Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Een van Mission Aviation Fellowship (MAF) se vlieëniers, Ryan Koher, sowel as twee Suid-Afrikaanse sendelingvrywilligers is op 4 November 2022 in hegtenis geneem terwyl hulle voorberei het om voorrade na weeshuise in die noorde van Mosambiek te neem. Meer as twee maande het verloop en ten tyde van ter perse gaan, word hulle steeds in ’n maksimumsekuriteitsgevangenis in Mosambiek aangehou sonder enige formele aanklag.
OPSOMMING VAN GEBEURE VANAF 2022
Koher (31), ’n vlieënier vir Ambassador Aviation Ltd. (AAL) wat ’n vennoot van MAF is, word saam met Willem du Plessis (77) en Eric Dry (69) in Mosambiek aangehou omdat hulle verdink word van steun aan rebellemagte in die land.
Koher-hulle is in hegtenis geneem voordat die huurvlug met voorrade soos babaformule, kospreserveermiddels en vitamiene vir weeshuise naby Montepuez, Mosambiek, kon vertrek. Tydens die normale sekuriteitskandering by die lughawe het die polisie alarm gemaak oor sekere vitamiene, oor-die-toonbank-medisyne en kospreserveermiddels.
Onregmatige beskuldiging
Die drie mans is tronk toe gestuur op onbepaalde aanklagte en niks is nog op skrif ingedien nie. Die vermoede is dat die mans onder verdenking is weens die vlugbestemming in die noorde van Mosambiek. Die AAL is egter lankal besig om juis die slagoffers van die rebellemagte te help, insluitend die ontruiming van onskuldige inwoners ná ’n aanval in Maart 2021.
MAF in Mosambiek
MAF het in 1999 begin om die mense van Mosambiek te dien en in 2014 het AAL die operasionele entiteit as ’n geregistreerde huurvlugdiens in die land geword. Die vlugte sluit tipiese mediese sorg en ontruimings in.
In 2021 het AAL meer as 800 mense uit Afungi ontruim ná rebellemag aanvalle op Palma in die Cabo Delgado-provinsie geloods het. AAL het ook 24 476 kg kos, medisyne en noodlenigingsvoorrade aan die gebied verskaf en 29 hulpwerkers en 32 mediese werkers vervoer. Daarbenewens is mediese ontruimingsvlugte vir etlike maande lank aan die einde van 2021 en vroeg in 2022 in die gebied uitgevoer terwyl die streek van die aanvalle herstel het.
Willem du Plessis en Eric Dry, enkele dae voordat hulle na Mosambiek gevlieg het
Die Koher-gesin
“Ryan is ’n barmhartige en saggeaarde individu,” het MAF se president en uitvoerende hoof, David Holsten, gesê. Ryan en sy vrou, Annabel, dien sedert 2019 in MAF en het in 2021 na Mosambiek verhuis. Oor die afgelope paar jaar het hulle hard gewerk om die taal en kultuur van Mosambiek aan te leer om dié wat op MAF se diens staatmaak, beter te dien. Ryan se vrou en kindertjies het soos per MAF se veiligheidsriglyne ná die voorval na Amerika teruggekeer sodat die organisasie en familie beter na hulle kan omsien en hulle kan ondersteun.
Ryan, Annabel, Hezekiah en Elias
‘God het ons voorberei’
Dit laat ’n mens se oë oopgaan wanneer jy met ’n situasie te kampe het en besef dat God jou die heeltyd voorberei het. Annabel het in Junie 2022 ’n oordenking vir die MAF se Advent Experience geskryf. Die titel van haar bydrae was, “Rus verseker in die risiko”. In Desember het sy getuig: “Ek het vandeesweek my eksemplaar van die oordenking ontvang … God het dit aan die begin van hierdie moeilike tydperk weer onder my aandag gebring om my te bemoedig. Dit is interessant om te sien hoe Hy dinge die afgelope paar jaar laat uitwerk het om ons te leer. Dít waardeur Hy ons gebring het, is nou die fondamente waarop ons kan steun.”
In ’n videoboodskap het sy ook ’n uittreksel uit Ryan se brief gelees wat hy in die tronk geskryf het: “So, die gees en vlees is altyd in stryd met mekaar. Dit dwing my telkens na die voete van Jesus waar ek my krag vind sodat die uitwerking van my geloof gemoedsrus is.”
Sy gaan voort: “God het ons ’n onverklaarbare vrede en vertroue in sy wil gegee. Net soos ’n mens in talle van Dawid se psalms kan sien, is ons trane wat om hulp uitroep, ook gemeng met lof aan God vir sy heerlikheid en goedheid.”
WAT KAN JY DOEN?
MAF en Annabel nooi jou uit om elke Woensdag saam met hulle te vas en te bid vir die vrylating van die drie mans. “Ons is geensins beperk tot een dag per week om ons versoek voor die Here te lê nie,” sê Annabel. “Ek dink aan die kerk in Handelinge 12. Toe Petrus gearresteer is, het die kerk vurig vir hom gebid en toe God vir Petrus bevry, het hy die kerk aangetref waar hulle saam besig was om te bid. Laat ons soos daardie kerk vurig bid vir die manne se vrylating en die verkondiging van God se Woord. Mag dít wees waarmee ons besig is wanneer ons die vreugdevolle nuus van Ryan se vrylating hoor.”
MISSION AVIATION FELLOWSHIP help om die geïsoleerdes te bereik. Besoek hul webtuiste mafsa.co.za vir meer inligting.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.