoorsaamheid roep. As ons eerlik en broos oor ons foute is, en ook oor alles wat ons self nog probeer leer, kan ons ’n nuwe geslag aanbiddingsleiers baie pyn spaar en die Kerk dien. Dit help dat ons as ’n span werk en die bietjies wat ons almal weet bymekaar gooi. Dink aan ’n koei met een uier, maar baie spene.
Om lof en aanbidding te lei het verskeie fasette
Dit verg karakter, geestelike volwassenheid, talent, instrument-vaardigheid, spanbouvermoë, tegnologiese kennis… die lysie is lank en die opleiding is dun gesaai. Die behoefte is so groot dat baie musikante hulleself in hierdie taak vind lank voor hulle noodwendig daarvoor gereed is. Dit was met almal van ons die geval! Ons vertrou die Here dat ons baie dorings uit die pad kan vee vir dienaars in die Kerk wat met ’n roeping, visie en ywer lofprysing lei. Ons glo ons kan dit aan betroubare manne en vroue oordra, wat op hulle beurt dieselfde sal doen!
WAT IS NUWE LOF?
Die medewerkers wat saam nuwelof.co.za die lig laat sien, se missie is om die Afrikaanse Kerk te bemagtig om aan te hou nuwe liedere sing en speel tot God se eer alleen. Ook om hulpmiddele te skep sodat gemeentes dit maklik kan begelei. Groepe liedjieskrywers kom bymekaar en skryf saam aan nuwe musiek vir die webwerf. Opnames word gemaak sodat gemeentes kan hoor hoe dit klink met ’n vol orkes en met samesang. Elke liedjie se akkoorde, melodielyn-bladmusiek (lead sheet), liriekvideo en begeleidingsnitte (tracks) word beskikbaar gestel om gemeentes te help met die sing en speel daarvan. Louis Brittz en Retief Burger is die moderators van die webwerf en sameroepers van die groepe skrywers.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 06/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.