Die ware koste om Jesus te volg

Deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Geopende Deure Internasionaal het onlangs sy 2023 Wêreldwaarnemingslys (WWL) uitgereik. Dit is ’n jaarlikse ranglys van die 50 lande wêreldwyd waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar. Hierdie lys, wat nou in sy 30ste jaar is, skep bewustheid oor die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag ondervind.

Uiterste vervolging
Tans word meer Christene vir hulle geloof doodgemaak as enige ander tyd die afgelope 30 jaar. Meer as 360 miljoen Christene trotseer baie hoë of uiterste vervolging en diskriminasie weens hulle geloof. Dit beteken dat een uit elke sewe Christene nou ’n slagoffer van ernstige vervolging is.

Van die grootste bekommernisse oor die lande op vanjaar se ranglys is die verskerpte geweld teen Christene in lande suid van die Sahara, die toename in vervolging en digitale beheer in China wat die Kerk daar bedreig, die verslegtende toestande vir die Kerk in Suid-Amerika en die voortgesette druk op die Kerk in die Midde-Ooste.

Die vyf lande waar vervolging die ergste is
Noord-Korea is terug bo-aan die lys nadat dit verlede jaar deur Afghanistan onttroon is omdat die Taliban dié land weer in 2021 oorgeneem het. Noord-Korea was egter die vorige 20 jaar bo-aan die lys (vanaf 2002 tot 2021). Al het Afghanistan vanjaar na die negende plek gedaal, bly vervolgingsvlakke daar uiters hoog. Die groot daling in sy ranglysposisie is omdat die Kerk nog dieper ondergronds gegaan het as tevore – wat dit moeiliker gemaak het om geverifieerde data oor geweld teen Christene te bekom.
Somalië, wat in 2022 derde op die lys was, het vanjaar na die tweede plek opgeskuif. Dié land word gevolg deur Jemen in die derde plek, Eritrea in die vierde plek en Libië in die vyfde plek.

the-true-cost-of-following-jesus

Noord-Koreaanse Christen-vlugtelingvroue waag alles om die Evangelie te hoor en Jesus te volg.

’n Gevaarlike reis
Die getuienis wat volg, illustreer die aaklige werklikheid vir duisende Noord-Koreaanse Christene en die ware koste daarvan om in die lande op 2023 se Wêreldwaarnemingslys ’n volgeling van Jesus te wees:
Rebecca*, ’n Christen-vlugteling uit Noord-Korea, het self ervaar hoe gevaarlik dit is om ’n Christen in daardie land te wees. Hoewel dié dapper vrou nou in China woon en ander gelowiges daar bedien, word sy steeds deur ernstige gevaar in die gesig gestaar. Sy moet baie versigtig wees vir die polisie wanneer sy na ’n geheime plek diep in die Chinese platteland reis om haar “susters” te besoek – ’n groep Noord-Koreaanse vroue wat uit Noord-Korea gevlug het of deur mensehandel in China beland het.

“Ander soos ek is al gevang en in die tronk gegooi, maar dit is ’n risiko wat ek gewillig is om te loop vir die Evangelie. God se liefde en ons roeping om mekaar te dien, dwing ons om dit te doen, ondanks die gevaar. Dit is my grootste vreugde om die vroue te bemoedig. Ek sal daardie reis herhaaldelik aflê, selfs vir net een van hulle,” sê Rebecca.

As dié vroue gevang word waar hulle Rebecca ontmoet, kan hulle teruggestuur word na Noord-Korea, na ’n strafkamp waar hulle wreed gemartel sal word. As hulle met ’n Bybel betrap word, kan hulle hele gesin tronk toe gestuur word. Daar is selfs die gevaar dat die vroue tereggestel kan word.

open doors

Staan saam met hulle
Namate die vervolging verskerp, benodig vervolgde Christene jou gebede en ondersteuning meer as ooit tevore. Besoek opendoors.org.za om ’n GRATIS 2023 Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai om jou te help bid vir vervolgde Christene en te sien wie die 50 lande is waar vervolging die ergste is.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/03/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.