Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Verskaf
Organisasies sonder winsbejag (OSW’s oftewel NPOs) speel ‘n noodsaaklike rol in die bevordering van voorspoedige gemeenskappe. Daarom bring Solidariteit Helpende Hand op Wêreld- NPO-dag (27 Februarie) hulde aan dié onbesonge helde.
“Hierdie organisasies vul noodsaaklike gapings in dienste, tree in vir kwesbare bevolkings en reageer op krisisse waar regerings dikwels nie kan of wil optree nie. Hul werk verseker dat humanitêre hulp, gesondheidsorg, opvoeding en ekonomiese geleenthede diegene bereik wat dit die nodigste het,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Noëth sê in Suid-Afrika speel OSW’s ‘n deurslaggewende rol in die oorbrugging van gapings in onder meer opvoeding, gesondheidsorg, maatskaplike kwessies en armoedeverligting.
“Wêreld- NPO-dag dien as ‘n globale platform om die toewyding en impak van hierdie organisasies te erken. Dit is ‘n dag om hul verbintenis te waardeer, hul stemme te versterk en openbare en private vennootskappe aan te moedig om hul pogings te ondersteun,” sê hy.
Een van die grootste uitdagings wat Suid-Afrikaanse OSW’s in die gesig staar, is befondsing. Baie is afhanklik van donasies en toekennings, wat dikwels wisselvallig is. Ten spyte hiervan, dryf hul veerkragtigheid en innovasie steeds positiewe verandering. ‘n Voorbeeld hiervan is Solidariteit Helpende Hand. Die Helpende Hand Opleidingsinstituut rus byvoorbeeld versorgers toe met vaardighede om tuisversorging van ‘n hoë gehalte te lewer; dit het ‘n direkte impak op gemeenskappe se welstand. Helpende Hand se Studietrust en Ons Plek- kleuterskole en naskoolsentrums speel ‘n belangrike rol in die opleiding en opvoeding van die volgende geslag. Die Ons Winkel-liefdadigheidswinkels bring gemeenskappe saam om Helpende Hand se inisiatiewe te befonds en maatskaplike werkers aan te stel.
“Die rol van OSW’s in Suid-Afrika kan nie genoeg beklemtoon word nie. Ons sien elke dag hoe hierdie organisasies lewens verander deur hoop en hulp te bring. Dit is ons verantwoordelikheid as gemeenskap om hierdie organisasies te ondersteun sodat hulle hul werk kan voortsit en uitbrei,” sê Noëth.
Noëth waarsku egter dat Suid-Afrika nie net ‘n ekonomiese of infrastruktuurkrisis in die gesig staar nie, maar ook ‘n massiewe maatskaplike krisis. “Ons is bekommerd oor krag, water en misdaad, maar ons maak te min van die maatskaplike nood wat net vererger. As die regering nie sy plig nakom om noodsaaklike dienste aan die kwesbaarste groepe te lewer nie, is dit die gemeenskapsorganisasies wat daardie gapings moet oorbrug – en hulle kan dit nie alleen doen nie.”
Volgens Noëth is dit belangrik dat Suid-Afrikaners mekaar ondersteun en die regte van kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en individue wat sukkel met verslawing beskerm. “Rehabilitasie en die versterking van gemeenskappe is die enigste manier om ‘n stabiele, veilige samelewing te bou. Daarom moet ons gemeenskapsorganisasies ondersteun en die regering aanhou druk om sy pligte na te kom waar nodig,” benadruk hy.
Op Wêreld- NPO-dag word Suid-Afrikaners opgeroep om organisasies sonder winsbejag te ondersteun – hetsy met vrywillige werk, donasies, of bloot deur ander van hul inisiatiewe bewus te maak.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 27/02/2025
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.