Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Neil Breebaart is ’n Christen-kunstenaar met unieke kuns wat abstrakte Christelike begrippe en boodskappe op ’n eenvoudige, maar treffende manier oordra. Art Refined is sy voltydse bediening en is in 2019 gestig met die leuse: Art with a message. Die missie is “om kuns te herstel na ons Skepper se oorspronklike bedoeling; mense se harte aan te raak, die evangelieboodskap te versprei en bowenal – om God te verheerlik.

Kuns is ’n universele taal
“Ek is nie ’n pastoor nie, maar “preek” wel deur kuns. God het my liefde vir kuns, my liefde vir Hom en my liefde vir mense bymekaargebring,” sê Neil. Die Here het vir hom 1 Korintiërs 14:10 gegee: “Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie.” “Ek het gevoel Hy sê daarmee dat kuns ’n universele taal is. Een wat oor alle taalgrense heen praat; dit oorbrug die grense tussen rasse, geslagte en ouderdomsgroepe. ’n Goeie illustrasie kan ’n teksvers oopbreek en iemand vir lank bybly. Dit is wat dit so ’n kragtige instrument maak,” verduidelik Neil.

Kuns geïnspireer deur die Gees
Dit is nie verrassend dat die idees en gedagtes vir Neil se kuns ’n verlengstuk van sy stiltetye met die Here is nie. “Dit het begin met my joernaaltyd saam met die Here. Ek het geskets wat ek uit my stiltetye geput of by die Gees gehoor het. Dit kom ook uit preke waarna ek luister. Die prediker sal iets sê en dan skiet die idees my gedagtes te binne en ek sien hoe ek die begrip visueel kan uitbeeld. Dan is daar hierdie Boek,” sê hy en wys na die Bybel. “Dit is my grootste bron.”

Die Bybel die beste bron van idees
“As kunstenaar is ’n mens bekommerd dat jou kreatiewe idees sal opdroog, maar die Bybel is onoortreflik. Jy kan vandag ’n teksvers lees en ’n idee kry; môre kan jy dieselfde teksvers lees en ’n ander idee kry. Die Bybel is ’n eindelose bron van inligting en inspirasie.”

Die boodskap kring al hoe wyer uit
Aanvanklik het Neil hierdie visuele boodskappe tydens die staat van inperking dan en wan met ’n paar vriende via WhatsApp gedeel Toe het dit begin uitkring na ander mense wat ook die boodskappe wou ontvang. Nou volg mense uit onder meer Australië, België, Amerika, Holland, die Filippyne, Engeland, Kenia en die Verenigde Arabiese Emirate vir Neil op Facebook, Instagram en sy Whatsapp-groep. Aanvanklik het hy nie eens sy naam op sy werk gesit nie en plaas steeds ook nie ’n watermerk daarop nie. “Dit gaan daaroor om die boodskap uit te dra. Ek glo die Here kan daarmee verrig wat Hy ook al wil,” sê hy. (Die oorspronklike dagstukkiekunswerke of afdrukke daarvan is egter te koop.)

’n Woord van die Here op die regte oomblik
Daar was byvoorbeeld ’n vrou op die groep wat haar hand lelik gebrand het en kliniek toe moes gaan. “Sy het langs ’n prostituut te lande gekom wat sleg geruik het en in ’n toestand was. Hoewel die vrou die prostituut wou bedien, het sy teruggedeins. Sy wou nie aan haar raak nie. Op daardie einste oomblik ontvang sy toe een van my WhatsApp-boodskappe. Dit was ’n skets met ’n bottel saniteermiddel wat die Woord op iemand se hande drup. Die Here het Sy liefde vir die prostituut in die vrou se hart uitgestort en sy het haar met daardie diep liefde bedien,” vertel Neil.

Die grootste respek vir die Bybel
Hoewel hy dikwels bladsye uit die Bybel in sy kuns gebruik, skeur hy nie ’n Bybel op nie. Hy gebruik bladsye van ’n Bybel wat uitmekaargeval het. Vriende het ook vir hom Bybels geskenk wat uitmekaarval. Hy het die grootste respek vir die Woord van God en glo dat die Here hierdie Skrif gebruik om mense te bereik. “Ek bied die Woord aan mense wat dalk nog nooit kontak met die Bybel gehad het nie. Ek het ook al ’n hele paar getuienisse ontvang van mense wat teksverse op my kuns lees en dan is dit die Skrif wat hulle vir daardie spesifieke dag nodig gehad het.”

Die vrou tydens Paasfees
Dit is wat tydens Paasfees met ’n vrou gebeur het. Neil het ’n kunswerk gemaak vir hulle kerk se Paasdiens.

“Ek het lukraak bladsye van die Bybel opgeplak en toe die skets van Jesus se arm en die Kruis gemaak. Die resultaat was dat die laaste Avondmaal op Jesus se arm was en die spyker in Jesus se hand ingekap in die verhaal van die vrou wat in owerspel betrap is. Die Gees het dit so laat uitwerk. Tydens die diens het die vrou gevoel die Here sê vir haar Hy het ’n boodskap vir haar aan die voet van die Kruis op die skets. Toe sy gaan kniel om dit te lees, was dit ’n Skrif waarmee die Here al lank met haar praat. So voeg die Gees spesiale fasette vir spesifieke mense in. Hy weet waar dinge moet wees en met wie dit moet praat. Hy is so lief vir ons dat Hy tot in die kleinste besonderhede moeite sal doen om dit vir ons te wys,” getuig Neil.

Kuns by die kerk
Neil is lief vir skilder en gebruik waterverf of olie, maar maak gebruik van verskeie materiale om verskillende tipes kunswerke te skep. “Ek gebruik enigiets waarop ek my hande kan lê, ek kan iets skeppend swys as die geleentheid hom voordoen. Dit gaan nie oor die kunswerk nie, vir my gaan dit oor die boodskap. Ek het al by funksies opgetree waar ek profetiese kuns op die verhoog doen terwyl die preek of lering aan die gang is. Ek hou daarvan om werkswinkels te hou en mense aan te spoor om dit te probeer. Dit gaan nie oor die kwaliteit van die kunswerk nie, dit gaan oor die boodskap. Jy kan ’n stokmannetjie teken en die boodskap steeds helder oordra.”

Profetiesekuns-werkswinkels
Die Here is besig om die “twee vissies” waarmee Neil tydens die inperkingstyd begin het, te vermeerder en om mense wêreldwyd te bereik. Sou jy of julle kerk belangstel om ook julle twee brode en vyf vissies te gebruik en kuns as universele taal in te span en mense met God se liefde te bereik, is Neil beskikbaar om ’n profetiesekuns-naweek of -werkswinkel aan te bied.

NEIL BREEBAART is beskikbaar as illustreerder of om ’n kunswerk in opdrag te doen. Kontak hom by neil@breebaart.co.za. WhatsApp hom by 072 257 4191 om by sy WhatsApp-groep aan te sluit en volg Art Refined op Facebook en Instagram.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

1 COMMENT

  1. Baie dankie Neil vir jou inspirerende boodskappe deur jou talentvolle Kunswerke! GOD’S Rykste seëninge vir jou!!! Dankie dat jy jou talente en Gawes met ons andere deel.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here