Geskryf deur: Geopende deure
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
In die suidelike Filippyne is kinders van die kwesbaarste vervolgde Christene. Hulle moet dikwels vreeslike gevolge trotseer weens hulle gesin of hul eie besluit om Jesus te volg. Vervolging belemmer hulle toegang tot onderwys sowel as hulle veiligheid binne hul gemeenskappe. Christene uit arm etniese groepe is dubbel so kwesbaar weens marginalisering as gevolg van hulle stamverband, asook vervolging binne hulle gemeenskappe omdat hulle Jesus volg.
Beperkte geleenthede
Jenny, ’n 12-jarige meisie, is ’n lid van so ’n stam. Sy is deel van ’n gemeenskap wat in huise op stelte woon en sy behoort aan een van die armste stamme. Onder die 13 Moslem-stamme in haar streek is haar stam die een teen wie daar die meeste gediskrimineer word. Geleenthede vir onderwys is ver buite hul bereik. Jenny se kultuur gee voorkeur aan tradisie bo onderwys. Daarom trou talle van die jongmense op ’n vroeë ouderdom, dikwels sodra hulle puberteit bereik. Sulke huwelike op ’n jong ouderdom kortwiek al jare lank die potensiaal van talle jong vroue in Jenny se gemeenskap. Dit is hoekom Geopende Deure se plaaslike vennote ’n geletterdheidsklas daar begin het – om vir Jenny en ander soos sy ’n alternatiewe opsie te gee en aan hulle die geleentheid te bied om te droom oor ’n toekoms wat anders lyk.
Diskriminasie by die skool
Op skool ervaar Jenny diskriminasie van veroordelende klasmaats en onderwysers wat hulle vooroordeel uitsluitlik op haar stam-agtergrond en geloof in Jesus grond. Sy word dikwels uitgesluit en verstoot. “Hulle behandel my sleg en hou nie van my nie. Ek hoor ook die gemene dinge wat hulle van my en my gesin sê.” Ondanks die feit dat sy kwetsende aanmerkings en oordeel van haar klasmaats en onderwysers verduur, bly sy vasberade en leergierig. Sy is nou ’n graad 4-leerling en het ’n vurige begeerte om selfs nog meer te leer.
Geleentheid om te droom
Gelukkig word Jenny danksy die geletterdheidsprogram toegerus met die nodige hulpmiddels om akademies te presteer. ’n Helder vlam brand in haar hart – nou kan sy groot droom. “Ek kan nou goed lees en skryf sodat ek goed kan presteer in my skoolwerk. Ek is baie bly oor die geletterdheidsklas. Dit het baie kinders gehelp en inspireer ons om groot te droom, met die wete dat Jesus by ons is.” Vandag is Jenny onder die topstudente in haar klas. “Ek wil ’n verskil in ander se lewens maak en ’n onderwyser word. Ek wil ook ’n jeugleier in ons huiskerk word, net soos my ouer suster, en ander help om in hulle geloof te groei. Wanneer my pa terugkom van die viswaters af, kom ons almal op Sondae as ’n gesin bymekaar vir aanbidding. Dit is ’n kosbare tyd vir ons. Ondanks ons swaarkry, vertrou ons dat God vir ons sal voorsien.”
Versterking van vervolgde kinders
Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners kan Geopende Deure en sy plaaslike vennote voortgaan om kwesbare kinders soos Jenny te versterk. Deur jou finansiële geskenk kan jy ook ons vervolgde geloofsfamilie ondersteun. Gebruik die bankbesonderhede hieronder om vandag ’n geskenk te gee.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 05/11/2023
Foto’s: © 2023 Geopende Deure Internasionaal
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









