Geskryf deur: Lehane Oosthuizen
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Ses jaar gelede, toe ek 36 was, het God my tydens ’n tyd van vas en gebed na die berge geroep om ’n professionele bergfietsryer vir Hom te word. Dit was glad nie wat ek verwag het nie. Ek en my man is pastore van ’n kerk in Kuilsrivier. Ek het geen sportagtergrond gehad nie en was ook glad nie gemaklik op ’n fiets nie.
Ek was nie jonk en vreesloos nie
As ek kompeterend wou ry, moes ek leer hoe om bane met spronge, rotse en skrikwekkende hoogtes aan te durf. Die meeste vrouekampioene begin al op 12 of 13 ry; ’n mens moet eintlik begin bergfietsry wanneer jy nog nie ’n bang haar op jou kop het nie. As jy ouer is, is dit baie meer uitdagend (maar al hoe meer vrouens begin aan die sport deelneem).
My man het my begin afrig en ons het vir groot vermaak gesorg soos ons op die baan gestry het – hy por aan en ek trek net rem!
God is getrou
Dit het alles egter vrug afgewerp, want ek is tans in die topvyf van die Elite-bergfiets- Olimpiese dissipline in Suid-Afrika en het vanjaar derde gekom met die Absa African Jersey-kategorie en vierde met die Tankwa Trek. Dit is nie ’n getuienis van my talent nie, maar God se getrouheid wanneer ons besluit om Sy plan te volg.
Om vrees te oorwin
Buiten die feit dat ek nou ’n hele nuwe sendingveld het, glo ek dat daar dinge was wat die Here by my wou inbou – en as ek die Bybel reg verstaan, word hierdie dinge vasgelê deur lyding heen. Ek moes volharding leer en om braaf te wees. Ek onthou hoe my hande begin bewe het; ek wou huil en huis toe gaan, maar ek moes die vrees te bowe kom.
Watter roete gaan jy kies?
Ons deins maklik terug vir dinge wat die Here ons vra om te doen, want ons is bang ons misluk. By die bane is daar altyd ’n A- en ’n B-lyn. Die A-lyn is bietjie vinniger, maar jy sal dalk ’n gap-jump moet doen of by hoë rotse afpyl. Die B-lyn is veiliger, maar stadiger. Daar is altyd opsies en jy moet besluit: Kan ek hierdie A-lyn hanteer? Jy moet leer wanneer dit is dat jy ’n deurdagte besluit neem gegrond op jou vermoëns en wanneer dit op vrees gegrond is. Ons geestelike lewe het talle soortgelyke keuses.
Weier om tou op te gooi
My missie is om hoop en passie in vroue se lewens aan te wakker. Om mense aan te moedig om nie met middelmatig tevrede te wees nie, maar om aan te hou groei, aan te hou glo en op te staan om nog ’n dag te veg, selfs ná teleurstelling. “Maklik” het nog nooit enige kampioene opgelewer nie. As ons by God se plan hou en ons weier om tou op te gooi, sal die ewige belonings ontsaglik groot wees. En op aarde lyk die belonings nie altyd soos ons dink nie …
’n Harde val op die growwe teer
Ek het my elmboog ernstig beseer tydens die Cape Town Cycle Tour toe ek teen 55 km per uur teen ’n afdraande af met die growwe teer kennis gemaak het. Ek het my skokbeentjie totaal weggeskuur op die teerpad. Die weefsel was afgeskeur en die ligamente weggeskuur. Ek het bebloed en met geskeurde fietsryklere by die Carl Bremer-staatshospitaal aangekom (ons het nie ’n mediese fonds nie). So sit ek in pyn en wag saam met die ander. Ek sien hoe lyk die ander mense. Hulle almal het nood; ek besluit: As die duiwel my hier ingebring het, gaan hy vandag jammer wees. Ek staan op en sê: “Dit is julle gelukkige dag. Ek is ’n pastoor en vandag is Sondag.” Toe bring ek vir hulle die Evangelie en vra vir wie ek kan bid. Ek bid vir die mense wat siek en seer is. Daardie kompetisie waar ek gehoop het om op ’n podium te klim, was toe nie my podium nie. Daar in die hospitaal voel ek die Here sê vir my: Dít is jou podium.
’n Sendingveld in Carl Bremer-staatshospitaal
Ek was agt dae lank in die hospitaal. Soms het ek gevoel ek is op ’n sendinguitreik in Afrika; ek wou nie huis toe gaan nie! Almal met wie ek gepraat het, was so ontvanklik vir Jesus. Dit was uiteindelik agt van die beste dae van my lewe.
Ek moes ’n paar operasies ondergaan. Die dokter het later vir my gesê dit is ’n wonderwerk dat ek die gebruik van my arm en hand teruggekry het. Hy kon nie verstaan hoekom die senuwee nie beskadig is nie, want die groefie in die been waarin die senuwee loop, was weg.
Eendag sit ek by die dagkliniek in Carl Bremer. Ek het kopseer, want ek moes vas vir die operasie daardie dag. Die dokter het ingekom en kortliks met ’n swart vrou gepraat, toe pak sy haar goedjies op om te loop, maar sy kon skaars op haar been trap. Ek het met haar gepraat toe sy verbykom en sy het my vertel dat haar knieskyf oopgebars het, maar hulle kon nie daardie dag opereer nie, sy moes huis toe gaan. Ek het gevra of ek vir haar kan bid. Die Here het haar knie net daar genees! Sy het jubelend rondgespring en vertel dat sy twee dae voor sy gekom het, gevas en gebid het en die Here gevra het om haar aan te raak – en Hy het! Wat ’n beloning om daar te wees as deel van God se antwoord op haar gebed!
Die moeilikste wedren op aarde
As jy my sou vra oor my moeilikste bergfietswedren ooit, sal die antwoord jou dalk verras. Ek het al baie wedrenne gedoen, insluitend die moordende sewe dae lange Absa Cape Epic, marathons, ultramarathons en hoë-intensiteit- baanrondtewedrenne, maar nie een van hulle kom naby aan die moeilikste een nie.
Tydens elke wedren is daar ’n private, stille stryd. Die moeilikheidsgraad van ’n wedren word nie bepaal deur die tyd in die saal, die steiltes of die toestande nie, maar jou gemoedstoestand. ’n Swak ingesteldheid is altyd gelyk aan ’n taai wedloop. Elke wedloop sal sy eie uitdagings bring, dit is hoe ons dit hanteer wat saak maak. Die versoeking om tou op te gooi en oor te gee, is een wat ons almal van tyd tot tyd ervaar wanneer ons stryd hewiger is as wat ons verwag het. Dit is nie ’n aanduiding van swakheid of ’n nederlaag nie. Dit beteken maar net – die stryd woed!
Wees versigtig wat jy in jou gedagtes toelaat. Ons het die genade ontvang om te kan kies wat ons dink en daardie gedagtes sal uiteindelik bepaal of dit ’n goeie dag of ’n slegte dag was.
Ja, ek het al ’n handvol aaklige wedrenne gehad. Dit was nie noodwendig dié waar ek die podium gemis het, geval het of die verkeerde afdraai geneem het nie. Dit was dié waar ek hoop verloor het.
Wees ’n ware kampioen
Die lewe is vol genade en om elke hoek en draai is daar ’n geleentheid om hierdie stryd weer te stry. Stry die goeie stryd van geloof, vernuwe jou gedagtes voortdurend met die onfeilbare Woord van God, sonder om ’n duim aan die vyand af te staan. Dit is in die hitte van die moeilikste stryd waar ware kampioene gebore word.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.