Geskryf deur: Anton Knoetze namens Kairos Netwerk-bestuur
Artikelbron: Artikel verskaf

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk (KN) het kennis geneem van die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) oor die Koinonia Sinode van Skrifgetroue NG gemeentes wat van 3-4 Mei 2023 by Ingwe Guest Lodge in Vanderbijlpark in samewerking met KN byeengeroep word en wens soos volg daarop te reageer:

1. Die ATR se kritiek op ons kerkregtelike terme:

Die gebruik van bekende kerkregtelike woorde en terme in die skrywes en/of uitnodigings van KN bevestig juis dat daar binne die kerk op ’n bekende kerklike wyse gehandel word. Kerkregtelike terme beperk en kategoriseer nie sonder meer kerklike samekomste nie. So het “sinode” ook ’n wyer betekenis. Die Griekse woord waarvan dit afgelei is, het die betekenis van om mekaar op ’n plek te ontmoet en vandaar die pad verder saam te loop. Dit is juis die teenpool van die huidige vasgelooptheid wat ʼn mens in ’n doodloopstraat laat.

2. Die ATR se bewering oor bindende besluite:

Dit is nie vir die ATR of ASM om te bepaal wat die aard en bevoegdheid van die Koinonia Sinode sal wees nie. In ’n gereformeerde kerk word alles nie vanuit die meerdere vergadering bepaal en gereguleer nie. KN gee uitvoering aan sy mandaat om verteenwoordigers van gemeentes wat tans doleer, asook ander behoudende en Skrifgebonde gemeentes, byeen te roep om saam oor die pad vorentoe te besin en te besluit. Besluite wat geneem word, sal aan die samestellende gemeentes se kerkrade vir bekragtiging voorgelê word. Dit is juis die teenpool van gebiedende besluite wat tans deur ’n algemene sinode vir gemeentes neem word, sonder dat gemeentes direkte inspraak daarby het.

3. Die ATR se foutiewe siening van geloofsbriewe:

Dit is nie waar dat slegs ’n ring, sinode en die Algemene Sinode aan die hand van geloofsbriewe konstitueer nie. Daar is genoegsame voorbeelde om die teendeel te bewys. Die destydse Dordtse Sinode is naas die gevestigde orde met geloofsbriewe, selfs uit ander kerke byeengeroep en het besluite geneem wat steeds vandag binne en buite die Nederlandse kerk bind en krag dra. Die teenpool is juis die huidige gebruik by sommige sinodes dat afgevaardigdes deur ’n taakspan aangewys word wat sitting met volle stemreg in ’n algemene sinode neem, sonder dat ʼn geloofsbrief van ’n gemeente voorsien word.

4. Die ATR oor ander kerklike middele wat kwansuis beskikbaar is:

Die kerklike middele wat die kerkorde bied en waarna verwys word, is sedert 2015 reeds ruim beproef en loop telkens op niks uit nie. Slegs lede van die vergadering wat die besluit geneem het, kan kennis van revisie gee. Die verwysing daarna in die ATR se advies is van geen nut nie. Kerklike geskille wat aanhangig gemaak word, word nie ingevolge die riglyne daarvoor hanteer nie. Die skriftelike versoek van KN tot mediasie (beslegting van kerklike geskille) is deur die dagbestuur van die ASM sonder meer van die tafel gevee. Weens wysigings wat aan die Kerkorde aangebring is, is dit nie meer moontlik om prosedurele besware aan die Algemene Sinode self voor te lê nie. Dit is ook nie regtens moontlik wat die vorige Algemene sinode se besluite betref nie, omdat die bepaling wat dit reël eers van krag geword het nadat die 21 dae verstryk het om te appelleer. Beskrywingspunte en beswaarskrifte wat op die korrekte wyse met motivering ingedien is, word nie hanteer nie, terwyl beskrywingpunte en voorstelle wat op onwettige wyse en sonder behoorlike kennis van revisie en motivering op die tafel geplaas word, besluite van die vergadering word. By die wysiging van kerkordelike bepalinge en die inwerkingstelling daarvan word die bestaande kerkordelike voorskrifte nie nougeset nagekom nie. Die teenpool is juis die huidige situasie waar lidmate, ampsdraers en kerkvergaderinge, wat nie gebruik maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied nie, tog in kerkvergadering hulle sin kry.

5. Die ATR se totale wanbegrip oor die doel van die Koinonia Sinode:

Die ATR se ongevraagde verwysing na lidmaatskap, bevoegdheid, bates, eiendom en historiese verband sê eintlik waaroor dit grootliks vir die ATR gaan, terwyl dit vir KN wesenlik om die waarheid van die Woord gaan. Die ATR se advies dat uittrede uit die Algemene Sinode met ’n konsensusbesluit geskied, sê dat aardse en tydelike sake die voorkeur moet geniet bo God se saak. Kerkorde Artikel 37 is ’n saak wat voor God in die lig van sy Woord besleg moet word. Hieroor hang die tweesnydende swaard van die Woord wat lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard is, en deurdring tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en ‘n beoordelaar is van die oorlegginge en gedagtes van die hart (Heb. 4:12). Maar die ATR hang die dreigende swaard van verbygaande en verganklike aardse goed oor diegene vir wie dit ’n gewetensaak geword het om God meer gehoorsaam te wees as mense. KN en die meewerkende gemeentes en lidmate verwerp daarom aan die hand van die NGB Artikel 32 alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Slegs dit word aangeneem wat kan dien om eendrag en eenheid te bevorder en te bewaar. Die teenpool is juis die huidige on-Skriftuurlike besluite deur die Algemene Sinode geneem en deur die ATR en ASM gehandhaaf en self verder uitgebrei, wat die mindere kerkvergaderinge en gemeentes verskeur en waarvoor daar geen inkeer en berou is nie, maar alleen selfhandhawing en selfregverdiging.

6. Die ATR se taktiek van gogga maak vir baba bang:

KN doen gevolglik ’n beroep op lidmate, ampsdraers en gemeentes van die NG Kerk om hulle nie in hierdie kairos oomblik deur die ATR en ASM te laat afdreig nie, om getrou en enduit die Bybelse pad saam met gehoorsame en toegewyde medegelowiges te loop en om aan God Drie-enig al die eer en dank vir onverdiende genade en verlossing te gee.

Vir BELANGRIKE VRAE EN ANTWOORDE OOR DIE KOINONIA SINODE, klik hier.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 16/03/2023
Foto: freepik.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here