Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die stasiewa sukkel skommelend teen ’n styl tweespoorpaadjie uit op pad na ’n bergtop in ’n ver-afgeleë deel van Kirgisië. Twee mans, een in sy 70’s, neem ’n radiosender na ’n Christen-operateur wat hulle koms opgewonde inwag. Min mense weet van hierdie drie se bestaan, maar in die hemel is daar opwinding, want binnekort gaan die Evangelie vir die eerste keer in die afgeleë gemeenskap gehoor word. Hierdie drie manne is deel van die Far East Broadcasting Company (FEBC) se bediening waarvan FEBA ook deel is.

Daar word vir die FEBA-span gebid by Church on the Rise in Blouberg

Geskiedenis is gemaak
Vir die heel eerste keer in FEBC se 77 jaar van bestaan was Afrika die gasheer vir hierdie organisasie se internasionale konferensie. Die gaste is met Suid-Afrikaanse gasvryheid in Kaapstad ontvang deur dr. Jurie Vermeulen en sy span. Selfs die berugte Kaapse weer het saamgespeel sodat die buitelandse gaste heerlike sonskyndae kon geniet!

KORT GESKIEDENIS VAN FEBC
FEBC het in 1946, net ná die Tweede Wêreldoorlog, in China begin uitsaai en hom toegespits om die Evangelie aan die mins bereikte, mees vervolgde, moeilikste nasies van die wêreld uit te saai. Die span FEBA-leiers wat ons land besoek het, is geestelike krygers wat in die voorste linies soms in groot gevaar verkeer. Hulle is besig om die geestelike atmosfeer in die wêreld een land op ’n slag te verander.

Werksaam waar die onbereikte mense van die wêreld is
Hierdie kaart is nie iets wat ’n grafiese kunstenaar “ontwerp” het nie, maar is gebaseer op sosiologiese navorsing en feite. Elke kolletjie is ’n stam, ’n taalgroep: Hoe donkerder die kol, hoe minder bereik is hulle met die Evangelie.

Elke kolletjie is ’n stam, ’n taalgroep: Hoe donkerder die kol, hoe minder bereik is hulle met die Evangelie.

“Dit het ons 2 000 jaar lank geneem om die helfte van die wêreld te bereik. Dink jy dit gaan nog 2 000 jaar neem om die res te bereik?” vra dr. Vermeulen. “FEBC is deel van die antwoord, want wêreldwyd is radio-
bediening uiters doeltreffend en die organisasie is in meer as 50 lande, waar daar meer as 150 etniese tale is. Ons werk in daardie 10/40-venster waar die onbereikte mense van die wêreld woon,” verduidelik hy.

TERUGVOER VAN DIE WÊRELD
SENTRAAL-ASIË
Rudi Wiens, die FEBC-koördineerder van Sentraal-Asië het baie van die FEBC-bedienings in dié streek begin, onder meer in Kirgisië en Kazakstan, maar ook in Rusland en die Oekraïne. Hy beskryf homself as die “oupa van FEBC”. Hy het in Siberië grootgeword en die Here leer ken deur FEBC se uitsendings. Hy is ná die val van die Sowjet-unie deur ’n voormalige KGB-agent gevra wat sy beroep is. Hy het geantwoord: “In die vredemaakbedryf.”

“O, by die VN?” wou die agent weet. “Nee, nog hoër op,” was Rudi se antwoord. “Ons is vredemakers, is ons nie?” het hy vir die gehoor gesê en beduie na Eduard en Oleg van die Oekraïne en Rusland wat soos broers langs mekaar sit.

Dit was inderdaad roerend om die broederlike liefde tussen Eduard, die direkteur van FEBC Oekraïne, en Oleg, die administratiewe direkteur in Rusland, te sien. Dié broederlike liefde het ook gestrek na die leiers uit onder andere Kirgisië, Mongolië, Australië, die Filippyne, Kanada, Amerika, Pakistan, Indië, Kazakstan, Nieu-Seeland, Engeland, Suid-Afrika, Tsjad, Mosambiek en Malawi, wat by die konferensie teenwoordig was.

DIE OEKRAÏNE EN RUSLAND
Eduard is van mening dat FEBC se span in die Oekraïne spesiek gebore is vir diens aan hulle nasie in hierdie onstuimige tyd. Juis weens die ontsettende omstandighede soek die Oekraïners na ’n ware verhouding met Jesus. Hoewel van die FEBC-radiostasies vernietig is, saai die ander steeds uit na ongeveer vyf miljoen luisteraars en hulle hulplyn is ’n lewensboei vir talle getraumatiseerde mense.
“Moenie ophou bid vir die Oekraïne nie – ons wandel in die geloof en nie volgens wat ons oë sien nie (2 Kor 5:7),” is Eduard se boodskap aan ons.

Oleg van Rusland (links) en Eduard van die Oekraïne

In Rusland moes FEBC slim te werk gaan nadat hulle al hul stasies verloor het weens nuwe wetgewing. Nou bereik hulle egter 8-15 miljoen mense deur sosiale media. “Julle gebede hier in Suid-Afrika bou ’n geestelike brug na ons toe,” sê Oleg. “Ek is in Rusland, maar voel julle gebede en weet dat julle skouer aan skouer met ons staan. Dankie vir julle ondersteuning.”

AFRIKA
Die FEBA-stasies in Afrika saai dikwels in oorlogsones uit en in lande soos Mali en Mosambiek het hulle te kampe met djihadiste. Personeel is weens hulle werk in die media openlike teikens en die bedreiging van ’n gewelddadige dood is ’n werklikheid. “Mense praat losweg oor vervolging, maar baie van hierdie ouens se lewens word elke dag bedreig. In Malawi het 13 000 mense sedert verlede jaar deur FEBA se bediening tot bekering gekom, baie van hulle Yao-Moslems waarvan daar 6,6 miljoen in Malawi is. Ongelukkig word Christene in Malawi vervolg; baie van hulle word aangerand en uit hulle dorpies verjaag. Dit kos hierdie Christene iets om Jesus te volg.

PAKISTAN
FEBC se taak in Pakistan is groot. Uit die bevolking van 220 miljoen mense is slegs 2% Christene. “Jy kan jou voorstel hoe moeilik dit vir daardie 2% is, maar God is met ons. Hy beskerm ons,” sê Saleem Shahzad, die direkteur van FEBC Pakistan. Die stasie ontvang ± 5 000 reaksies van luisteraars per maand. “Hou aan bid vir ons bediening in gevaarlike plekke. Toe Petrus in die tronk was, het die kerk op hulle knieë vir hom gebid. Ons versoek daardie tipe gebed van julle omdat ons ook in ’n sekere sin in die ‘tronk’ is. Mag die Here ons gebruik om die hele nasie uit die gevangeskap van sonde te bevry.”

Ondersteun ons broers in die voorste linies
Hierdie was slegs ’n druppel in die emmer van al die terugvoer en getuienisse. Laat ons egter gehoor gee aan hulle versoeke vir gebed en steun, laat ons luister na die opdrag van 1 Tessalonisense 5:12-15: “Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk… Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk… Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.”

Verenig Christene
Die radiostasies vervul nog ’n belangrike doel: Hulle verenig Christene en bring verskillende denominasies bymekaar. In Tsjad het 5 000 Christene van verskillende denominasies onlangs deur die nag by ’n stadion saamgebid tydens ’n byeenkoms wat deur Radio Shahada van FEBC aangebied is. Thomassin, die direkteur van Radio Shahada, getuig ook dat as die Christene nie so voorbidding gedoen het nie, die land al lankal in vlamme sou opgegaan het. “Ons het julle voorbeeld in Suid-Afrika gesien – ek onthou die groot gebedsbewegings van die vroeë 90’s in Suid-Afrika.”

Kyk na hierdie kort video van die drie mans oor wie daar vertel word aan die begin van die artikel.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf
Die FEBA-afvaardiging: Ds. Geo en Ottilie de Kock, dr. Jurie en Madeleine Vermeulen en pastoor Muller en Annie Crauwcamp. Dr. Vermeulen is die nasionale direkteur van FEBA SA en die koördineerder vir FEBA Afrika

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

1 COMMENT

  1. Feba het in my tyd by die organisasie in 2005/06 reeds as gasheer opgetree vir beide FEBC en FEBA lede se deelname aan ‘n Internassionale konferensie wat by Hartebeespoortdam aangebied is. Ek merk dat jul artikel hierdie onlangse konferensie gebeurtenis as die eerste wat in 77 jaar in SA plaasvind stel?

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here