Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Jy het die unieke geleentheid om ’n toeris op ’n lewensveranderende avontuur te wees deur in 2023 by Geopende Deure aan te sluit op ’n reis om vervolgde gelowiges te gaan besoek. Deur die Geopende Deure Reisbediening kan jy die hande en voete van Jesus Christus wees in lande waar Christene vervolg word.
Jy kan letterlik grense oorsteek om vervolgde Christene te bemoedig deur saam met hulle te bid. Jy kan ook hulpbronne na kerke neem wat daarvoor gebid het en God vertrou om hulle van die middele te voorsien sodat hulle meer oor Hom kan leer. Jy kan in die koudste, donkerste “geslote land” wandel terwyl jy die krag van gebed ervaar en die liefde van God in jou hart vir daardie land voel brand.
Enigeen met ’n vurige liefde vir Jesus en deernis vir ons vervolgde familie wêreldwyd, kan deur ’n reis na die vervolgde Kerk ’n toeris op ’n geheime sending word.
Daar is verskillende reise waarop jy kan gaan:
• Bemoedigingsreise: Ontmoet vervolgde gelowiges, bid saam met hulle en woon moontlik ’n kerkdiens by.
• Gebedsreise: Doen voorbidding vir ons familie in Christus in hulle vaderland.
• Koerierreise: Neem broodnodige hulpbronne na lande waar daar ’n groot behoefte daaraan is.
• Jeugreise: Ontmoet/bemoedig jongmense in die vervolgde Kerk.
• Spesiale reise: Help vervolgde Christene op ’n praktiese manier.
• Virtuele reise: Ervaar die alledaagse lewe van ons vervolgde broers en susters met ’n aanlyn toer deur hulle land.
’n Hartsverandering
Sandra*, een van Geopende Deure se reisigers, het die volgende te sê gehad oor haar ervaring op haar onlangse reis saam met ons na vervolgde familie en die uitwerking wat dit op haar lewe gehad het: “Die geleentheid om ons vervolgde broers en susters te ontmoet, het my hart verander en my verhouding met God versterk. Hoewel ons as toeriste gegaan het, het ons agter die skerms ’n ander missie gehad – om ons geloofsfamilie te ontmoet en te bemoedig. Ek het groepe vervolgde gelowiges in verskillende dele van die land ontmoet. Hulle liefde vir die Here spoor ’n mens werklik aan. Hulle kon ons nie genoeg bedank vir ons besoek nie en het benadruk hoe hulle ons gebede waardeer – maar ek het besef dat dit na beide kante toe werk, aangesien ons ontmoeting my ook geïnspireer het op my geestelike reis met die Here.”
’n Lewensveranderende ervaring
“Ek het vroue ontmoet wat in hulle eie gesinne en gemeenskappe vervolg word vir hul geloof; kinders teen wie daar op skool gediskrimineer word weens hulle Christenskap en mense wat honderde kilometers ver reis om die Evangelie in landelike gebiede te verkondig. Ek het ook ’n pastoor ontmoet wat in ’n baie arm Christelike gemeenskap aan die buitewyke van ’n groot stad werk. Ondanks hulle moeilike omstandighede en uiterste armoede, kan ’n mens die liefde en vrede van Jesus in hulle oë sien.
“Ek moedig almal aan om op ’n reis te gaan en die vervolgde Kerk te gaan besoek. Dit was ’n lewensveranderende ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Daardie mense ervaar die verskriklikste vervolging, maar ongeag hulle swaarkry staan hulle sterk in hul geloof en het God innig lief.”
Die reiskalender vir 2023
Het Sandra se getuienis iets in jou geroer? Kyk dan na die Geopende Deure-reiskalender vir 2023 om te sien wanneer jy vanjaar ’n bemoediging vir ons vervolgde familie kan wees.
Tanzanië: Julie (Bemoediging)
Mexiko: 17-27 September (Teenwoordigheid/gebed/bemoediging)
Oos-Afrika: 17-24 September (Teenwoordigheid/bemoediging)
Colombië: November (Bemoediging)
Bangladesj: November (Gebed/bemoediging)
Vir meer inligting oor die Geopende Deure-reisbediening, besoek opendoors.org.za/travel of stuur ’n e-pos aan Sam by travel@opendoors.org.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.