Geskryf deur: FEBA SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die Wêreldwaarnemingslys – ’n jaarlikse lys van die 50 lande wêreldwyd waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar – het Noord-Korea die laaste tien jaar agtereenvolgens bo aan die lys. Die afgelope 65 jaar saai die Far East Broadcasting Corporation (FEBC) Korea deur AM- en kortgolfradio na hierdie vervolgde nasie uit.

Radio steek grense oor
Christen-vervolging is die ergste in Noord-Korea. Dit is die moeilikste land om die Evangelie in te verkondig. Dit stuit FEBC egter glad nie; die radio-uitsendings reik oor berge en geografiese hindernisse heen en bereik lande waar die Evangelie verbode is – die radiogolwe ken geen grense of mure nie.

Evangelisering van nasies
Sedert HLKX – die eerste Suid-Koreaanse radiostasie – in 1956 gestig is, is baie klem gelê op die evangelisering van kommunistiese lande soos Noord-Korea, China, Rusland en Mongolië. Dit is lande waar sendelinge nie toegelaat is nie. FEBC Korea het ontwikkel in ’n groot Christelike radionetwerk wat bestaan uit dertien FM- en twee AM- en kortgolfstasies, waarvan drie op die Noord-Koreaanse grens geleë is en direk na die geïsoleerde land uitsaai. Die AM- en kortgolfradiostasies bereik die hele Noord-Korea en het gelei tot groot getalle mense wat tot redding kom deur geloof in die Here Jesus Christus.

Programuitsendings
Die span wat vir die uitsendings verantwoordelik is, bestaan uit vervaardigers en vrywilligers wat almal uit Noord-Korea oorgeloop het en hulle getuienisse deel in die hoop dat dit ander sal inspireer om ook hulle lewens aan Christus oor te gee. Die programuitsendings is uitgebrei van twee uur per dag tot vier en twintig uur per dag, sewe dae per week en bestaan uit die afdelings: geloof en volwassenheid (69%), liberale en algemene onderwerpe (17%) en aktuele sake (14%).

Voorsien luisteraars van ontvangtoestelle
FEBC Korea vervaardig en saai nie net noordelike streeks-programme uit nie, maar is ook daartoe verbind om Noord-Koreaanse mense, wat nie toegang tot mediablootstelling het nie, te help om na die uitsendings te luister deur hulle van radio-ontvangtoestelle te voorsien. Dit word op verskeie maniere gedoen, soos byvoorbeeld deur sende-linge of om ballonne te gebruik.

Hoekom word hierdie uitsendings nie geblokkeer nie?
Dit is uiters duur en amper onmoontlik om AM- en kortgolfradio te blokkeer. FEBC glo ook nie dat Noord-Korea baie bekommerd is oor die uitsendings nie, want die stasie is baie versigtig oor die manier waarop Evangelieboodskappe geformuleer word. Die stasie weet dat sy uitsendings luisteraars bereik, danksy die kragtige getuienisse wat ontvang word van Christene wat van Noord- na Suid-Korea oorloop. In Noord-Korea is dit gelukkig nie onwettig om ’n radiotoestel te besit nie, aangesien radio’s gereeld vir propagandaveldtogte in die land gebruik word.

Gesinne ontmoet vir Christus
FEBC Korea, FEBA se bedieningsvennote, stuur al dekades lank radio’s na Noord-Korea, spesifiek AM-radio’s. Mense is desperaat om enigiets van die buitewêreld te hoor en wanneer hulle die Evangelie hoor, is dit kragtig. Nie net word die individu wat die boodskap hoor dan dikwels ’n Christen nie, maar die res van die gesin begin ook glo.

Trane van vreugde én verdriet
Die hoof- uitvoerende bestuurder van FEBC in Amerika, Ed Cannon, het die voorreg gehad om tyd by vlugtelingkerke in Suid-Korea deur te bring. Die Noord-Koreaanse vlugtelinge verkies om almal bymekaar te bly – daar is gemeenskappe van sulke Noord-Koreaanse vlugtelinge. In Suid-Koreaanse kerke is daar subgroepe van Noord-Koreaanse vlugtelinge in hulle gemeentes. Ed het ’n Noord-Koreaanse koor by ’n Suid-Koreaanse kerk hoor sing. Hoewel hy nie ’n woord kon verstaan wat hulle gesing het nie, het hy nog nooit sulke intense emosie op die gesigte van koorlede gesien nie. Toe hy die tolk vra waaroor die koor so emosioneel is, het die tolk gesê: “Dit is trane van vreugde vir ons vryheid en trane van verdriet oor ons families wat steeds onder die marteling van die Noord-Koreaanse regering ly.”

’n Luisteraar se getuienis
Hiermee ’n getuienis van ’n vrou wat FEBC se stasie gekontak het nadat sy na die uitsendings geluister het:

“In 2014 het ek my tuisdorp in Noord-Korea verlaat en die rivier na China oorgesteek. Tydens my reis deur Asië is ek in die tronk gegooi. Terwyl ek daar was, het God ’n sendeling met die naam Ester na my toe gestuur. Toe ek Ester ontmoet, het sy die liefde van Jesus Christus aan ons in die sel betoon en ook wat dit werklik beteken om ’n Christen te wees. Sy het elke dag gebid; vir almal in elke sel. Sy het probeer om almal wat sy ontmoet het te evangeliseer. Woorde kan nie die pyn beskryf wat ek ervaar het nie. Dit was net deur God te loof en tot Hom te bid dat ek die donkerste ure van my lewe kon oorleef. Hulle het vir my en my selmaat vrot mieliemeel gevoer met ’n paar stukkies tofu daarin. Ons is gedwing om harde arbeid te verrig, die hele dag lank, sonder enige duidelike rede of uitkoms. Vyftig tot sestig mense is in hierdie klein spasie ingedruk. Ek het Christus in die moeilikste tyd van my lewe ontmoet, maar ek kon daardie tye oorleef met die Here wat langs my gestaan het. Ná my vrylating is ek na Suid-Korea waar ek met hartversaking gediagnoseer is. My swak gesondheid kon my egter nie keer om God lief te hê nie. Ek het stadig maar seker in ’n sorgsentrum aangesterk. Jesus Christus is die enigste weg en die waarheid. Ek glo dit met my hele hart en sal aanhou om vir my mede-Noord-Koreaanse oorlopers in te tree en te bid.”

VAT HANDE MET FEBA
As jy gelei voel om kragte saam te span met FEBA, nooi ons jou om kontak te maak met die organisasie. Besoek gerus hulle webtuiste by febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here