Geskryf deur: Alex Pollock incontextinternational.org Artikelbron:
Sondag 24 September, het 30 gewapende Serwiërs ’n polisiepatrollie in die rustige dorp Banjska, in die noorde van Kosovo, aangeval. Een polisieman is dood, terwyl nog een beseer is. Ná die skietery het die Serwiërs hulle in ’n Ortodokse klooster gaan verskans.
In ’n poging om hulle te vang, het die Kosovaarse polisie drie aanvallers gedood en die res het uit die klooster ontsnap en te voet weggekom. Die insident is beskou as ’n verskerping van maande se toenemende spanning tussen Serwië en Kosovo (’n betwiste gebied wat deur slegs die helfte van die VN-lidstate as onafhanklik erken word), omdat die versterking van Serwiese troepe langs die Kosovo-grens soortgelyk is aan Rusland se gedrag voordat dit Oekraïne in Februarie 2022 binnegeval het.
Ná die insident het die hoof van NAVO, Jens Stoltenberg, die ontplooiing van ekstra NAVO-troepe na die streek gemagtig om “die huidige situasie te hanteer.” Hierdie ontplooiing is die tweede vermeerdering van NAVO-troepe in Kosovo in die laaste drie maande. Die Britse ministerie van verdediging het ook gesê dit is gereed om ’n bataljon van tussen 500-650 soldate te stuur om te help om die situasie te stabiliseer en Amerika het Serwië aangespoor om sy militêre teenwoordigheid langs die grens te verminder. Daar is tans ongeveer 4 500 NAVO-geleide magte in Kosovo.
Die ontdekking van ’n geheime voorraad Serwiese wapens, wat gepantserde troepedraers, landmyne en militêre missiellanseerders insluit, het die vrese laat toeneem dat die Serwiese regering, eerder as ’n groep gewapende burgers, agter die aanval was. Die visepresident van Serb List (die mees prominente Kosovo-Serwiese politieke party) het homself die Vrydag ná die insident uit sy posisie verskoon nadat hy verantwoordelikheid aanvaar het vir die organisering van die aanval, maar het beweer dat hy nie instruksies of bystand van die Serwiese regering ontvang het nie. Ondanks hierdie verklaring hou die Kosovo-regering aan om Belgrado te blameer vir die toename in vyandelikhede.
Ná die verbrokkeling van Joego-Slawië in die 1990’s het Kosovo se Albaniese meerderheidsbevolking op onafhanklikheid van die Serwiese heerskappy aangedring. Die stryd vir Kosovaarse onafhanklikheid het gelei tot ’n gewelddadige wraakaanval deur Belgrado, wat NAVO se ingryping tot gevolg gehad het. ’n Grootskaalse bombarderingsveldtog deur NAVO-troepe het gelei tot Serwië se onttrekking uit die gebied. Kosovo het in 2008 sy onafhanklikheid verklaar en baie Westerse lande erken dit as sulks, maar Serwië nie. Van Kosovo se ongeveer 1,6 miljoen inwoners is sowat 92% etniese Albanese en 6% is etniese Serwiërs.
Wat die konflik verder bemoeilik, is Westerse amptenare se bewering dat Rusland Serwiese bondgenote gebruik om spanning in die streek aan te wakker (spesifiek in Kosovo en Bosnië) uit frustrasie oor die Weste se volgehoue ondersteuning van Oekraïne.
Die Balkan-konflik word dikwels nie net in etniese, maar ook godsdienstige terme gesien. Serwië is hoofsaaklik Ortodokse Christene (ongeveer 78,4% volgens die Joshua-projek, teenoor 0,72% evangelies), en Kosovo is oorwegend Moslem (ongeveer 90% volgens dieselfde bron). Met net meer as 4%, is Kosovo se Christen-bevolking klein. Na beraming is daar slegs 0,20% wat hulself as evangelies identifiseer (daar is min tot geen bewyse van evangeliese groei volgens die Joshua-projek). Die Christendom versprei stadig in Kosovo, omdat die diepgewortelde etniese konflik daartoe lei dat baie in die gebied Christendom met die Ortodokse Serwië assosieer. Die wêreldwye Kerk kan bid dat hierdie diepgewortelde etniese kloof nie die verspreiding van die Evangelie sal belemmer nie, maar eerder ’n praktiese demonstrasie kan wees van wat dit beteken om Christelike eenheid en versoening na te jaag.
Ná Moldawië is Kosovo Europa se tweede armste land, wat beteken dat daar baie praktiese maniere is waarop die Kerk in die gemeenskap betrokke kan wees. Ekonomiese struikelblokke en dekades van konflik het baie Kosovaars sonder fisiese hulpbronne gelaat. As gevolg hiervan kan die Kosovaarse Kerk, al is dit klein, ’n agent vir positiewe verandering wees, beide prakties en geestelik, deur bloot die boodskap in Jakobus 2:15-17 uit te leef: “Sê nou daar is ʼn broer of ʼn suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat spanning sal afneem in die Balkan-streek en dat vrede herstel sal word;
- dat Kosovaarse gelowiges na hulle bure sal uitreik met ʼn boodskap van hoop, eenheid en herstel wat uiteindelik ongelowiges tot ʼn reddende kennis van Christus sal lei; en
- dat die wêreldwye Kerk vir die Balkan-streek sal intree en dat kerke in beide Kosovo en Serwië instrumente van vrede en versoening in die hande van die Here sal wees.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/10/2023
Foto slegs ter illustrasie: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.