Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die afgelope maand het ons ’n ontstellende en wrede oorlog tussen Hamas en Israel aanskou. Talle lewens is verlore en te veel bloed is vergiet. Terwyl die wêreld van ver af toekyk en baie mense verdeeld is oor hulle menings, het ons dit goed gedink om ons lesers van ’n bietjie meer inligting oor Palestina te voorsien.
1. Misleidende kaarte
Hoewel dié kaarte beweer hulle wys hoe territoriale beheer oor die land verskuif het, is dit misleidend. Af-gesien daarvan dat dit impliseer die land was blykbaar eers ’n Palestynse staat – wat onwaar is – laat hierdie kaarte iets weg wat anti-Israel-aktiviste selde bereid is om te erken: Israel het ’n hele paar keer van grondgebied onttrek in ’n poging tot vrede en kompromieë aangegaan tot voordeel van sy bure, veral wanneer daar ’n redelike kans was om vrede te maak. Palestyne geniet eintlik nou groter soewereiniteit as ooit in die geskiedenis.
2. Palestina was nie ’n Arabiese nasie wat deur Jode oorgeneem is nie
In werklikheid het Groot Brittanje die Midde-Oosterse gebied beheer totdat hulle die VN gevra het om te besluit wat om daarmee te doen. Op 29 November 1947 het die Algemene Vergadering van die VN Resolusie 181 (Verdelingsbesluit) aanvaar wat Groot Brittanje se voormalige Palestynse mandaat in Joodse en Arabiese state sou verdeel. Die staat Israel het tot stand gekom op 14 Mei 1948 en is op 11 Mei 1949 as lidstaat by die VN ingelyf. Voordat Groot Brittanje die land tydens WOI verower het, was dit sedert die 1500’s onder Turkse beheer.
3. Die Arabiere se reg tot grondgebied
Die VN-stemmery het nie net aan Israel die gesag verleen om ’n staat te stig nie, maar het ook aan die Arabiere aan die westekant van die Jordaanrivier die reg gegee om ’n onafhanklike land te stig. Hulle kon in 1948 hulle eie nasie gehad het, maar hulle het dit verwerp omdat dit glo die Jode bevoordeel het en onregverdig was teenoor die Arabiere wat in Joodse grondgebied sou agterbly volgens dié verdeling. Die Jode het dit aanvaar en op 14 Mei 1948 is Israel weer gebore. Die Arabiere wat agtergebly het, het deel van Jordanië geword.
4. Waar het die naam vandaan gekom?
Omdat die Romeine Judea van sy Joodse invloed wou bevry, het hulle die Jode (130’s n.C.) gedeporteer en die naam na Filistea (Palestina) verander. Die naam kom van die antieke Filistyne wat in ± 765 v.C. uitgedelg is. Die gebied was ’n streek, nie ’n nasie nie. Voor Jasser Arafat was daar nog nooit ’n president of ’n regering van Palestina nie. Die huidige president, Mahmoud Abbas, is al 18+ jaar aan bewind. Sy vierjaartermyn is herhaaldelik sonder verkiesings verleng. Die gebied word polities deur Hamas oorheers.
5. Almal wat daar gewoon het, was Palestyns
Voor 1948 sou dit nie sin gemaak het om te praat van Palestyne in teenstelling met Jode nie. Die bevolking was in twee primêre groepe verdeel: Jode en Arabiere. Enigeen wat in daardie streek gewoon het, is as Palestyns beskou. Die Joodse koerant is die Palestine Post genoem.
6. Tussen 1948 en 1967 was Jerusalem onder die beheer van Jordanië
Toe Israel Jerusalem in 1967 verower het, was dit nie van Palestyne nie, maar van Jordaniërs. Hoekom het Palestyne Jerusalem nie opgeëis toe Jordanië dit beheer het nie (1948-1967)? Hoekom het die Jordaniërs nie ’n onafhanklike Palestynse staat in die Wesoewer geskep nie? Hulle was sekerlik by magte om dit te doen. Die rede hiervoor is eenvoudig – Jordaniërs het geen onderskeid getref tussen Arabiere wat oos of wes van die Jordaan gewoon het nie. Hulle was almal Jordaniërs.
7. Palestyne is Arabiere
Palestyne is nie te onderskei van Jordaniërs (’n nasie wat in 1922 deur Groot Brittanje geskep is), Siriërs, Libanese of Irakiërs nie. Daar is geen ryke Palestynse geskiedenis nie, ook geen taal wat as Palestyns bekend staan nie. Die inwoners praat Arabies.
8.’n Klein landjie
Arabiere beheer 99,9% van die Midde-Oosterse lande. Israel verteenwoordig slegs een tiende van 1% van die landmassa!
9. Gesteelde land?
Jy het dalk gerugte gehoor dat die Jode grondgebied by die Palestyne “gesteel” het. Toe die Jode gedurende die laat 1800’s na “Palestina” begin terugkeer het, het die Turke – nie die Arabiere nie – dit beheer. Die terugkerende Jode het vir elke stukkie grond betaal – niks is gesteel nie! Selfs in 1948 is die Arabiere uitgenooi om by die nuwe staat aan te sluit. Baie van hulle het en hulle het die vryste Arabiere in die Midde-Ooste geword. Daar het egter 600 000 tot 800 000 Arabiere die wyk
geneem en natuurlik het Israel die skuld gekry.
10. Die godsdienstige belang van Jerusalem
“Jerusalem” of “Sion” word bykans 1 000 keer in die Ou en Nuwe Testamente genoem, terwyl dit glad nie in die Koran genoem word nie. Hierdie land is ryk aan Bybelse geskiedenis.
Belangrik om te onthou
Die Here Jesus het vir die hele mensdom gesterf en verlang dat niemand verlore sal gaan nie. As Christene moet ons vir die verlossing van die Palestyne en die Jode bid. Talle mense verloor hulle lewens elke dag – daar is geen wenners in ’n oorlog nie. Bid vir die vrede van Jerusalem (Ps 122:6).
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.
Baie dankie vir die beskrywing van die Jode wat onafhanklik geword het en hoe die verskillende grondgebiede in mekaar pas