Geskryf deur: Gigi Kotze
Artikelbron: incontextinternational.org

Gevegte het op 15 April 2023 oral in Soedan uitgebreek, veral in die hoofstad Khartoem, tussen die Soedanse weermag, gelei deur hoofgeneraal Abdel Fattah al-Burhan en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF), gelei deur generaal Mohamed Hamdan Dagalo.

Dit is die eerste sodanige gevegte sedert die opponerende faksies saamgestaan het om die voormalige president van Soedan, Omar al-Bashir, in 2019 te ontsetel. Die gevegte is aangevuur deur onenigheid oor die integrasie van die RSF in die weermag as deel van die oorgang na ’n siviele regering. Die RSF beweer dat hulle die presidensiële paleis, Khartoem se lughawe en ander strategiese plekke in beslag geneem het, maar die weermag hou vol dat hulle steeds in beheer is. 

Die dodetal het tot 180 gestyg en daar word verwag dat dit nog verder kan styg. Burgerlikes skuil in hulle huise en daar is berigte van kragonderbrekings, mediese tekorte en gevalle van plundering. ’n Vennoot van INcontext het vertel dat hulle bid en probeer help waar hulle kan – selfs deur mense te help trek. Hulle noem ook dat die situasie tans onseker is en duideliker sal word namate dinge ontwikkel. Die botsing is ’n aanduiding van die onderliggende spanning tussen die militêre en siviele regering, wat sedert die ondertekening van ’n magdelingsooreenkoms (die Juba-ooreenkoms) tussen die twee kante in Augustus 2020 aan die opbou was.

Die onlangse geweld het gelei tot veroordeling deur die internasionale gemeenskap en tot kommer in die streek, insluitend die sluiting van grense met buurlande, naamlik Egipte en Tsjad. Die Intergovernmental Authority on Development (IGAD) van die streek het ’n noodvergadering gehou en gesê dat hulle die presidente van Kenia, Suid-Soedan en Djiboeti na Khartoem sal stuur om die strydende faksies met mekaar te versoen.

Verskeie beroepe om ’n einde aan die geweld te bring, is wêreldwyd gemaak, insluitend Amerika, die Verenigde Koninkryk, China, die Europese Unie en Rusland, terwyl pous Franciskus gesê het dat hy die gebeure besorgd volg en het die twee faksies aangemoedig om in gesprek te tree met mekaar. Totdat ’n ooreenkoms bereik word, sal die mense van Soedan aanhou swaarkry. Dit is noodsaaklik dat die internasionale gemeenskap steeds op ’n politieke oplossing sal aandring en dat die mense van Soedan nie vergeet sal word nie.

Soedan het meer as 46 miljoen mense waarvan slegs 3,79% as Christene beskou word. Moslems maak 91,8% van die totale bevolking van Soedan uit. Volgens Geopende Deure is die vervolging van Christene steeds uiters hoog en sommige vrees dat dit te midde van die onrus kan vererger. Die samelewing se gesindheid teenoor Christene het nie verbeter nie, veral in die areas buite Khartoem. Sonder ware beskerming van die regering, bly Christene kwesbaar vir uiterste vervolging deur hulle gemeenskappe en families. Geweld en tronkstraf staar persone wat vanuit Islam tot bekering kom in die gesig. Daar was egter positiewe stappe tot groter godsdiensvryheid onder die oorgangsregering en daar word nou wyd gevrees dat die land sal terugkeer na die outoritêre sisteem wat onder president Omar al-Bashir gegeld het of dat die huidige situasie in ’n lang, uitgerekte burgeroorlog sal ontaard.

God is ’n God van versoening en kan selfs te midde van lyding en geweld genesing en vrede bring. Die Kerk in Soedan is tans in ’n tyd van groot beproewing, tog het hulle die voorreg om God te ken en na Hom te gaan vir krag en vertroosting en sodoende die hoop wat hulle in Christus het in ’n land met ’n meerderheid Moslems in hierdie tye van beproewing en lyding te weerspieël.

Die nuwe vlaag van geweld in Soedan het ook veroorsaak dat die grootste deel van die bevolking vir hulle lewens en vir hulle lewensbestaan vrees. Die geweld het tot ontworteling gelei, met honderde mense wat uit hulle huise na veiligheid gevlug het. ’n Humanitêre krisis is besig om te ontvou, met duisende mense wat deur voedseltekorte geraak word. Die Verenigde Nasies het onlangs aangekondig dat een derde van Soedan se bevolking humanitêre hulp benodig. Ons kan seker weet dat die voortdurende konflik en voedselkrisis die Kerk in Soedan ook raak. As die wêreldwyeliggaam van Christus moet ons ons besorgdheid uitspreek en die barmhartige hart van God vir die mense van Soedan wat ly, verklaar. Ons kan nie stilbly in die aangesig van hierdie geweldige behoefte en nood nie. Ons moet eerder optree deur te bid, deur die plaaslike kerk in Soedan te ondersteun en deur oproepe tot vrede. Jesaja 1:17 sê: “Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees.” Ons moet hierdie vers ter harte neem en dit gebruik om ons reaksie op die gebeure in Soedan te rig  – in vertroue dat God alles ten goede laat meewerk (Romeine 8:28).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Here ’n politieke deurbraak sal bewerk sodat ware en blywende vrede gevind sal word,

  • dat die wêreldwye liggaam van Christus sal pleit vir diegene wat ly en verdruk word deur ernstig vir hulle te bid en die plaaslike Soedanse Liggaam daadwerklik te ondersteun, en

  • dat gelowiges in Soedan na die Here sal draai vir krag en vertroosting – dat hulle sterk en vol moed in die Here sal wees en die hoop wat hulle in Christus het, sal weerspieël in hierdie tyd van nood en lyding.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 25/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here