Geskryf deur: Maryna van Wyk
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Vroegoggend kom ’n jongman deur die mistigheid aangestap oor die lang-uitgestrekte oefenbaan by die Fairview-resiesbaan buite Gqeberha. Dit is skuins na vyfuur en hy is soos gewoonlik op pad na die perdestalle, ’n kinderlike opgewondenheid bruis deur sy are. Die 20-jarige jokkie, Donald Geerthsen, is elke dag stiptelik op sy pos. Hier werk hy met sowat 24 resiesperde wat daagliks vertroetel, gevoer en elkeen volgens ’n spesiale oefenprogram afgerig word. Sy lewe is stewig geanker in sy geloof en liefde vir die Here.
’n Droom bewaarheid
Al die perde van eienaar Lorette Louw van Gauteng word soos kinders behandel. Die perde volg ’n spesiale dieet en word saans met komberse toegegooi. Donald, ’n boorling van Pretoria, leef tans sy droom. Die sproetgesig-jongman het verlede jaar sy professionele jokkielisensie gekry nadat hy as 15-jarige by die SA Jokkie-akademie gekeur is vir opleiding.
Op die rug van Rainbird
Alhoewel hy in ’n bedryf is wat soms omstrede is, ry Donald elke wedren vir die Here. Dit het hy ook duidelik gewys toe hy in Oktober verlede jaar tydens sy kwalifiserende wedren op die rug van Rainbird gewen het. Daar is ’n tasbare band tussen hom en Rainbird, ’n vier jaar oue merrie. Rainbird ken sy voetstappe en begin liggies snork as Donald die stal se deur elke oggend oopmaak. Die ligbruin perd kom nader gestap en lê haar kop op sy skouer neer.
Die wedren wat hy nooit sal vergeet nie
Vir Donald was sy kwalifiserende wedren ’n dag wat hy vir die res van lewe sal koester. Die oomblik toe Rainbird oor die wenstreep hardloop het hy triomfantlik sy vuis in die lug gehou. Na die wedren het hy nederig verskeie kere sy vinger na bo gewys om vir sy Skepper dankie te sê vir die voorreg om aan perde-wedrenne te kan deelneem. Lorette vertel hy het daardie laaste paar meter na die wenpaal hardop vir Rainbird aangemoedig om alles te gee en sy het geluister. Die ander jokkies het na die wedren ’n erewag gevorm en vir Donald hande geklap. Die trane het gevloei.
Van krag tot krag in die Here
Donald vertel dat die Here van kleinsaf ’n groot rol in sy lewe speel. Sy ma, Jean, is ’n pastoor by die Lyttleton Metodistekerk in Pretoria. “Ek glo die Here sal my help om van krag tot krag te gaan in my beroep. Ek gee aan Hom al die eer tydens elke wedren,” sê hy.
Sukses gegrond in geloof
Lorette is ’n suksesvolle sakevrou in Gauteng, haar renperde is haar stokperdjie. Sy gee alle eer aan die Here en sê dat sukses ’n seën van bo is. “Ek kan nie ’n dag begin sonder om dankie te sê vir sy genade nie. Ek kan nie sonder Hom daagliks sakebesluite neem nie,” sê sy. Lorette gebruik Psalm 37:4-5 as rigtingwyser wanneer sy na verskeie besighede omsien.
’n Blink toekoms
Sy was daar toe Donald op Rainbird se rug gewen het. “Dit was hoendervleis-oomblikke vir die hele span. Die wedrenbedryf gaan oor soveel meer as net weddenskappe. Ek probeer van my kant af die bedryf skoon hou van enige ongerymdhede, dat wedrenne aan streng etiese kodes voldoen. Ons is ’n familie hier en Donald gaan in die afsienbare tyd my perde ry. Hy is ’n aanwins vir die bedryf en gaan op sy beskeie manier ’n verskil in mense se harte maak”, sê sy.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 05/03/2025
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.