Geskryf deur: Cfan
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Wat in September in Zambië gebeur het, is niks minder as geskiedkundig en wonderbaarlik nie. In een week is daar gelyktydig 25 aande van veldtogte in vyf verskillende stede in die land gehou en dit het tot honderdduisende reddings en ontelbare getuienisse aanleiding gegee.
Dit is verstommend – nie net vir die logistieke uitdagings wat te bowe gekom is nie – maar ook omdat dit deur ’n span vermag is wat geheel en al opgelei en gemobiliseer is deur die Christ for all Nations Evangelism Bootcamp. Daar was twee Bootcamp-gegradueerde evangeliste in elk van die vyf stede. Hulle het vier uit die vyf aande in hulle stad gepreek en bedien. Evangelis Daniel Kolenda het van veldtog tot veldtog gereis en een aand by elke plek gepreek.
’n Vrou wat met maagkanker gediagnoseer is, het tydens gebed vir genesing gevoel dat Jesus haar genees het. Die volgende dag het ’n dokter bevestig dat daar nie meer kanker was nie. Sy het op die laaste aand daarvan kom getuig.
’n Dubbele wonderwerk! ’n Vrou wat drie jaar lank aan borskanker gely het, het getuig dat die kanker ver-dwyn het. Sy was ook drie jaar lank blind, maar nou kan sy weer sien.
LUSAKA KANYAMA
Evangeliste Alejandro Escobar en Jacob Ebersole
Op die derde aand het ’n jong vrou na die verhoog gekom om te getuig dat sy MIV-positief was, maar haar lewe by die veldtog aan Jesus oorgegee het. Sy het haar drie keer laat hertoets en was telkens MIV-negatief! Evangelis Jacob Ebersole het getuig: “Sy het vir ’n lang tyd in duisternis gelewe en het as straatvrou ’n bestaan gemaak. Sy het baie pyn en siekte gely. Haar getuienis het ons almal in trane gehad. Die meeste van ons op die verhoog het gehuil. Dit is ’n wonderwerk. Jesus het hierdie jong vrou uit die put van die hel geruk en haar voete op die vaste rots geplaas.”
Tony kon nie hoor nie en het die gebaretaalskool bygewoon. Hy het 20 jaar lank gehoorprobleme gehad, maar tydens die gebed is hy genees en kan nou duidelik hoor.
SOLWEZI
Evangeliste David Rotärmel en Virginnia Logan
’n Vrou kon vir meer as 20 jaar lank nie behoorlik loop nie omdat haar bene vreeslik geswel het. Die swelling het verdwyn en sy kon saam met evangelis Virginnia Logan spring en rondhardloop. Evangelis David Rotärmel het gesê: “Ons het die Heilige Gees ervaar en ’n vars uitstorting van sy teenwoordigheid gevoel. Dié wat na Jesus gehonger het, is gevul. Ons het vir die siekes begin bid. Die enigste verduideliking vir wat daarna gebeur het, is dat Koning Jesus self tussen die mense begin beweeg het. Wonderwerke het oral gebeur. Ons jubel saam met die mense van Zambië oor alles wat die Here gedoen het – ons is dankbaar vir elke lewe wat oorgegee is, vir elke besluit om Jesus te volg, vir elke genesing en vir elke oomblik toe ’n man, vrou of kind die Vader se liefde gesmaak het. Ons is vol vertroue dat
God wat die goeie werk begin het, getrou is om dit te voleindig.”
Aaron is tien jaar oud. Hy kon sy hele lewe lank (nege jaar lank) nie regop staan of sy hand reguit maak nie, maar tydens die gebed is hy volkome genees.
KITWE
Evangeliste Roselyne Aaron en Braidwood Rathbone
’n Hele bende gee hulle lewens aan Jesus oor
Evangelis Kolenda het ’n eenvoudige Evangelieboodskap in Kitwe verkondig en tienduisende het gereageer, insluitend ’n bende wat welbekend is in die streek. Hulle het getuig dat hulle al jare lank mense in die streek terroriseer; daardie nag het hulle hul lewens aan Jesus oorgegee! Hulle het voor die skare verklaar dat hulle nooit na hul ou weë sal terugkeer nie.
’n Bejaarde man, sir Alex, se hele liggaam was een jaar lank deurtrek van pyn. Dit was vir hom onmoontlik om êrens heen te loop. Hy kon weens hierdie toestand nie eens na sy plaaslike kerk toe gaan nie. Jesus het hom genees. Al die pyn in sy liggaam het verdwyn en sy krag is vernuwe soos dié van ’n jongman. Almal kon hom sien loop, spring en hardloop.
KASAMA
Evangeliste Joe Turnbull en Tyrelle Smith
Evangelis Daniel Kolenda het vertel: “Nadat ek gepreek het, het ’n toordokter vorentoe gekom en haar lewe aan Jesus oorgegee. Toe bring sy ’n sak met juju (toorgoed) en ander komberse wat vir toorderyrituele gebruik is. Sy het dit alles in die vuur gegooi. Sy het voor die massiewe skare gestaan en in die openbaar haar geloof in Christus bely en gesê sy sal Hom ‘vir ewig en altyd’ dien.”
In nog ’n kragtige oomblik het die skare (insluitend ’n lid van die koninklike familie van ’n plaaslike stam asook die plaaslike biskoppe) hulle sonde, die aanbidding van ’n groot afgod van ’n krokodil, voor God bely. Iemand het toe ’n beeltenis van daardie krokodil in die vuur verbrand terwyl ander toorgoed ook aan die brand gesteek is.
Die werk is eers voltooi wanneer Jesus terugkom! Jy kan deel wees van hierdie groot oes deur vir ons te bid en die bediening finansieel te ondersteun. Dankie dat jy saam met ons staan.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.