Deur Philip de Jager
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ons lewe in 2023 waar ons die voordele van die vooruitgang en ontwikkeling op verskeie fronte van die samelewing geniet. Ons beleef egter ook die grootskaalse uitdagings wat dit meebring. Wanneer ons na die samelewing en wêreldgebeure rondom ons kyk, besef ons die erns daarvan dat ons in hierdie krom en verdraaide geslag soos ligte moet skyn (Fil 2:15). Ons is immers die lig van die wêreld wat helder moet skyn (Matt 5:14-16). Sodoende sal ons ’n baken van hoop vir Generasie Z wees.

Gen Z duld nie afgewaterde programme en speel-speel-kerk nie
Vriende, ons moet die noodkreet van Gen Z hoor! Hulle gaan nie doeltreffend bereik en bedien word met afgewaterde programme wat meer op genot as op ’n egte ontmoeting met God fokus nie. Dit is ’n misleidende idee dat jongmense met pret “getrek” moet word. Hulle het ’n honger en ’n dors na ’n egte Skrifgefundeerde belewenis met God. Gen Z wil weet wat om te glo, hoekom hulle dit moet glo – en hulle wil sien hoe die Christelike geloofsgemeenskap waaraan hulle behoort, dit passievol uitleef. Hulle wil nie vermaak word nie, hulle wil leer wat dit beteken om ’n dissipel van Jesus te wees. Natuurlik kan die beskikbare tegnologie en sosiale netwerke met groot sukses hiervoor ingespan word. Ons moet tog nie onder die wanindruk verkeer dat egtheid nie in nuwerwetse vorme aangebied kan word nie. Wees kreatief en eg. Bereik hulle só!

Dissipelskap is meer as net ’n goeie intensie
Ons moenie halwe werk doen nie. Wat word hiermee bedoel? Soms is ons so hard besig om Gen Z te vertel hoe verkeerd sekere dinge is – sonder dat ons hulle leer hoe hulle reg moet lewe. Ons moet hulle toerus om staande te kan bly. Daarom is dissipelskapsopleiding uiters noodsaaklik. Hulle wil graag meer oor Jesus leer en touwys gemaak word oor wat dit behels om een van sy dissipels te wees deur ander toegewyde dissipels van Jesus Christus wat bereid is om na kritiese vrae te luister. Hierdie dissipelskapsopleiding moet beslis ook verduidelik dat God Hom ontferm oor dié wat in armoede leef, verniel of geboelie word en uitgeworpe is – juis omdat Gen Z daarvoor bekend is dat hulle hul met missionale intensionaliteit sal verbind tot verdienstelike sake. Hulle wil dus sien dat dissipelskap uitgeleef word en nie net ’n leë belofte is nie. Hulle wil uitreik met die Goeie Nuus van die hoop wat daar in Christus is. Help hulle hiermee!

Hoe kan ons Gen Z dus help?
Ontwikkel beter begrip vir húlle indrukke van die wêreld. Leef Skrifgefundeerde Christelike beginsels en dissipelskap met oortuiging uit, want hulle gaan nie geflous word deur die klatergoud van voorgee nie. Moenie ophou om vir en saam met hulle te bid nie.

PHILIP DE JAGER – MTh (praktiese teologie) (UVS), direkteur van opleiding by KDTA

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 04/11/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here