Geskryf deur: Alex Pollock 
Artikelbron: incontextinternational.org 

Etniese geweld duur voort in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) waar tientalle burgerlikes die afgelope naweek in ’n verdere aanval om die lewe gebring is.

In die oostelike provinsie van Iruti het ’n gewapende groep op Vrydag 14 April huise aan die brand gesteek, eiendomme geplunder en burgerlikes doodgemaak in die bloedige stryd tussen gewapende groepe en die sentrale regering. Na raming wissel die aantal sterftes tussen 30 tot meer as 40.

Aanvalle in die oostelike dorpies Kilo Etat, Matete en Itendy is oor dieselfde naweek aangemeld, wat opnuut vrees ingeboesem het by burgerlikes wat in toenemende etniese geweld vasgevang word. Die Ituri-provinsie is sedert 2017 ’n maalkolk van geweld en meer as 1,5 miljoen mense moes die afgelope ses jaar uit die provinsie padgee.

Die Koöperatief vir Ontwikkeling van die Kongo (CODECO), ’n guerillagroep, word van die mees onlangse aanvalle verdink. Volgens ’n woordvoerder van die Verenigde Nasies (VN) is meer as 200 burgerlikes die afgelope ses weke in Ituri deur gewapende groepe om die lewe gebring terwyl meer as 80 skole gesluit is en 2 000 huise vernietig is.

Beide Ituri en die naburige provinsie Noord-Kivu is sedert 2021 onder beleg. Die geweld het meegebring dat die DRK die grootste getal intern ontheemde mense in Afrika bevat. ’n Deel van die rede vir die geweld kan daaraan toegeskryf word dat die noord-ooste oor natuurlike hulpbronne soos goud en olie beskik. Gebrekkige regering, korrupsie en swak infrastruktuur het ook gelei tot onbestendigheid in die noord-oostelike streek van die DRK.

Etniese spanning tussen die Hema- en Lendu-mensegroepe dra ook by tot die konflik met sy vele fasette. Na raming is 100 gewapende groepe – insluitend die Ugandese Geallieerde Demokratiese Magte (ADF) – asook troepe uit ander Afrika-nasies, en 16 000 lede van die VN-vredesmag binne die DRK werksaam. Die ADF, wat in gelid is met die Islamitiese Staat, was verantwoordelik vir ’n aanval op 8 April waarin 20 mense in ’n dorp in Beni dood is.

In ’n poging om vrede te bevorder en met die oog daarop om die Kerk by die proses in te sluit, het pous Franciskus die DRK in Februarie 2023 besoek. Meer as 91% van die DRK se 99 miljoen mense is Christene en die Kerk in die land het ’n geskiedenis van noue betrokkenheid by die politiek, maatskaplike kwessies en om die weg na vrede en ontwikkeling te baan. Veral binne die Rooms-Katolieke Kerk, wat sowat 50% van die 91% Christen-bevolking uitmaak, was en is leiers tans daarby betrokke om vrede te bring in gemeenskappe wat geraak is.

Die Kerk voorsien meer as 40% van die land se gesondheidsorgdienste en is baie aktief by onderwys, versorging van vlugtelinge, die landbou, en humanitêre hulp betrokke. Tydens ’n gesprek voorafgaande aan die pous se besoek, het die DRK se direkteur van die AVSI-stigting (’n humanitêre organisasie wat in die stad Goma gesetel is) vermeld dat meer as 80% van die bevolking van minder as $1,25 per dag leef en 30% van die mense onmiddellike hulp nodig het. Daardie persentasie styg jaarliks. In 2019 het 19 miljoen mense in die kategorie geval van dié wat onmiddellike hulp nodig het, in 2020 was dit 20 miljoen en in 2021 het dit gestyg tot 30 miljoen.

Hoewel die Kerk in die DRK sigbaar en aktief is, kan die wêreldwye Liggaam bid dat gelowiges se pogings vrugbaar sal wees en God sal verheerlik. Die uitdaging vir die Kerk in die DRK, en die Kerk oor die algemeen, is om nie só verswelg te raak deur politieke oplossings dat hulle onbewus sal wees vir die leiding van die Heilige Gees nie.

Die uiteindelike doel is dat mense in verhouding met die Vredevors moet staan – Hy wat mense se harte en leefwyse transformeer. Soos dit uit hierdie langdurige konflik duidelik geword het, moet ons hoop nie gevestig wees in menslike pogings nie, maar in die soewereiniteit van die Here. Efesiërs 6:12 sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Ware vrede sal slegs in die DRK tot stand kom wanneer mense se harte getransformeer word deur die liefde van God. Mag die Kerk hande vat met diegene wat swaarkry in die DRK en bid dat die Here se vrede sal heers.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat daar vrede in die DRK sal kom en vir vredesonderhandelinge om suksesvol te wees,
  • dat die Kerk in die land met wysheid en biddend sal reageer op die lyding van mense, en

dat plaaslike gelowiges die praktiese liefde van die Here sal toon deur goeie rentmeesters te wees van die hulp en bronne wat aan hulle toevertrou is.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 26/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here