Geskryf deurRené Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Dit is vroegskemer terwyl Susan*, ’n skrale 14 jaar oud, in die koue op die gras langs ’n rivier in Gauteng sit. Sy kyk met groot oë na haar mamma. Haar ma draai haar kop van haar honger dogter af weg en probeer om die trane van skaamte en ’n gebroke moederhart vinnig van haar wange af te vee voor enigiemand dit kan sien.

Susan vra vir haar pa wat besig is om hout te kap: “Pappa, dit is baie koud vanaand. Kan ons nie maar teruggaan na ons huis toe nie?” Haar pa moet sy trots sluk; dit is moeilik, maar hy moet vir haar sê hulle kan nie terugkeer huis toe nie. Eers het hy sy werk verloor, toe sy besittings en toe sy huis. Al wat hy oor het, is sy viermantent, sy gesin en sy geloof.

Hoe hard moes die lewe nie druk nie?
Johan* is slegs ’n jaar ouer as sy sussie en verstaan ook maar min van hierdie kampery langs die rivier. Een ding besef dié jong seun egter, en dit is dat daar geen ander uitweg is nie. Hy sien hoe mamma en pappa huil en hy sien hoe hulle bid. As vier mense ’n tent deel, sien ’n mens mos maar baie van mekaar.
’n Tienerseun, ’n tienerdogter, ’n moeder en ’n vader in een tent, met niks nie: net die klere aan hulle lywe en ’n pot, ’n bord, verbleikte skoolklere en weer eens – geloof. Hoe hard moet die lewe jou nie ruk om hier te beland nie? Hoeveel vrae en hartseer moet daar nie in jou hart wees nie?

Huiswerk onder moeilike omstandighede
Susan en Johan moes vanuit hierdie tent skool bywoon. Hulle moes binne hierdie beknopte ruimte aantrek vir skool en in die pikdonker te voet skool toe gaan. Wanneer hulle ná skool terugkeer na die tent, moes hulle hul huiswerk in hierdie omstandighede doen. Daarna moes hulle ook honger gaan slaap omdat daar eenvoudig net nie kos was nie. Susan en Johan se ma het ’n toelaag van SASSA ontvang, maar dit was ook net-net genoeg om hier en daar skoolbehoeftes, sanitêre ware en ’n stukkie brood en ’n bietjie melk te bekostig.

Ontroosbare wanhoop
Een aand kan Susan net nie ophou huil nie. Haar ma en pa weet nie meer wat om te doen om haar te troos nie. Dit sous buite en die donderweer slaan hard. Die tent is nie weerbestand nie. Susan huil omdat haar dagboek, haar kosbaarste en enigste besitting, papnat gereën het en verwoes is. Haar hartjie voel ook verwoes en haar drome, wat sy in haar dagboek geskryf het, lê nou aan skerwe. Alles is papnat en trietsig, net soos sy in hierdie tent voel wat haar tienerlyfie elke dag inkluister en inperk.

’n Helpende hand
Dit is toe hier – in die papnat tent – waar Helpende Hand se streekspersoneel intree en dié twee tieners se name by hoofkantoor indien. Tydens ’n vergadering van die Bemagtig-’n-Kind-paneel het hulle Susan en Johan se storie vertel. Die doel van die Bemagtig-’n-Kind-projek is om behoeftige kinders op so ’n manier te bemagtig dat armoede verbreek word en hulle op ’n volhoubare manier bygestaan kan word. Helpende Hand se uitgangspunt is dat opheffing deur opleiding die doeltreffendste manier is. Dit verhoed dat die kind ’n slaaf van die “bakhand”-toestand word.

’n Dak oor hulle kop
Ná afloop van die paneelvergadering is daar besluit om hierdie kinders te help. Die Bemagtig-’n-Kind-projek het dit toe vir Susan en Johan moontlik gemaak om koshuis toe te kan gaan. Daar ontvang hulle elke dag ’n bord gesonde kos en het hulle ’n dak oor hulle kop. Verder het Susan, as tienermeisie, haar privaatheid. Johan, as tienerseun, het nou ook die ondersteuning van ander tienerseuns. Hierdie kinders het ’n warm bed en die belangrikste is dat hulle nou op hulle skoolwerk kan konsentreer omdat daar na hulle basiese behoeftes omgesien word. Hulle word ’n geleentheid gebied om ’n sukses van hulle toekoms te maak en daarmee die armoedekringloop te verbreek.

Vanjaar is Susan en Johan se laaste jaar in die koshuis. Hier het hulle floreer, leer speel en net kind wees. Hier was hulle gelukkig en kon hulle steeds hulle ouers sien. Hulle kon leer en groei en hulle kan nou as trotse studente ook by Helpende Hand se Studiefondssentrum aansoek doen om verder te gaan studeer.

As die gemeenskap saamstaan om mekaar te help
Hierdie verhaal kon ’n ander uiteinde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en fondse aan die Bemagtig-’n-Kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Dit is ’n besonderse voorbeeld van ’n gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Steek hand uit en help
As jy vandag hierdie getuienis lees en jy wíl en kán ook help, besoek gerus bemagtignkind.co.za. Jy kan vandag ’n verskil maak; ’n verskil wat ’n leeftyd gaan voortduur.

Susan* en Johan* is skuilname

RENÉ ROUX – adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 06/11/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here