Geskryf deur: Artikelbron: facebook.com/tafelberggemeente
Daar is geskiedenis gemaak in die NG Kerk verlede week toe die Tafelberg-gemeente in sentraal-Kaapstad aangekondig het dat hy sy affiliasie met die NG Kerk opskort.
Die volgende verklaring is op die kerk se Facebook-blad uitgereik:
AKTE VAN OPSKORTING VAN DIE KERKVERBAND
met die
RING VAN KAAP DIE GOEIE HOOP
en die
SINODE VAN WES- EN SUID-KAAPLAND
en die
ALGEMENE SINODE VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK
• Aangesien die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg onwrikbaar staan by die Bybel as
die heilige en onfeilbare Woord van God, en
• aangesien die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg glo dat die leer soos vervat in die
drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse
Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls,
ooreenkom met die Woord van God, en
• aangesien gemeentes, ampsdraers en lidmate van die Ring van Kaap die Goeie Hoop, die Sinode
van Wes- en Suid-Kaapland en dosente by die teologiese opleiding aan die Universiteit van
Stellenbosch nie meer hierdie leer getrou verkondig en uitleef nie, en nie dwalinge wat met
hierdie leer in stryd is, weerlê en uit die kerk weer nie, en
• aangesien daar by meerdere vergaderinge van die kerkverband nie aan die kerklike orde gehou
word nie, en
• aangesien die kerkverband nie met aandag en ywer besig is om die Koninkryk van God in ons
geknelde land uit te brei deur die bevordering van die kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid
aan die Drie-enige God nie, en
• aangesien predikante met hulle gemeentes en dosente met hulle studente onnadenkende,
onkritiese en selfs roekelose en onverskrokke navolgers van die tydsgees geword het, op
relatiewe en subjektiewe wyse met die Bybel omgaan, eie inhoud aan Bybelse waarhede oor die
huwelik en seksualiteit, saamwoon van ongetroudes, die bestaan van die Bose en ander
teologies-dogmatiese en teologies-etiese sake gee, en as bondgenote optree van ideologies
gedrewe groepe wat die kerk en kerklike vergaderinge binnedring en die kerk en
kerkvergaderinge vir hulle eie agenda gekaap het, en
• Aangesien ampsdraers en lidmate van die kerk, wat met die Woord van God, die Belydenis en die
Kerkorde as maatstaf die werk van vergaderings en leidende persone beoordeel, se gegronde
besware geïgnoreer, geminag, verdraaid voorgestel, liefdeloos geag, valslik weerlê en selfs
uitgedaag word, en
• aangesien die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg sy besware op ordelike en
grondige wyse aan die kerkverband bekend gemaak het en vir 4 (vier) jaar daaroor gedoleer het,
het die kerkverband weinig, indien enigsins, daarna geluister, daaroor met die gemeente in
gesprek getree en daarvoor ’n oplossing gesoek deur herderlike sorg, versoeningsaksies, kerklike
mediasie of die hantering daarvan as ’n kerklike geskil, en
• aangesien die Ring van Kaap die Goeie Hoop deur sy gevolmagtigdes nou die weg van
konfrontasie gevolg het deur een van die leraars en die leierouderling op vervolgsugtige,
ongemagtigde en kwaadwillige wyse aan te kla, die selfstandigheid van die gemeente daardeur
aangetas het, spanning in die gemeente aangewakker het en die probleem by bepaalde persone
en nie by hulleself en hulle eie verdagmakende en verdelende optrede gesoek het nie,
besluit die kerkraad die volgende:
1. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg, handelend as Tafelberg Gemeente, hou op
om ’n dolerende gemeente te wees, nadat die doel van dolering, naamlik om die kerkverband op te
roep om terug te keer na die Woord van God alleen (sola scriptura), na 4 (vier) hartseer jare nie op
bekering en berou uitgeloop het nie, maar steeds deur die kerkverband in kerkvergaderinge en by
die teologiese opleiding teengestaan is.
2. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg, synde ’n regspersoon in eie reg en volledig
kerk, skort met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, seggenskap oor eiendom,
finansies, werksaamhede, diensverhoudinge, ampsbevoegdheid en lidmaatskap van enige fonds en
organisasie, die verband met die Ring van Kaap die Goeie Hoop, die Sinode van Wes- en SuidKaapland en die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op, omdat so ’n stap
voor God in die lig van sy Woord regverdig kan word.
3. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg behou haar identiteit as Nederduitse
Gereformeerde Kerk soos uitgedruk in die Bybel en die Belydenis.
4. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg is nie van voorneme om ná opskorting van
die kerkverband as ’n onafhanklike gemeente te bly voortbestaan nie en sal, soos dit ’n
gereformeerde kerk betaam, bly soek na gemeentes, ringe en sinodes met wie daar op dieselfde
grondslag, wat leer en lewe betref, in verband getree kan word.
5. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg behou die dienste van die leraars en ander
besoldigde amptenare. Die Kerkraad of sy gevolmagtigde sal vanaf die datum van die opskorting van
die kerkverband uitsluitlik die diensverhoudinge in die gemeente bestuur en oor tug en dissipline,
ook wat die ampsdraers betref, beslis.
6. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg se opskorting van die kerkverband verander
nie aan die lidmaatskap van die gemeente en die uitoefening van enige lidmaatskapregte nie. Dit sal
egter enige lidmaat vrystaan om van gemeente te verander, indien so ’n lidmaat aan ’n gemeente
wil behoort wat steeds in verband met die Ring van Kaap die Goeie Hoop, die Sinode van Wes- en
Suid-Kaapland en die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan. Insgelyks
verander die ampsposisie, ampsverpligtinge en ampsvoorregte in die Gemeente op geen wyse nie.
7. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg se besluit tot opskorting van die
kerkverband is onmiddellik van krag, maar word op twee agtereenvolgende Sondae aan die
Gemeente gekommunikeer met die oog op enige konstruktiewe inset vanuit die Gemeente wat
betref die verdere pad vorentoe vir aanvullende goedkeuring deur die Kerkraad. Die enigste
voorwaarde vir die bekragtiging van die besluit is dat die meerderheid van die Kerkraad en die
meerderheid van die lidmate met die besluite saamstem. Sou daar enige versoek tot revisie van die
besluite van ’n ingeskrewe lidmaat ontvang word, sal die Kerkraad dit oorweeg en daaroor beslis.
8. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg sal ná opskorting van die kerkverband
ingevolge die artikels van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk soos tot en met die
Algemene Sinode van 2015 die geval was, bly funksioneer, maar dan net soos op die Gemeente as
die kerk van toepassing en met uitsluiting van die artikels wat die kerkverband reël, totdat daar deur
die Gemeente tot kerkverband toegetree sal word met gemeentes wat Artikel 1 van die Kerkorde nie
net geheel en al onderskryf nie, maar ook in leer en lewe volkome handhaaf.
9. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg neem hierdie besluite in biddende
afhanklikheid van en in onvoorwaardelike gehoorsaamheid teenoor die Here van die kerk.
Besluite geneem by die Kerkraadsvergadering gehou op 22 Junie 2023.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 28/06/2023
Foto: facebook.com/tafelberggemeente
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








