Geskryf deur: TWR Artikel verskaf Artikelbron:
“God is so good…” Dadelik sluit nog 20 stemme daarby aan.
“God is so good…”
Almal sit in ’n groot sirkel in die ateljee wat ook dien as ’n gemeenskapsaal by TWR Burundi in die nasie se grootste stad, Bujumbura.
“God is so good, He’s so good to me…”
Toe sing hulle dit weer, maar in ’n ander taal. En toe weer in nog ’n ander taal, en nog een. Kirundi. Oromo. Swahili. Amhariek, en so voort. Een of twee mense sing en neem die leiding in hulle moedertaal, gevolg deur die koor in Engels.
Dit het ’n tyd lank geduur, aangesien daar onder die 24 persone wat die TWR Oos-Afrika Vennote Konferensie in Junie bygewoon het, 16 moedertale verteenwoordig is met bykomende gaste vanuit Suid-Afrika, Wes-Afrika, Europa en Noord Amerika. Die aantal tale verteenwoordig is ’n aanduiding van die verskeidenheid tale en die omvang van die uitdaging om hoop in Oos-Afrika te verkondig.
In Ethiopië alleen is meer as 80 tale in gebruik, aldus Wakshuma Terefe, die hoof van TWR se vennoot, Radio Yemisrach Dimts (Die Stem van Goeie Nuus). Dié stasie saai in nie minder as agt primêre Ethiopiese tale uit nie, wat Afar en Somali insluit. Beide tale word in streke gepraat wat feitlik algeheel Moslem is.
“Ons radio bly die hoof bron van inligting in plattelandse gebiede,” vertel Terefe, wat op TWR se programme afgekom het terwyl hy op hoërskool was in ’n tyd toe die regering talle Ethiopiese kerke gesluit het. “Die gevolg is dat ons vandag groot getalle luisteraars in elke hoek van die land het.”
Die konferensie, wat by die Kings Conference Center in Bujumbura aangebied was, het onder meer die ondertekening van ooreenkomste tussen TWR en vennote van Burundi, Etiopië, Kenia, Rwanda, Tanzanië en Uganda in Bujumbura behels. Laasgenoemde was die eerste Oos-Afrika Vennote Konferensie sedert ’n vorige byeenkoms in Nairobi, Kenia, in 2018.
TWR se bedieningsdirekteur vir Oos-Afrika, Egide Bandyatuyaga, was in besonder verheug dat dié vennotekonferensie vir ’n eerste keer in Burundi aangebied is sedert sy aanstelling, agt jaar tevore.
Alhoewel Egide gereeld met die onderskeie vennote in kontak is, was hierdie die eerste geleentheid waar baie van hulle mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet het.
“Dit is ’n manier om mekaar beter te leer ken…” vertel Egide, “…en die gevolg kan wees dat ons mekaar in die toekoms beter sal ondersteun.”
Die huidige direkteur van TWR Burundi, Rachel Muhorakeye, deel hierdie sentiment.
“Dit was ’n groot vreugde om hierdie byeenkoms in Burundi aan te bied,” vertel Rachel. “Dit was ’n wonderlike geleentheid om van mekaar te kon leer, maar ook om mekaar te bemoedig.”
Op hulle beurt het elke vennoot van hulle werk getuig en verslag gelewer van die Women of Hope aktiwiteite in die streek.
Die vennote en TWR-personeel het daagliks in lugversorgde gemak vergader. Buite was dit egter heerlik, danksy ’n koel bries vanaf die Tanganjika Meer, die tweede grootste meer ter wêreld. Burundi deel sy kuslyn met Tanzanië, Demokratiese Republiek van die Kongo en Zambië.
’n Hoogtepunt van die konferensie was ’n besoek aan TWR Burundi, gevolg deur ’n fees waar TWR se personeel en vrywilligers gaste op die kampus bedien het. Hierdie fasiliteit wat in Desember 2021 geopen is, dien nou ook as ’n bymekaarkomplek vir die gemeenskap. Sewe-en-twintig groepe maak gebruik van die ateljee waar “God is so Good” gesing is, vir gebed, vergaderings, seminare en soortgelyk.
In sy toespraak het Branko Bjelajac, TWR se adjunkpresident vir Afrika, CAMENA en Europa, vertel van die uitdagings wat die bevolking van die Soedan, Eritrea, Somalië en ander dele van Afrika in die gesig staar. Branko het egter groot vertroue in die digitale media, en spreek sy waardering uit vir die rol wat die radio in dergelike plekke speel.
“Daar is geen grens wat radiogolwe nie kan oorsteek nie,” het hy aan die verteenwoordigers gesê. “Sendelinge kan gestuit word. Bybels kan geskut word. Grense kan gesluit word. Radio uitsending sal egter voortgaan.”
“In tye van nood, waarna verlang mense? Hoop. Hulle benodig hoop. Dít is wat julle doen met jul programme. Julle verkondig daagliks hoop.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 03/08/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.