Geskryf deur Rudi Briel
Artikel oorspronklik geplaas in die Augustus 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif
“Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek aan julle, nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.”
– Johannes 14:27 AFR53
Miljoene wetenskaplike en mediese artikels is al geskryf oor stres en angs. Die studieveld rakende die effek daarvan op die mens se liggaam en psige is enorm. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wys angsversteuring uit as die grootste en mees algemene versteuring wat tans in die mensdom manifesteer. Nieteenstaande die blootstelling en vele beskikbare advies oor hoe om stres die hoof te bied, is stres en onrus wêreldwyd aan die toeneem. Beide “Generasie Z” (gebore 1997-2010) en “Generasie Alpha” (gebore 2010-2025) toon gevoelens van oorweldiging, angstigheid, toenemende depressie en onsekerheid oor hul toekoms. Afrika en die Midde-Ooste beleef die hoogste stresvlakke.
Onseker tye, ewige hoop
Die ganse wêreld moet egter die groeiende intensiteit van natuurrampe, toenemende politieke onstuimigheid en bekommernisse oor ekonomiese sake trotseer. “We live in uncertain times” het op sosiale media die bekende slagspreuk van politici geword. Die wêreld het die gedaante van globale onrus en onsekerheid aangeneem. Alhoewel Christene ook blootgestel is aan gebeure wat soos ’n donker skaduwee oor die aarde hang, behoort ons nie deur algemene vreesagtigheid en wanhoop meegesleur te word nie. Die Christendom was nog altyd ’n lig in donker tye, ’n baken van hoop vir die verdwaalde en ’n stem van oorwinning vir die verwonde.
Christus, ons vaste Rots
Ons hét ’n boodskap: triomferende geloof in Hom, die vaste Rots (1 Kor 10:4), wat ons moed en sekerheid gee in onsekere tye. In elke verwoestende storm is Hy ons Anker (Heb 6:19), wat stabiliteit en rigting gee. Vir die mensdom, vasgevang in onrus en onvrede, blý die reddende boodskap: Vind vrede by Christus, die Vredevors. “Vrede laat Ek vir julle na, Mý vrede gee Ek aan julle, nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh 14:27 AFR53).
Die wêreld kan nie ware vrede gee nie
Die mensdom smag sedert sy bestaan na vrede om telkemale tot die ont-nugterende besef te kom dat die wêreld met sy beste pogings geen vrede kan bied nie. Geen stryd of ooreenkoms deur die eeue kon dit ooit bewerk of behou nie. Die mens is te wispelturig en te selfsugtig. Bowendien swik die ganse wêreld voortdurend in sy stryd met satan, die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4), wat sedert sy neerwerping op die aarde (Luk 10:18; Open 12:12; Joh 10:10), sy bose mag deur allerlei vernietiginge openbaar (1 Joh 5:19) totdat sy einde in die poel van vuur aanbreek (Open 20:10).
Rus wat net Christus gee
Die antwoord vir blywende vrede is in Christus alleenlik te vinde. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28 AFR53). Hierdie rus behels nie alleenlik die saligmakende rus nie. Die vrede wat Jesus bedoel, lê nie in die emosie nie, maar in ’n toestand van innerlike rus. Dit is ’n toestand van die siel wat ervaar word ongeag buitefaktore wat ontsteltenis of angs mag inhou. Dit vind uitdrukking in die “vrede van God wat alle verstand te bowe gaan” (Fil 4:7 AFR53). Hierdie sielerus vind alleenlik sy ontstaan in ’n verhouding met Christus. Dit verg om by Hom te bly, jou lewe voortdurend aan Hom oor te gee, jou leiding by Hóm te vind, Hom met alles te vertrou en jou vrede uit Hóm te put.
Wanneer Christus die eerste opsie word
Hoe gelukkig en geseënd is Christene om na Christus te gaan met hul diepste seer, al hul kwellinge, geheime, behoeftes en soeke na rus. Die mensdom het só gewoond geraak aan die opsies wat die moderne wêreld bied, en daar ís baie goeie opsies. Mediese hulp, regshulp, sielkundige ondersteuning en gespesialiseerde informasie op feitlik elke terrein is vir die meeste mense onmiddellik beskikbaar. Maar wanneer niemand en niks meer kan help nie, of hulpdienste onbekostigbaar raak, is Christus in al sy bonatuurlike hoedanighede dikwels die laaste opsie op die lys. Tog, wat innerlike rus betref, bestaan daar geen opsie buiten Christus nie.
Ware vrede is standvastig
Die alledaagse, wêreldse teorieë bied talle beginsels tot bevordering van persoonlike vrede: gesonde voeding, leefstyl-aanpassings, geslaagde mensverhoudinge, oefening en so meer. Natuurlik is dit waardevolle raad, maar dit bly steeds wankelbaar en beïnvloedbaar deur baie faktore. Die vrede wat Christus bied, is bestendig en word deur Hóm bewaar. Sý vrede is die groot rykdom van innerlike rus, slegs te vinde in ’n ware verhouding met Hom. Só ’n lewe kan ongestoord, hoopvol en oorwinnend voortgaan.
’n Lig vir die wêreld
Christene wat leef vanuit ’n toestand van innerlike rus openbaar die standvastigheid en waardigheid van ware Christenskap, gemanifesteer as ’n lig vir die wêreld en stad wat op ’n berg lê (Matt 5:14-16 AFR53). Hulle voorbeeld, werke en teenwoordigheid bestry, soos sout, die verrotting wat sonde bring en lewer boonop goeie smaak (Matt 5:13) waar hulle beweeg, terwyl hulle die aangename geur van die reddende en liefdevolle Christus versprei tot eer van God (2 Kor 2:15 AFR53).
Die skat van Goddelike vrede
Die grootste skat wat enige mens in rustelose tye kan hê, is Goddelike vrede – die innerlike rus wat slegs by Christus te vinde is. “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil 4:7 AFR53).

Hierdie artikel verskyn in die Augustus 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto en inhoud verkry deur oorspronklike artikel geplaas in die Augustus uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 03/09/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








