Saamgestel deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Duane Vermeulen, die Springbok- rugbyspeler en -kaptein se bynaam is nie om dowe neute “Thor” nie! Die All Black-agsteman, Nick Williams, het dié blonde reus as sy “taaiste teenstander “ uitgesonder en aan Wales Online gesê dat Duane “ongetwyfeld een van die sterkste manne is” teen wie hy al gespeel het.

Van Duane se talle toekennings is onder meer SARU sowel as Super Rugby se speler van die jaar in 2014 en hy was in 2020 Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar. Die hoogtepunt van sy loopbaan is sekerlik toe hy ’n sleutelrol gespeel het in die Springbokke se Rugbywêreldbeker-sege teen Engeland (2019) waar hy as die speler van die wedstryd aangewys is. Sy kommentaar is so sprekend van sy nederige karakter: “Enigeen in die span kon dit gekry het, ek is net die gelukkige ou.”

In sy pa se voetspore
“Ek het baie opgekyk na my pa wat ’n goeie sportman was, sport is in my bloed,” vertel Duane. “Ek het my eerste rugbywedstryd kaalvoet in die sneeu gespeel op De Doorns en van daar af was dit net ’n liefde vir die sport.” Dit was die harde, sneeubedekte gras in Touwsrivier, De Doorns, en later die growwe Laeveld-grond van Mbombela wat die grondslag gelê het vir wat ’n gevierde loopbaan sou word. Hy speel sy hart uit, laat alles op die veld agter en hou nooit terug nie, want dít is wat hy by sy pa gesien het in die paar jaar van sy lewe saam met hom. Pa André het vir die Boland uitgedraf. Hy het alles altyd met passie aangepak en dit het die jong Duane, sy ewebeeld, geïnspireer om in sy pa se voetspore te volg.


Duane, pa André, ma Estelien en sus Leandi

Talent vir sport is in sy gene
Min mense weet dat Duane se sporttalent meer as net rugby behels. As kind het hy reeds ’n natuurlike aanleg vir velditems openbaar en hy was veral lief vir paalspring. “My pa se liefde vir paalspring is ook aan my oorgedra, hy was een van die eerste individue in die Boland-streek wat destyds pale vir paalspring ingevoer het!” spog hy so ’n bietjie.

Dit was ook nie net paalspring nie, hy het op skool merkwaardige veelsydigheid getoon in spiesgooi, diskusgooi, gewigstoot en was selfs ’n hoogspringer wat ’n indrukwekkende 1,94 m gehaal het!


Op Leandi en haar man, Jeandré Kotze se troudag. Links is oupa Daan en ouma Lourencia.

’n Groot verlies
As agtjarige seuntjie ervaar Duane egter ’n diepgaande verlies toe sy pa en held aan kanker oorlede is. Daarna vervul sy ma, Estelien, met leeuemoed die dubbele rol van pa en ma. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en met die ekstra werk wat sy aanpak, maak sy Duane en sy kleinsus in ’n veilige huis groot. Sy steun op die jong Duane wat vinnig moet grootword, wat moet leer van uithou, aanhou en deurdruk; van hard werk en ekstra takies doen: van sussie se poniesterte maak tot kosmaak en huishou, want dit is wat dit verg en dit is wat ’n gesin in moeilike tye doen. Hulle staan saam; werk saam; speel saam. Sy ma se deursettingsvermoë en moed was ’n blywende bron van inspirasie, iets wat haar seun se karakter, waardes en werksetiek gevorm het. Duane se sterk band met “Moeder”, soos hy haar noem, is tasbaar.

Die Christelike invloed van ’n oupa en ouma
Duane se oupa en ouma het ook ’n deurslaggewende rol in sy karaktervorming gespeel nadat sy ma met haar twee kinders vir ’n tyd lank by hulle op die plaas gaan woon het. Hulle is steeds pilare van krag en wysheid in Duane se lewe. Ouma Lourencia het Duane bekendgestel aan die lekkerte van kosmaak. “My liefde vir kos is in haar kombuis gebore. Ek het langs haar voor die potte op die stoof gestaan en die kos geroer. Ek het as kind begin om my eie resepteboek te skryf,” vertel Duane. Hierdie vroeë ervarings het ’n passie vir kookkuns laat ontstaan wat selfs daartoe gelei het dat hy ’n kwartaal lank aan die Universiteit van Johannesburg as ’n sjef gaan studeer het. (Hy het opgeskop vir sy eerste kontrak by die Pumas.) Tog duur die liefde vir kosmaak tot vandag toe voort.

Duane se bewondering vir sy grootouers is duidelik. “Hulle is sulke fantastiese mense. My ouma het my so pas ’n boodskappie gestuur voor die game, net om my voor-spoed toe te wens en dat sy hoop om ons te sien … dit is so kosbaar,” sê die groot man met ’n blink traan in die oog.


Die egpaar woeker met verskeie besighede wat deur Ezel bestuur word. Hulle is tans besig met hulle padstal, DeSluisHuis, in Deneysville in die Vrystaat.

Geestelike reis
Dit was in sy grootouers se huis dat Duane se geestelike reis begin het en hy vir God ontmoet het. Hy beskou sy geloof as ’n hoeksteen van sy identiteit, ’n krag wat sy optrede beide op en van die rugbyveld af rig. “Daar kom ’n groot verantwoordelikheid saam met die rol as sportman in die openbare oog. Dit is die belangrikste proses waardeur ek moes gaan, om te weet wie ek is en waarvoor ek staan. ’n Mens kan nie ’n verskil maak as jy nie daardie vrae eerlik aan jouself kan antwoord nie. Dit het my ’n rukkie geneem. Ek en die Here moes saam in geloof en vertroue aan alles skaaf!”

Sy geloofsreis was nie sonder uitdagings nie, maar Duane se ontmoetings met vreemdelinge wat die Here gestuur het om tydens kritieke oomblikke vir hom te bid, het sy geloof versterk. Duane vertel van twee sulke ervarings: “Ek het in ’n winkelsentrum gesit en koffie drink ná ’n operasie. ’n Man wat ek glad nie ken nie, het na my toe gestap en gesê die Here het hom gelei om vir my te bid vir volle genesing ná my operasie. Die tweede keer was ook in ’n winkelsentrum ná my knie-operasie. ’n Ouerige oom het my gestop en gesê: ‘Ek wil net vir jou bid vandag.’ Daarna het ek die oom se nommer geneem. Hy is oom Theuns Rossouw en tot vandag toe bly ons steeds in kontak. Hy is ’n baie inspirerende man.”

Verlange na ’n pa
Vir Duane is die verlede nie iets om geredigeer te word nie, maar om van te leer. “Ek dink nie ’n mens moet ooit die verlede probeer redigeer nie, want uit die verlede leer ’n mens vir die toekoms. Om te tob oor die verlede en wat jy kon verander het, verhoed jou om vorentoe te beweeg.” Tog sê hy ook: “As ek nou wel iets móét verander, sou dit wees om my pa langer deel van my lewe te kon hê. Daar was pa-en-seun-rugbyaande waar niemand my kon neem nie … ’n mens soek soms daardie bevestiging dat jy die regte besluit in die lewe gemaak het … Ek sou hom beter wou leer ken. En ek sou daarvan gehou het as hy ook deel van my vrou en kinders se lewens kon uitmaak.”

Gesinsman
Die grootwordjare sonder sy pa beteken wel dat enige gehaltetyd saam met sy seuns vir Duane spesiaal is: of dit nou op die gholfbaan, met ’n vislyn in die water of rugby in die agtertuin is. “Jou gesin, familie en vriende is een van die kosbaarste geskenke wat jy kan hê,” sê hy. “Tyd is ’n geskenk van Bo en jy moet dit goed bestee en saam met die mense deurbring vir wie jy die liefste is.”


Anru (10) en Zian (6) by hulle held en pappa.

“Duane is ’n pappa met soveel liefde vir sy seuns,” vertel vroulief, Ezel. “Hy is streng, maar nie onredelik nie. Hy wil graag sy seuns leer om sterk mans te wees wat respek vir ander het en om ons Vader te eer vir al die talente en geleenthede wat na hulle toe kom.” Vir Ezel is haar man se mooiste eienskap “dat hy altyd nederig is. Sy opregtheid. En die meeste sy liefde vir mense, Jesus en sy familie”.

Sy nalatenskap
Hoe sal hy graag onthou wil word? “Ek dink solank jy nederig bly en op die Here vertrou, sal jou aksies wat volg, boekdele spreek. My vrou sê altyd solank jou voete vas op die grond bly en jou oë gerig is na Bo, kan jy enige struikelblok oorwin.”

’n Einde en ’n nuwe begin
Aan die einde van hierdie Rugbywêreldbeker gaan Suid-Afrika se Thor in groen en goud, een van die wêreld se legendariese agstemanne, sy rugbystewels ophang. Hoewel hy vroeër vanjaar nie gedink het hy sal in sy derde Rugbywêreldbeker speel nie, het hy hard gewerk, speel hy kookwaterrugby en is hy wel ingesluit by die Springbokspan vir die wêreldbeker in Frankryk. “Ek wil graag op ’n hoogtepunt afsluit,” sê die veteraanspeler.

Duane se verhaal is soveel meer as rugbyrekords en -toekennings. Dit is ’n verhaal van volharding, saamstaan en geloof in God die ewige Vader wat ons nooit verlaat nie. Duane staan as ’n rolmodel – ’n sportman, gesinsman, Godsman en leier.

Pa André sou ongetwyfeld trots op hom gewees het, soos sy hemelse Vader beslis ook is.

Hierdie artikel is onder meer saamgestel uit Duane Vermeulen se getuienis en video-onderhoud
in die sportboek, LUISTER. God se stem in my lewe, geskryf deur Karien Basson en Tanya Powell. Koop gerus jou eie eksemplaar van die sportboek met getuienisse by joygifts.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 03/11/2023
Rugbyfoto’s: Johan Orton/Rugby 365

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here